Skrywer: Alita Steenkamp
Wie sou nou ooit kon dink dat een van die engele in die 1990-produksie van Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat uiteindelik ʼn ware engel vir die Afrikaanse kunste en televisie sou word. ʼn Engel wat soveel dinge soos die Silwerskerm Filmfees, die Fiësta- en Ghoema-toekennings, ʼn paar Afrikaanse televisiekanale en heerlike Afrikaanse kykgenot geïnisieer het.
Karen Meiring word oraloor beskou as ʼn televisie-magnaat sonder weerga, want in die twaalf jaar wat sy as hoof van M-Net se Afrikaanse kanale werksaam was, het sy dinge laat gebeur. Toe sy op 1 April 2009 daar ingestap het, was dit met die visie om ʼn verskil te maak met nuwe dinge wat die Afrikaanse televisiekanaal aan kykers kon bied. Dit was ʼn heerlike kreatiewe omgewing waarin sy floreer het. Maar nou, op sestig, kom haar loopbaan as direkteur van die kykNET-kanaal tot ʼn einde en het dit tyd geword om soos ʼn ware touleier, die leisels oor te gee aan haar opvolger.
“Moet tog nie sê ek tree af nie,” sê sy gou en lag vrolik. “Ek tree bloot uit een portefeulje uit en is reeds besig om ʼn volgende een te skep. Tot Februarie, Maart volgende jaar sal ek as konsultant steeds by kykNET betrokke wees. Dis vir my heerlik om op daardie manier nog half betrokke te kan wees en ek hoop om my opvolger te kan ondersteun. Ek sal dit met passie wil doen, want ek is ongelooflik lief vir kykNET en veral passievol oor die inhoud.”
Karen se loopbaan tot dusver het interessante en kreatiewe draaie geloop. Iets wat soos ʼn goue draad daardeur geloop het, is haar entrepreneuriese vernuf. Een van die laaste opwindende programme wat sy vir kykNET vasgemaak het, is Who wants to be a millionaire? kykNET het ʼn formaatlisensie by SONY bekom om hierdie gewilde vasvraprogram plaaslik, en boonop in Afrikaans aan te bied en Wie word ʼn miljoenêr word vanaf 27 Oktober vanjaar op kykNET uitgesaai.

Vra ʼn mens vir Karen wat vir haar uitstaan wanneer sy terugkyk op haar tyd aan die stuur van kykNET, skram sy eers weg. “Dis half onregverdig om dit te vra. Jy weet mos jy mag nie ʼn ma vra watter kind sy die liefste het nie,” lag sy dan. “As ek ʼn uitsondering moet maak, was dit die oomblik toe ons Afrikaanse nuus in ons skedule kon insluit. Iets wat ek ook beslis sal wil uitsonder, is toe ons dit kon regkry om meer as een sepie op die kanaal te hê. Daar is soveel mense wat neerkyk op sepies, maar ek sê vir jou, sepies speel so ʼn belangrike rol om mense deur stories nader aan mekaar te bring.
“Suidooster is juis daarom vir my ook ʼn wonderlike hoogtepunt. Die meeste van die produksies is tot ʼn paar jaar gelede in Johannesburg vervaardig en daarom was dit vir ons belangrik om ook iets in die Kaap te skep. Daar was net geen studio’s in die Kaap vir ‘n sepie of vir van ons ander programme nie. Ek onthou die dag toe Bradley Joshua en Jaco Loubser van Homebrewfilms my na ʼn ou Makro-gebou in Milnerton in die Kaap geneem het. ʼn Wonderwerk het daar gebeur, want Homebrew en ʼn paar ander vervaardigers het ʼn vennootskap gevorm en daardie spasie in studio’s omskep wat nou ongelooflik baie werk skep vir honderde akteurs en tegnici in die Kaap. As ek moet dink aan ʼn hoogtepunt der hoogtepunte, staan dit vir my uit. Dit het alles begin met die idee van ʼn sepie soos Suidooster wat ʼn ander kulturele en sosiale lewe uitbeeld en dis so belangrik. Ons almal is Afrikaans. Ons almal praat dieselfde taal, al leef ons dit verskillend.”
Vir Karen wag daar inderdaad heerlike nuwe dinge. Sy en haar twee Switserse Herdershonde, Willem en Pennie, gaan Stellenbosch toe verhuis. Sy het reeds ʼn huis in Karindal, ʼn Stellenbosse woonbuurt. “Ek moes in Karindal gaan bly sodat ek nie die naam van my woonplek vergeet nie,” skerts sy. Die Kaapse nat en koue winters skrik haar geensins af nie. Sy lees graag en uit die aard van haar werk kyk sy ook besonder baie na verskillende televisiereekse. Dit kan ʼn mens maklik doen wanneer die dae bloot te nat en koud is om uit te gaan, sê sy. Boonop is die heerlike Kaapsewynbedryf dan sommer op haar voorstoep.



