Skrywer: Wilma (Cloete) Beukes
‘n Mens hoor deesdae al hoe meer die term “geestesgesondheid”. Dit kan moontlik toegeskryf word aan die tye waarin ons leef en die impak wat die Covid-19-pandemie op ons gehad het en steeds het. Maar wat is geestesgesondheid presies? En hoekom is dit belangrik? Kortliks is dit ons emosionele, sielkundige en sosiale welstand. Ons geestesgesondheid beїnvoed ons denke, gevoelens en optrede. Die stand van ons geestesgesondheid bepaal dan ook hoe ons stres hanteer, met ander mense omgaan en die keuses wat ons uiteindelik maak. Daar is talle faktore wat tot geestesgesondheidsprobleme kan bydra, soos ’n chemiese wanbalans in die brein, trauma of oorerflikheid. Hoewel geestesgesondheidsprobleme algemeen voorkom – vanaf die kinderjare tot volwassenheid – is die goeie nuus dat daar hulp beskikbaar is. Afrikaans.com het die kliniese sielkundige Wilma Beukes gevra om haar gedagtes hieroor met ons te deel en te verduidelik hoekom dit so belangrik is dat ons na ons gesondheid en veral ons geestesgesondheid moet omsien.
Hoekom fokus op die bevordering van gesondheid?
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is dit juis belangrik omdat dit ons in staat stel om beheer te neem oor ons gesondheid en dit sodoende te verbeter (1).
Ons het almal ondersteuning nodig
Dit gebeur al hoe meer dat families by my en ander gesondheidsorgwerkers aanklop omdat hulle onseker is oor hoe om die daaglikse uitdagings te hanteer. Ek is self ’n ma en is maar al te bewus daarvan dat dit ’n voortdurende stryd is om aan ’n kind te verduidelik hoekom hy nie aan spansport kan deelneem nie, of nie soos voorheen in die parkie kan gaan speel nie. Deur ander te help om hulle gesondheid te bevorder, maak deel uit van Ubuntu en wys ons ons deernis en menslikheid teenoor ander. Ons sê as’t ware: “Ek gee om.”
Wat is die voordele verbonde aan die bevordering van gesondheid?
Programme oor die bevordering van gesondheid en die voorkoming van siektes kan alle landsburgers in staat stel om gesonder keuses uit te oefen en sodoende hulle risiko om siek of ongeskik vir werk te raak, verminder. Op bevolkingsvlak kan dit gesondheidsverskille uitskakel, lewensgehalte verbeter en die beskikbaarheid van gesondheidsorg en verwante dienste verbeter (2).
Terapie is nie vir “mal” mense nie!
Stigma en etikette kniehalter ons almal: Etikettering lei daartoe dat mense nie ondersteuning of aanvanklike sorg vir hulle geestesgesondheid kry nie. Ons kan egter heelwat doen om hierdie stigma en persepsies te verander. Dit is belangrik om te besef dat ons woorde mag het. As ’n volwasse kind van ’n gerehabiliteerde alkoholis, het ek self ondervind hoe ondersteuningsgroepe en terapie kan help om die stigma te laat afneem. Daarom glo ek dat ons ons gesondheid en die gesondheid van ander kan bevorder deur te leer om gemaklik met ons eie kwesbaarheid te wees (3). Dit is belangrik dat ons vir onsself en ons kinders leer dat alle emosies normaal is, maar somtyds het ons hulp nodig om te leer hoe om deur die emosies te werk.
Bekommernistyd: Om tyd af te staan aan bekommernis (“worry time schedule”), is ’n metode wat in kognitiewe gedragsterapie ingespan word. Ouers en kinders bekommer hulle oor allerhande goed tydens ’n pandemie. Om tyd opsy te sit waartydens mens hierdie bekommernisse ontrafel en probeer uitpluis, plaas ons ’n beperking daarop, gee ons dit ’n naam en beweeg ons van problematiese denke na ‘n oplossing. Onthou net, om by die antwoord of oplossing uit te kom, verg dikwels om by ander aan te klop om hulp. Om ’n tydsbeperking hierop te plaas, is belangrik omdat dit ons help om nie te stagneer nie. Na so ’n sessie is dit ook ’n goeie idee om op ’n nuwe aktiwiteit te fokus, soos kosmaak of sing (4). Ons kan ons bekommernisse uitbeeld deur te praat, teken, skryf, of sing.
