Skrywer: Lindie van Gass
Die latté-effek is bekend gemaak deur die Amerikaanse skrywer, David Bach. Die konsep is redelik eenvoudig: klein bedrae wat ons gereeld spandeer, kos ons baie meer as wat ons dink. In Afrikaans sal ons dalk beter verstaan as ons daarna verwys as die ‘Laat hy’-effek, want ons moet beslis nie ons geld laat val waar hy wil nie.
As ons dit direk gebruik met latté’s as voorbeeld, lyk dit so: ‘n Tall Caffé Latté by Seattle kos R33.50. Kom ons sê jy drink elke dag een van hierdie. Oor ‘n typerk van 10 jaar, spandeer jy fisies R122 275 op wegneemkoffies. As jy dit eerder belê vir die 10 jaar, teen 8%, sou jy ‘n stewige R187 286 in jou rekening hê.
Hierdie is natuurlik nie net van toepassing op koffie soos die naam jou sal laat dink nie, maar word gebruik om te illustreer hoeveel groter gereelde klein uitgawes in die langtermyn kan lyk. Om R10 000 per jaar te mors, kos jou slegs R27.40 per dag. En kom ons wees eerlik, byna alles kos meer as R27.40. Ons neem hier nie eers die “magic” van saamgestelde rente of tyd in ag nie.
Ons word gebreinspoel daarmee dat mens se rykdom ‘n direkte funksie is van ons inkomstes, maar ons vergeet hoe groot rol ons manier van spandeer daarin speel. Ons is almal redelik bewus van groot uitgawes wat ons aangaan, maar die bietjie hier en bietjie daar tel op sonder dat ons dit besef. Jy het dus nie ‘n massiewe salaris nodig om te begin bou aan jou finansiële vryheid en rykdom nie, jy moet wel meer doelgerig spandeer.
Die bekendste uitgawes wat hierdie effek kan veroorsaak, sluit onder andere in:
- Tydskrifte
- Koffie
- Wegneemetes
- Ekstra bankkoste
- Afleweringskoste
- Intekengelde
- Middagetes
- Sigarette
Hoe kan mens te werk gaan om te sien of jy sulke klein jakkalsies in jou spandeergewoontes het?
- Kyk noukeurig na waar jy jou geld oor die laaste drie maande spandeer het.
- Merk klein uitgawes wat jy gereeld maak.
- Doen ‘n “reality check” – werk uit hoeveel spandeer jy op al hierdie klein uitgawes per maand en maal dit met 12. Is dit werklik nodig om soveel per jaar hierop te spandeer?
- Kyk waar jy kan sny.
- Werk ‘n plan en doelwitte uit.
Die punt is dat ons net soveel, indien nie meer nie, op ons daaglikse spandeergewoontes moet fokus en nie net op daardie groot uitgawes soos karre nie. Beteken dit jy moet nou koffie opgee? Glad nie. Hierdie gaan nie oor opoffering nie, maar oor doelgerigte gewoontes. Soek dalk vir plekke waar jy dieselfde waarde kan kry, teen minder koste. Kan jy die koerant goedkoper aanlyn kry? Kan jy eerder koffie by die huis maak en weekliks wegneemkoffie kry in plaas van daagliks? Kan jy spaar op bankkoste?
Laat hy val waar hy moet en presies waar jy hom soek!
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!