Een van die nuwe projekte waarmee Karen gaan besig wees, is Nuuseum, ʼn aanlyn argief vir Afrikaanse skeppende werk en joernalistiek op al die verskillende velde soos radio, TV en gedrukte media. Sy dien op die direksie. Karen vertel dat sy in 2010 in Washington na ʼn plek gegaan het met die naam Newseum en dit het by haar die idee laat vonkvat om so iets in Afrikaans te doen.
“Ek het gedink dit is iets wat Afrikaans baie nodig het: een gemeenskaplike plek waar ʼn argief gebou kan word deur die media van die dag en die geskiedenis van die Afrikaanse gemeenskappe. Ek is baie opgewonde oor wat aan die gebeur is op ʼn digitale vlak,” sê sy.
Hopelik sal daar nou vir haar tyd wees om meer gholf te speel, iets waarvan sy besonder baie hou. Sy hou eintlik van alle sportsoorte en was self ʼn kranige hokkiespeler op haar dag. Karen het drama aan die voormalige PU vir CHO studeer. Op ʼn dag het haar bewegingskunde-dosent, Brenda Potgieter, vir haar gesê om te kies. Met hokkie ontwikkel jy totaal ander spiere as wat iemand wat op die verhoog moet beweeg, nodig het. Daar en dan was hokkie van die baan.



Om Karen gelukkig te maak, klink heel eenvoudig. “Ek hou van goeie geselskap, goeie vriende en om bymekaar te kan wees. Daar is min dinge so lekker as om te luister na jou vriende se stories en veral wanneer dit gepaard gaan met lekker lag en dalk ʼn heerlike bord kos. Dit verskaf my ongelooflik pret en vreugde. Deur die jare het ek by soveel ander kunstenaars geleer hoe om mense te vermaak en uiteindelik goed te laat voel oor hulleself.
“Reeds as student, in een van dr. Peet van Rensburg se musiekblyspele, het ek die vreugde ervaar om op ʼn verhoog te staan en applous te ontvang. Iets wat nog lekkerder as daardie applous is, is wanneer mense vir jou grappies lag en jy kan sien jy verskaf vir mense plesier. Dit kon ek deurtrek tot die werk wat ek gedoen het. Eers by die KKNK en toe later by ʼn kanaal soos kykNET. Uiteindelik was dit my grootste missie: om plesier te verskaf aan kykers en hulle te vermaak, op welke manier ook al – hetsy met ʼn ernstige drama, komedie of musiek. ʼn Groot deel daarvan is vir ontvlugting, maar dan is daar ook ʼn kant wat moet resoneer met die kyker sodat hy of sy iets met hulle saam kan neem. Ek hoop ons het dit reggekry.”
Vir ses jaar lank was Karen die bestuurder van Johannes Kerkorrel. Nie net het sy sy vertonings vir hom gereël nie, maar ook letterlik sy toerkombi bestuur. In Kerkorrel se besondere mooi “Hillbrow” sing hy: “Gee jou hart vir Hillbrow…” Karen het daardie wekroep haar eie gemaak. Sy het inderdaad haar hart vir die kunste in Afrikaans gegee.