Om hulp te vra, is dapper: Kom ons herdefinieer kwesbaarheid. Peter Snyders se gedig getiteld, Ek is oek important, kan ’n les vir ons almal wees, mits ons dit toelaat om te wees. Kom ons hou op om mekaar se emosionele worstelings/stryd te beoordeel. Almal van ons is waardig, afgesien van ons vlak van opleiding of ons gesondheidstatus. Kom ons dink saam oor hoe ons deurlopende gesprekke oor geestesgesondheid kan voer. Daar word gesê dat alkoholisme ’n siekte is wat in families voorkom. So ook raak geestesgesondheid gesinne en nie net die indidvidu nie. Die gesinne wat ondersteuning soek, is so dapper. Stel jou voor dat jy Lifeline bel, of ’n afspraak maak met ’n sielkundige, of ’n Narkoties Anoniem-byeenkoms bywoon – in die hoop dat jy nie veroordeel sal word nie. Dít is vir my ware dapperheid.
Van die “infodemie” na ’n pandemie van dankbaarheid.
Infodemie: Die Wêreldgesondheidsorganisasie definieer die sogenaamde infodemie (“infodemic”) (5) as ’n ooraanbod van juiste en onjuiste inligting, beide aanlyn en vanlyn – dink maar net aan al die fopmuus wat mense vir soetkoek opeet. So ’n ooraanbod van inligting kan nadelig wees vir ’n mens se liggaamlike en geestelike welstand, kan stigmatisering verhoog en kan ons gesondheid in gevaar stel. Veral nou, tydens die pandemie, kan ons geestesgesondheid in die gedrang kom as ons nie ons blootstelling aan die hoeveelheid nuus wat ons lees, kyk of na luister, beperk nie. Binne die gesin kan ons mekaar help deur nie bloot aan te neem dat ander die inligting wat ons het wil hoor, sien of lees nie. Beskerm jouself ook. Sit ’n spesifieke tyd opsy vir nuus. Kom ons wees bewus waar ons kinders hulle bevind wanneer ons die nuus kyk.
Fokus ook op die goeie nuus: Om ons gesondheid te bevorder, kan ons probeer om ons fokus te plaas op die ware feite oor die pandemie en daarvolgens verantwoordelik op te tree. Daarna, as jy dink dit is nodig, kan ’n mens die goeie nuus deel. Die doel hier is nie om moeilike emosies te vermy nie, maar om balans te probeer vind. Ek onthou net na ’n vriendin dood is aan covid-19, was my enigste “goeie nuus” die feit dat ek beheer het om die vuil bord wat ek gewas het, skoon te maak. As dit vir jou onmoontlik voel om enige goeie nuus te vind, kan dit dalk wees omdat jy jouself in ’n akute rouproses bevind. Wees geduldig met jouself.
Mense gee om: Ja, dit is moeilik om tydens ’n pandemie te leef, maar een ding wat ek tot dusver geleer het, is dat mense omgee. Dit is egter in jou eie hande om keuses uit te oefen en te besluit hoe jy die situasie gaan hanteer. Ek het byvoorbeeld ’n bewustelike besluit geneem om meer video’s te kyk van mense wat kos uitdeel aan die behoeftiges, eerder as om telkens die nuus te kyk vir die jongste sterftesyfers.
Kies dankbaarheid: In Desember 2020 was ek in isolasie om my verjaarsdag. Ek het dus ’n keuse gehad. Raak ek verlore in die narratief om nie my verjaarsdag op die strand te spandeer soos wat ek graag wou nie, of omarm ek die feit dat ek, selfs tydens isolasie tuis, redes kan kry om dankbaar te wees. Dankbaar omdat ’n hoёr mag die sonskyn op my gesig laat skyn terwyl ek op my kampstoel in my tuin sit. Dankbaar vir al die bederfies wat my familie so gereeld kom aflewer. Ek het gekies om dankbaar te wees. Die les wat ons hieruit kan leer, is dat om op dankbaarheid te fokus waarskynlik daartoe bydra dat daar uit die “negatiewe” omstandighede nuwe verhale van hoop voortvloei – en dit gebeur gewoonlik sonder dat ons dit eers agterkom.
