Die Afrikaanse Taalraad verwelkom graag drie nuwe direksielede wat tydens ʼn onlangse jaarvergadering aangestel is.
Die nuwe lede op die direksie is:
Basil May, voorsitter van PanSAT se Wes-Kaapse Komitee asook voormalige rektor van die Wesley-onderwyskollege in Soutrivier; stigter van die Railton Foundation in Swellendam, wat beurse vir universiteitstudie aan behoeftige studente uit die plaaslike gemeenskap beskikbaar stel.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV.
Maryna Besseling, Afdelingshoof: Professionele Dienste, Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).
Elkeen van dié drie lede bring nodige vaardighede na die Taalraad en voel sterk oor hul betrokkenheid by die Taalraad, soos uit hulle kommentaar blyk:
Maryna Besseling: “Ek glo ‘n mens kan net waardevol wees deur diens aan ander en om diensbaar te wees in die behoud en uitbou van ’n taal is ’n lewensaar.”
Sonél Brits: “Die uitbou en bevordering van inheemse tale, waarvan Afrikaans volledig deel is, verteenwoordig die kultuurskatte van Suid-Afrikaners en behoort as sulks bevorder te word. Betrokkenheid by die ATR en die werksaamhede van die organisasie is een voertuig tot bereiking daarvan.”
Basil May: “My doel is om by te dra tot inklusiwiteit as ’n teenvoeter vir eksklusiwiteit binne die taalgemeenskap. Die taal is veel belangriker as ’n individu. Die Taalraad is ’n belangrike rolspeler in hierdie verband.”
Michael Jonas (direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM)) en Annelise de Vries (taalbeplanner en forensiese linguis verbonde aan Akademia) is onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter herkies.
Die ander direksielede is Alana Bailey, Anzil Kulsen, Sinki Mlambo, Aäron Messelaar en Louis du Plessis.
Michael Jonas
Annelise de Vries
Die Taalraad bedank ook die uittredende direksielede, Japie Gouws, prof. Frank Hendriks, en Karien Brits, vir hul waardevolle en onbaatsugtige bydraes oor die jare. Dit was ’n voorreg om met hulle te kon saamwerk en ons is bly dat hulle by aktiwiteite van die Taalraad betrokke gaan bly.
Ons deel graag die uittredende direksielede se kommentaar oor hul betrokkenheid by die Taalraad:
Prof. Frank Hendriks: “Dit is vir my ’n eer om in die direksie van die ATR te kon dien. Ek vereenselwig my heelhartig met die doelstellings en missie van die ATR, in die besonder die ATR se verbintenis daartoe om in ons reënboogland, met sy diverse groeperinge en tongvalle, kulturele warmte uit te leef en om brûe van versoening te bou.”
Japie Gouws: “Die Afrikaanse Taalraad (ATR) speel ’n belangrike rol in die behoud, ontwikkeling en bemarking van Afrikaans. Dit was vir my ’n voorreg om die afgelope jare op die direksie van die ATR te kon dien en op korporatiewe vlak by die ATR betrokke te wees. Ek bly verbind om bydraes te lewer tot die voordeel van Afrikaans.”
Karien Brits: “Dit was heerlik om deel te kon wees van ’n groep mense wat glo dat Afrikaans die somtotaal van al die sprekers is. Mag ons almal tuis voel in ons Afrikaans. Dit was ongelooflik om my passie vir my moedertaal en meertaligheid met ’n diverse groep mense te kon deel. Dankie dat ek dadelik tuis kon voel en altyd deel van die ATR-familie kan bly.”