Skrywer: Alita Steenkamp
Byna twintig jaar gelede het ons van die jong kunstenaar met die regop blonde hare bewus geraak: die een wat in 2002 die ATKV se Crescendo-kompetisie met sy “Sally Williams Nougat” gewen het. Jak de Priester, wat dié tydlose liedjie geskryf het, het uit die staanspoor bewys hy is geen eendagslelie wat net so vinnig verwelk soos wat hy begin blom het nie. Sedertdien het hy ʼn onmisbare baken in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld geword.
Dit was ʼn moeilike jaar en ʼn half wat agter hom lê, sê Jak gelate, maar hy is geensins op moedverloor se vlakte nie. Die opskort van kunstefeeste, openbare optredes, teater en vele ander aspekte van die uitvoerende kunste weens drastiese inperkingsmaatreëls wat die COVID-pandemie te weeg gebring het, was dodelik vir die loopbane van baie kunstenaars. Dit het beslis kreatiewe denke geverg om kop bo water te hou. Jak lag en sê dis juis in hierdie tyd wat hy ʼn nuwe lewensmotto aangeneem het: Byt vas!
Die afgelope jaar het egter ook opwindende nuwe dinge vir Jak en sy gesin beteken. Hulle het verlede jaar Oktober besluit om van die noorde te trek na ʼn eiendom in Kleinmond waar hy met ʼn restourasieprojek besig was. Die skool in Pretoria waar die kinders toe nog skoolgegaan het, het voortgegaan met afstandsonderrig en hulle kon dus sonder enige moeilikheid hulle skooljaar in Kleinmond voltooi.
“Ek dink van almal het die kinders die moeilikste aangepas. Daar was nie eers vir hulle kans om hulle skoolmaats te groet nie, want die skool was nog gesluit. Die tydperk wat ons in Kleinmond gebly het, het ons egter besef dat ons dalk sal moet kyk na ander blyplek om voorsiening te maak vir almal se behoeftes. My oudste seun, Jamie, speel tennis, my dogtertjie, Mija, dans en ek wil vinnig by die lughawe uitkom wanneer ek êrens heen moet vlieg. Ons het gaan sit en somme maak, en verskillende opsies oorweeg en ons keuse het op Somerset-Wes geval,” gesels Jak.
Aan die begin van Februarie is Jak en sy gesin toe Somerset-Wes toe, ʼn keuse wat almal geval. Hulle geniet dit om naby die see te wees, in ʼn wonderskone area te woon waar daar goeie skole vir die kinders is. Al was dit taamlik traumaties om twee maal binne ses maande te trek, soos enigeen wat al deur ʼn verhuising is sal weet, is hulle nou tuis op Somerset-Wes.
ʼn Ander nuwe wending in Jak se lewe is dat hy van einde verlede jaar by Chas Everitt op Stellenbosch werksaam is. Hy het in November verlede jaar by hulle jaareindfunksie gesing en die eienaar het hom uitgenooi om daar te kom werk. Jak het nog altyd ʼn belangstelling in eiendomme gehad en het al verskeie projekte aangepak waar hy ʼn eiendom gekoop het, ʼn paar veranderings aangebring en opgeknap het, net om dit dan weer te verkoop. Hierdie het vir hom na ʼn wonderlike geleentheid geklink om in onsekere tye ʼn bykomende inkomste te verdien.
“Met die nuwe lockdown wat aangekondig is en al die feeste wat laat weet het dit gaan steeds nie in 2021 plaasvind nie, het ek besef daar wag nog ’n hele jaar van onsekerheid. Ek het besluit om die geleentheid by Chas Everitt aan te gryp. Nou is my een groot doelwit om teen volgende jaar my kwalifikasies as eiendomsagent te verwerf. Gelukkig kan en mag ek nou al die werk doen, en dit bly ʼn heerlike leerproses,” sê hy.
In hart en siel ’n kunstenaar
“Om weer daar op die verhoog te kon staan, was net fantasties. Dis moeilik om die gevoel te beskryf. Daar gebeur iets binne in jou wat jy nie kan stop nie. Dan weet ’n mens dis jou ware passie en iets wat jy nie kan laat gaan nie.”
Jak se bewonderaars hoef egter nie te vrees dat hy voortaan sy musiekloopbaan gaan afskeep nie. Hy is in hart en siel ʼn kunstenaar en daar duik gereeld nuwe woorde en melodieë in sy gedagtes op. Hy sê hy het veral in die laaste ruk heelwat nuwe musiek geskryf. Gelukkig het die verhoogoptredes nou stadig maar seker aan die gang gekom.