Dit is belangrik om te lag
Om te lag, is ’n positiewe gevoel en daarom kan dit ook voordelig en ’n gesonde manier wees om stres te bekamp. Sielkundige navorsing het bewys dat lagterapie die potensiaal het om ons lewenskwaliteit te verbeter. Die voordele is legio. Om te lag of lagterapie te ondergaan, oefen en ontspan spiere, verminder ons streshormone (6), verbeter ons asemhaling, en kan selfs ons immuunstelsel ’n hupstoot gee. Wanneer ’n mens lag, kan ons ons angsvlakke verminder, ons gemoedere lig en ons hoop vermeerder. Daarom is dit belangrik om vas te stel wat dit is wat jou laat lag en wat jy moet doen om saam met ander te lag.
Vat ’n ruskansie. Dis noodsaaklik vir jou geestesgesondheid
Maak ’n doelbewuste besluit om uit te kom: Soveel van ons werk tans van die huis af, of is werkloos. Daarom is dit uiters belangrik om tyd af te knyp en van ons gewone roetine af te wyk. Gaan drink tee buite, of gaan doen die inkopies. Gaan stap tydens jou middagete, indien moontlik. Kontak ’n vriendin via ’n WA-video-oproep. Sê hoe jy voel en wat jou behoeftes is. ’n Kollega en kosbare vriendin het my daaraan herinner hoe hulpmiddels soos die ons weer perspektief kan gee.
Meer as net woorde: Die rol van die natuur en diere
Plante: Mense het oor die jare bewys dat hulle plante koop wat hulle welstand bevoordeel. Dit beteken dat ons plante koop wat ’n positiewe uitwerking op ons sielkundige, geestelike, fisiese en/of sosiale welstand het (7, 8). Ek is baie lief vir vetplante, want hulle is dikwels billik geprys – ongeveer R35 elk. Wat ek van vetplante hou, is dat hulle aanhou gee – ek sny doodeenvoudig ’n stukkie af, plant dit en siedaar dit groei! Bonnop verg hulle min onderhoud. Selfs in die kwaaiste omstandighede, floreer hulle – en dit is ’n pragtige metafoor. Jy het nie ’n tuin nodig om ’n plant te besit nie en om die plante name te gee en water te gee, kan iets wees wat jy alleen of saam met ’n gesinslid doen. Nog iets aan plante waarvan ek hou, is dat die beloning tasbaar is. Jy kan sien hoe dit groei! Moet asseblief nie ontmoedig word as jou plant dalk nie oorleef nie; ek het al baie kaktusse gehad wat nie oorleef het nie. Trouens, ek moet dit nog regkry om die kruie wat ek plant aan die lewe te hou … Plante leer ons: Die proses is net so belangrik soos die resultaat.
Die rol van diere: Ek het al dikwels waargeneem hoe pasiёnte, wat tydens hulle opname in ’n hospitaal tyd saam met diere deurbring, verander (9). Navorsing het ook getoon hoeveel oorlogsveterane troos vind by dienshonde (10). Om ’n troeteldier te hê, kan gevoelens van eensaamheid en simptome van depressie verminder (11). Ek weet dat troeteldiere altyd deel van my gesin was en dat hulle my altyd onvoorwaardelike liefde gegee het. As jy ’n ouer is, kan jy dit oorweeg om saam met jou kind voёls te kyk. Selfs al kan jy nie self ’n troeteldier aanhou nie, kan jy dalk oorweeg om as vrywilliger by ’n liefdadigheidsorganisasie diens te doen, of kyk diereprogramme en vra jouself af: Hoe laat dit my voel? Verbeter dit my bui? Wat ek van troeteldiere hou, is dat hulle dikwels fisieke oefening aanmoedig – gaan gooi gerus die bal vir jou hond en sien hoe lekker moeg raak jy. Of gaan stap met jou hond – hulle het die oefening net so nodig soos jy.
Beweging is belangrik: Fisiese oefening kan ons selfbeeld verbeter, dit veroorsaak bemoedigende sosiale verbindings en dra by tot ons genot en gevoelens van bevrediging. Onthou asseblief dat daar nie een oefening vir almal is nie. Vir party mense beteken oefening om rustig deur ’n stil winkelsentrum te stap en die winkeluitstallings te geniet, en vir iemand anders beteken dit dalk om ’n ent in die buurt te gaan stap (12).
Posttraumatiese groei
“Kom ons praat saam oor ons verlies en ons hoop.”
