Tuin van die Beminde / Garden of the Beloved.
Een van die jaarlikse hoogtepunte op die Wes-Kaapse feeskalender is die Gedigtefees, wat al sedert 2013 in die lieflike dorpie McGregor aangebied word. Hierdie heerlike samekoms bring digters en liefhebbers van poësie van heinde en verre bymekaar, om oor hierdie spesiale naweek hul liefde vir digkuns te deel.
By vanjaar se fees, is daar meer as 80 digters en skrywers wat in groepe gaan voorlees. Lara Kirsten, Kobus Moolman, Malika Ndlovu, Danie Marais, Churchil Naudé, Diana Ferrus, Susan Woodward, Ilze Olckers, Justin Fox, Patricia Schonstein, Dimakatso Sedite, Lynthia Julius, Nondwe Mpuma en Jacques Coetzee is van die opwindende digters wat op die program verskyn.
Hoogtepunte sluit onder andere in: “Vier Seisoene in die Tuin van die Beminde” met Mary Oliver, die bekendstelling van die 2020-bundel “Poetry in McGregor”, verskeie boekbekendstellings, oop mikrofoonsessies en `n Ons Klyntji-aanbieding deur `n dinamiese span kreatiewe skrywers. Plaaslike talent sal ook bekendgestel word: “Seeing beyond Words” is`n video van jong digters in McGregor wat saamgestel is deur Mark Chipps and Conny Mater. Die volledige program is beskikbaar by: www.poetryinmcgregor.co.za
“Gedigte in McGregor” se feesbestuurder, Jane de Sousa, vertel dat die program nou in `n nuwe formaat aangebied word. “Die digters sal vanjaar meestal die verhoog met ander deel. Omdat ons met minder lokale moet werk, a.g.v. die pandemieregulasies, het ons besluit om meer as een kunstenaar in die verskeie aanbiedinge in te sluit, sodat soveel as moontlik digters kan meemaak. Die fees het oor die jare baie vriendskappe gevorm en daar is `n gevoel van samehorigheid in die unieke manier waarop die fees elke jaar aangebied word. Ons in opgewonde daaroor dat hierdie nuwe formaat sommer maklik sal inpas by die intieme gevoel van hierdie spesiale naweek.”
Billy Kennedy, die eienaar van Temenos Retreat en stigter van die gedigtefees in McGregor, vertel dat hy dikwels geїnspireerd voel deur die entoesiasme en ondersteuning van almal wat by die besonderse naweek betrokke is. Hy sê: “Dit voel of ons elke jaar familie terugverwelkom. Die sukses van die fees lê my na aan die hart (in 2019 het meer as 100 digters voorlesings gedoen), maar wat my nog meer aanspoor om ons gedigtefees vir nog baie jare te kan bewaar, is die gevoel van samesyn wat dit bied. Die digters, oud en jonk, bekend en nuut, is almal ongelooflik talentvol en passievol oor hul werk. Dit is `n naweek van sielskos en saamwees – daarom ook hierdie jaar die tema ‘Tuin van die Beminde’. Ons vier die rykdom van ons innerlike en uiterlike lewe in `n wonderskone omgewing.”
Ashley Dowds is een van die digters wat op vanjaar se program verskyn. Hy is al vir baie jare betrokke by die McGregor Gedigtefees en sê dat dit oor en oor die moeite werd is om hierdie wonderlike naweek by te woon:
“Om na ‘n plek te reis waar poësie vir ‘n paar dae hoogty vier, het die bedoeling om mense se lewens aan te raak, essensie te verleen aan brokkies tot nadenke, wat mense saam met hulle huis toe neem in afwagting om uit te vind hoe hulle in mekaar pas. Dit gebeur nie noodwendig dadelik nie. Dit vorm egter ‘n brug oor soveel diep vlakke van verbeelding en waarhede, dat dit ‘n pelgrimsreis word.”
Vir die volledige program en kaartjies gaan na: www.poetryinmcgregor.co.za
Akkommodasie: https://poetryinmcgregor.co.za/2019-where-to-stay-and-eat/
Facebook: Poetry in McGregor | Facebook