“Ek het net gisteraand weer by Margit Meyer-Rödenbeck en Jurg Human se Die Boer in Durbanville opgetree. Dit was klein, en binne die nodige beperkinge, maar om weer daar op die verhoog te kon staan, was net fantasties. Dis moeilik om die gevoel te beskryf. Daar gebeur iets binne in jou wat jy nie kan stop nie. Dan weet ’n mens dis jou ware passie en iets wat jy nie kan laat gaan nie,” sê hy.
Oor ’n koppie tee
“Ons gesels nie net oor koetjies en kalfies nie. Daar word behoorlik hartsake gedeel. Waarlik iets besonders.”
Ons ken Jak ook as ʼn bedrewe televisieaanbieder en sy reeks Reis na gister, waarin hy bekendes teruggeneem het op hulle grootwordvoetspore, was baie gewild. Gedurende die streng inperkingstyd, het Jak met ʼn blog begin wat vinnig wyd gelees is en heerlik gegroei het. Daarop het hy van sy gedagtes en denke gedeel en gehoop dat Afrikaanssprekende vroue regoor die wêreld, virtueel saam sal kuier. So is Koppieteefontein gebore. Nou het Koppieteefontein egter ʼn nuwe opwindende baadjie aangetrek.
Op Vrydag, 1 Oktober, het die geselsprogram Koppieteefontein, met Jak as aanbieder, op kykNET (DStv-kanaal 144) afgeskop. In die eerste program het Jak heerlik tee gedrink aan huis van Margit Meyer-Rödenbeck oftewel Dowwe Dolla soos wat sy vir vele jare bekend gestaan het. Vir Jak is die nuwe programreeks waarlikwaar iets besonders. Hy gesels met wonderlike gaste, en dis nie bloot net koeitjies en kalfies gesels nie. Daar word behoorlik hartsake gedeel.
“Dis eintlik wonderlik hoe my idee van die blog, as ʼn virtuele kuierplek, uitgeloop het op hierdie televisieprogram waar kykers ook saam kan tee drink. Met Reis na Gister was daar altyd ʼn deel aan die einde wanneer dinge so ʼn bietjie dieper geraak het. ʼn Oomblik waar my gaste terugskouend gekyk het en ek het altyd gewens daardie deel kon langer wees. Ek het toe al geweet ek wil ʼn program maak waar mense met my kan praat en diep raak, hartseer word, maar ook weer lag. Alles in een onderhoud. Ek wou nie hê ons moes rondloop of iewers heen ry nie, bloot net sit en kuier. Dit het ek nou in Koppieteefontein,” verduidelik Jak.
Op reis met Afrikaans
“Soos wat ʼn mens ouer en slimmer raak, lees jy meer en dan vorm en slyp jy jou talent. Dit gebeur nie oornag nie …”
Jak se reis met Afrikaans het al as ʼn hoërskoolleerder begin. Daar het hy verlief geraak op die poësie van Antjie Krog en Ingrid Jonker. Laasgenoemde se Versamelde Werke het hy vele kere deurgelees en telkens was hy opnuut betower. Hy het op hoërskool al begin om liedjies te skryf en stadig maar seker het hy geleer en gegroei.
“Dis iets wat stadig begin,” sê Jak. “Dis amper soos ʼn bruistablet wat jy in die water gooi en dan kyk jy hoe die borreltjies al hoe meer word en na bo styg. Soos wat ʼn mens ouer en slimmer raak, lees jy meer en dan vorm en slyp jy jou talent. Dit gebeur nie oornag nie en genoeg lewenservaring is ook belangrik om dit ten volle te laat ontwikkel.
“Toe ek vir Johannes Kerkorrel ontdek het, het daar meteens ʼn nuwe deur in my gedagtes oopgegaan. Kerkorrel, Koos Kombuis, Amanda Strydom, David Kramer, Coenie de Villiers… Ek het na daardie kunstenaars se musiek geluister en gedink dis byna soos ʼn kunswerk binne ʼn glasvertoonkas. Vir die eerste keer het ek my taal op so ʼn wonderlike kunssinnige manier gehoor. So is my liefde vir Afrikaans vasgesement en het ek geweet ek sal eendag ook in Afrikaans, op ʼn kunstige wyse, my talent wil slyp. As ek sien hoe ʼn liedjie soos “Sally Williams Nougat” wat ek twintig jaar gelede geskryf het, steeds gewild is, dan is ek dankbaar dat ek dit in Afrikaans, my hartstaal, kon doen.”