Stel jou voor jou dogter, susters- of broerskind, of jy self word nie toegelaat om skoolopleiding te ontvang nie – weens jou geslag. Meer nog … stel jou voor jy praat daaroor en verdedig jou reg tot opvoeding en jy word in die proses geskiet. Dit is wat met Malala Yousafzai van Pakistan gebeur het toe sy maar 13 jaar oud was. Sy het nie net die aanval op haar lewe oorleef nie, maar sy het die lewe aangegryp en aanhou veg vir die regte van vroue. In 2014, toe sy maar 17 jaar oud was, is sy vereer met die Nobelprys vir vrede – die jongste ontvanger van die prys nog ooit (13).
Sommige van my pasiёnte sê dat hulle na verlies en trauma opnuut dankbaar is vir die lewe, hul prioriteite in heroёnskou neem en ingrypende veranderinge in die geestelike en eksistensiёle aspekte van hul lewens ervaar (14). Na my eie traumatiese ervarings, het ek ook besef dat die klein dingetjies inderwaarheid die groot of belangrike dinge is. Ek noem dit omdat ek dink dat dit tot ’n mens se voordeel kan strek om stories van hoop en posttraumatiese groei, te deel. Ek weet individuele terapie het ’n plek, en is belangrik, maar portuurondersteuning en gedeelde stories kan ’n groot impak op ons hê. Kom ons deel hoop. Terapie is nie vir “mal” mense nie. Terapie is vir ons almal.
Verwysings
- World Health Organization’s Ottawa Charter ,1986.
- https://publichealth.uga.edu/departments/health-promotion-behavior/what-is-health-promotion/ accessed 29 August 2021
Catherine O Egbe et al., 2014, ‘Psychiatric stigma and discrimination in South Africa: perspectives from key stakeholders’, BMC Psychiatry, vol. 14, no. 191, pp. 1-14.
Gillihan, S J 2018, Cognitive Behavioral Therapy Made Simple: 10 Strategies for Managing Anxiety, Depression, Anger, Panic, and Worry.
- https://www.who.int/director-general/speeches/detail/munich-security-conference accessed 29 August 2021
- Tohoku, J 2016, ‘Potential Therapeutic Benefits of Laughter in Mental Health’. Exp. Med. vol. 239, pp. 243-249.
- Berman, M G Jonides, J & Kaplan, S 2008, ‘The Cognitive Benefits of Interacting With Nature’, Psychological Science, vol. 19, no. 12, pp. 1207-1212.
- Hall, C & Knuth, M, 2008, ‘An Update of the Literature Supporting the Well-Being Benefits of Plants: A Review of the Emotional and Mental Health Benefits of Plants’ Journal of Environmental Horticulture, vol. 37, no. 1, pp. 30-38.
- https://www.optimarustenvrede.com/ accessed 29 August 2021.
- https://theconversation.com/service-dogs-can-help-veterans-with-ptsd-growing-evidence-shows-they-may-reduce-anxiety-in-practical-ways-156550 Accessed 4 September 2021.
- McConnell, A R Brown, C M Shoda, T M Stayton, L E & Martin, C E 2011, ‘Friends with benefits: On the positive consequences of pet ownership’, Journal of Personality and Social Psychology, vol. 101, no. 6, 1239–1252.
- Mandolesi, L et al. 2018, ‘Effects of Physical Exercise on Cognitive Functioning and Wellbeing: Biological and Psychological Benefits.’ Front. Psychol., 27 April 2018
- https://www.biography.com/activist/malala-yousafzai accessed 29 August 2021
- Calhoun, L G & Tedeschi, R G (2012). ‘Posttraumatic Growth in Clinical Practice’, Imprint Routledge: New York.
Bio
Wilma Beukes is ’n HPCSA-geregistreerde Kliniese Sielkundige met ’n bykomende graad in Drama. Sy gebruik dramategnieke saam met kliniese sielkunde om geleenthede te skep sodat pasiёnte hulself kan bemagtig. Wilma het ‘n privaat praktyk in Brackenfell, Kaapstad en werk sedert 2011 met hospitaalpasiёnte. Sy hou daarvan om tyd in die buitelug te spandeer en om rustig en een met die natuur te word, hou haar geanker. Sy praat Engels en Afrikaans en is tans besig om isiXhosa te leer. Van haar terapiebenaderings sluit bewustelikheid (“mindfulness”), psigoterapie uit ‘n Christelike perspektief en persoonlike groei deur ‘n kreatiewe benadering tot terapie, in. Sy beskou haar werk as terapeut as ’n groot voorreg.
Klik hier vir meer oor Wilma.