Afrikaans.com-advertensies genomineer vir gesogte toekenning
Dit is met groot opwinding dat ons aankondig dat twee van Afrikaans.com se advertensies vir ’n Pendoring-toekenning genomineer is. Die Pendoring-toekennings is een van Suid-Afrika se mees gesogte advertensietoekennings. Die doel van die kompetisie is om die rykheid van Suid-Afrika se kreatiewe inhoud te vier asook die diversiteit van die inheemse tale waarin dit aangebied word.
Die twee Afrikaans.com-advertensies wat volgende week vir ‘n toekenning meeding, is Bril, liefie en die Koek-advertensie. Die wenners word volgende Donderdagaand, 4 November 2021 tydens ’n aanlyn geleentheid bekendgemaak. Hou saam met Afrikaans.com duim vas!
Afrikaans is ’n taal waarin ‘n mens uit jou maag uit kan lag, waarin jy kan leef en waarin jy sommer net kan wees. Met hierdie advertensies vier ons presies dít!
Ons het vanjaar drie advertensies geskep wat elk op VIA, kanaal 147, tydens Minki van der Westhuizen en Jo Black se onderskeie programme uitgesaai gaan word.
Ons sal jou nie langer laat wag nie … hiermee ons eerste advertensie:
Liefie, luister!
Arme Danie het gedink sy brul is ouliker as sy byt. Dalk sou Danie nie so rooi geraak het as hy eers gekies het om deur ’n ander bril na dinge te kyk nie. Deur watter bril kyk jy na Afrikaans?
By Afrikaans.com sien ons die lekker van Afrikaans … so, kom lag in jou taal, leef in jou taal en wees in jou taal by Afrikaans.com.
Kyk hier om te sien hoe dit gedoen word.





Hiermee die tweede advertensie …
O, koek!
Party van ons hou van wortelkoek … ander swymel weer oor die soet van ’n lekker sjokoladekoek. Maar wat is die kersie op die koek? Om te kan lag in jou taal, natuurlik! Afrikaans.com bied iets vir elke smaak so kom lag in jou taal, leef in jou taal en wees in jou taal.
Kyk hier en lag saam!




Hiermee die finale advertensie …
Leerhulp
Besoek Afrikaans.com se Leerhulpafdeling vir ‘n groot verskeidenheid gratis en nuttige leerhulpbronne en bereik jou volle potensiaal!
Waaroor gaan hierdie programme?
Minki
In hierdie geselsprogram met die geliefde Minki van der Westhuizen, nooi sy ’n verskeidenheid mense wat haar inspireer en verras hul soms met nog ’n gas.
Doodgewone Jo
In dié geselsprogram nooi die geliefde Jo Black bekende gaste sy ateljee binne om hulle beter te leer ken en, in die proses, saam opwindende uitdagings en aktiwiteite aan te pak.