Starburst Promotions: MEDIAVRYSTELLING
Suid-Afrika se nuutste rocksensasie, Zaan Sonnekus, het uit die staanspoor plaaslike musiekharte verower met sy aangrypende poëtiese lirieke, unieke klank en passievolle vertonings… en nou het die dag waarop bewonderaars al so lank wag uiteindelik aangebreek, want sy debuutalbum is uiteindelik beskikbaar!
Volgens dié Pretorianer, met sy donker lokke en kunstige versameling tatoes, is ZONNEBLOM ’n baie persoonlike album wat oor verskeie fases van sy lewe strek.
“Die musiek op die album is nie net deur een ding geïnspireer nie, maar deur verskillende fasette van my eie lewe,” verduidelik hy. “Ek moes iewers in die persoonlike aspek daarvan die regte klanke en woorde vind om dit universeel te maak, maar ook persoonlik te hou. Dit is ’n legkaart van my ondervindings en ervaringe in die kort tydperk wat ek op aarde is.”
Hierdie alternatiewe Afrikaanse album is oor die laaste agt maande saam met Tertius Human van Coolerbox Brothers geskep en bestaan uit twaalf magiese en oorspronklike snitte, waarmee die talentvolle musikant en liedjieskrywer luisteraars boei van begin tot einde.
Twee van die liedjies (met indrukwekkende musiekvideo’s), Ek Kan Net Bid en Hoog, is reeds vroeër vanjaar uitgereik en het omtrent ’n omwenteling in die Afrikaanse mark kom veroorsaak. Ek Kan Net Bid en Hoog kan op nasionale stasies landswyd gehoor word en pryk bo-aan verskeie treffersparades. ‘n Derde liedjie vanaf die album, Tienerkwaad, is ook pas digitaal vrygestel saam met ‘n ongelooflike musiekvideo: Zaan Sonnekus – Tienerkwaad – YouTube
Zaan vertel dat die album amper nie gerealiseer het nie, omdat hy na sy ma se dood gereed was om musiek vaarwel te roep. Gelukkig het die span by Vonk Musiek sy passie weer laat opvlam en kan hy nou sy ma se nagedagtenis met hierdie pragtige produk eer.
“Ek dink omdat my ma baie betrokke was by die skryf van die album (sy was ook ’n skrywer by wie ek baie geleer het) en ek dit nooit vir haar sal kan wys nie, was dit amper nie meer vir my die moeite werd nie en het ek al my opnames van my rekenaar afgevee. Ek en Tertius moes dus alles van vooraf doen toe ons begin opneem het.”
Alhoewel elkeen van die liedjies ’n gedeelte van sy storie vertel, meen hy dat Vingerverf vir hom baie terapeuties is en dat hy hoop dat dit dieselfde uitwerking sal hê op almal wat dit hoor. Ten Minste Vir My, het volgens hom ook die potensiaal om ’n radiotreffer te word, omdat dit so lekker is om na te luister.
Die veelsydige musikant het in Bloemfontein grootgeword en was nog altyd versot op musiek. Toe hy sy eerste kitaar kry op die ouderdom van tien, was daar vir hom geen twyfel oor wat hy met die res van sy lewe wou doen nie en daarom het hy na skool musiekvervaardiging by COPA gaan studeer. Sy eerste enkelsnit is in 2017 uitgereik.
Buiten vir musiek, is hy ook betrokke by ’n opname-ateljee genaamd Son Studios, asook Son Sound Productions wat fokus op die verkoop en verhuur van klanktoerusting en beligting. Hy en sy beste vriend het ook ’n besigheid, INNER INK, wat op industriële vlak verharde glas vervaardig en keramiek-drukwerk doen.
ZONNEBLOM is een van daardie albums wat jou sal hoendervleis gee wanneer jy daarna luister. Elke snit is gekomponeer en vervaardig om uniek te wees en jou te laat nadink oor die lewe.
“Die album is opgedra aan ’n sonneblom-liefhebber. Daar is nog baie liedjies in die bank, maar ek het gevoel dat wat ek gekies het die eerste deel van my storie vertel. My grootste prestasie is dat ek nooit opgegee het op my drome nie,” sluit hy af.
Die album is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier.
SNITTE OP DIE ALBUM:
Dis Fyn
Tienerkwaad
Ten Minste Vir My
Hoog
Ritalin
Plastiekswaard
Krapmerke
Ek kan net bid
Soos hel
Dis jy (Live)
Verander
Vingerverf
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/ZaanSonnekus.music
Instagram: @Zaan_Sonnekus
Webblad: www.zaansonnekus.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCCZIFQkm_94s3jtwi81kM_g
SoundCloud: https://soundcloud.com/zaan-sonnekus
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za