Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Die uitspraak van die Konstitusionele Hof ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal by Unisa is ‘n oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en taalregte in die land.” – Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum
Na meer as vyf jaar, het regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof Woensdag, 22 September 2021, uitspraak gelewer in die saak tussen Unisa en AfriForum oor Unisa se taalbeleid ten opsigte van toegang tot moedertaalonderrig – ‘n kwessie wat meer as 30 000 Afrikaanssprekende studente direk geraak het. Die Appèlhof het reeds in 2020 uitspraak gelewer ten gunste van AfriForum toe daar bevind is dat die implementering van Unisa se taalbeleid ongrondwetlik was.
Majiedt het sy uitspraak grootliks op artikel 29(2) van die Grondwet gebaseer, naamlik dat almal ‘n reg tot onderrig in die taal van sy keuse het. Volgens die hofuitspraak het Unisa nou tot 2023 tyd om die beleid te verander.
As agtergrond
Sedert 2016 en na ’n hofbevel in 2019 deur die hooggeregshof in Pretoria, is Afrikaans uitgesluit as onderrigtaal aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en is Engels as primêre onderrigtaal gebruik. Talle studente en voornemende studente is hierdeur geraak en was verplig om ander keuses uit te voer. Die hooggeregshofuitspraak in 2019 is sterk teengestaan en die burgerregtegroep AfriForum het Unisa die stryd aangesê.
Op 30 Junie 2020, het die appèlhof in Bloemfontein die omstrede taalbeleid wat Afrikaans as onderrigtaal by Unisa uitsluit, tersyde gestel. Appèlregter Mandisa Maya, president van die appèlhof, het die taalbeleid as ongrondwetlik en onregmatig verklaar. Sy het detyds onder andere beveel dat voornemende studente ook die keuse moet hê om die vakke wat sedert 2016 nie meer in Afrikaans aangebied is nie, op eerstejaarsvlak en in Afrikaans te ontvang. Huidige studente wat genoodsaak was om van die modules in Engels te volg, moes ook die keuse hê om die modules in Afrikaans te voltooi. Die regter het ook Unisa se argument dat dit onprakties is om Afrikaans vir ’n minderheid studente aan te bied, verwerp.
Afrikaans.com vier hierdie oorwinning ten gunste van Afrikaans as onderrigtaal en glo dat uitsprake soos deur die Konstitusionele Hof gelewer grootliks daartoe bydra dat Afrikaans sal bly voortbestaan as hoёfunksietaal en dat ‘n beleid van meertaligheid waarin die diversiteit en taalregte van alle Suid-Afrikaners erken word, voorrang sal geniet.