Persverklaring
Absa loods vanjaar ’n virtuele weergawe van hulle immergewilde Absa Kuierkamer, as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees vanaf September.
“Die KKNK het die afgelope tyd verskeie aanlyn projekte en produksies aangebied. Dit is ’n aanlyn fees waarmee ons die kunste aan almal in die gerief van hul eie huis bied – of dit nou op die TV- of rekenaarskerm, op radio, op ’n slimfoon, óf op jou voorstoep is – die KKNK is oral,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Volgens Theart stap die KKNK se hoofborg, Absa, reeds vir menigte jare die pad saam met die fees as trotse borg en ondersteun hulle ook die kunste in hierdie uitdagende tyd wat die wêreld steeds worstel met die impak van die COVID-19-pandemie. “Die Absa Kuierkamer het ’n instelling by die fees geword, waar feesgangers vermaak is, kon kuier en gesels. Ons is baie opgewonde dat Absa nou dié ervaring na feesgangers in die gemak van hul eie huise bring en sodoende ook ’n stukkie van Oudtshoorn na feesgangers bring,” meen Theart.
“Vir die 2021-weergawe van die KKNK, voeg Absa ’n virtuele aanslag by die feestelikhede én vier ons 16 jaar as getroue borg van die KKNK,” sê dr. Paul Bayliss, Absa se senior spesialis kunskurator. “Ons bied innoverings wat die fees se gebruiklike grense oorskry en stel sodoende nuwe gehore aan die fees bekend.”
’n Reeks virtuele praatjies, aktiverings en skakelings word gedurende die aanlyn feestydperk aangebied, om steeds die kunste en moontlikhede beskikbaar aan kunstenaars, ’n werklikheid te maak. “Hierdie digitale kunsteenwoordigheid maak die beeldende kunste vir ’n diverse gehoor meer toeganklik, terwyl dit visuele kunstenaars ook ‘n platform bied om kwessies wat hul lewens beïnvloed, te ondersoek en kommentaar te lewer,” sê Bayliss.
Die Virtuele Absa Kuierkamer gaan aspekte van Oudtshoorn naboots en deurlopend aktiwiteite bekendstel waar besoekers toegang tot ’n verskeidenheid multimedia-inhoud gaan hê. “Funksies word oor die dorp heen versprei en kunsliefhebbers kan verskeie bakens en geboue verken, net soos wat hulle tydens die fees sou doen. Die platform spog met ’n magdom unieke, interaktiewe kenmerke en al hierdie funksies word deur ’n webgebaseerde toepassing aangebied, wat ’n soomlose ervaring op rekenaars en selfone moontlik maak,” voeg Bayliss by.
Een van die hoogtepunte op die program is bekroonde aanbieder Hannes van Wyk se Koffietafelgesprekke. Van Wyk gesels met sy gaste oor, onder andere, die impak van Covid-19 op die kuns- en vermaaklikheidsbedryf en gee ’n blik op die toekoms van dié bedryf.
’n Ander virtuele ervaring wat aangebied word, is ’n dokumentêre kunsreeks getiteld Beyond the Canvas. Dié dokumentêre reeks fokus op temas wat ’n impak op Suid-Afrika se beeldende kunste-landskap het. Temas wissel van tegnologie, sosiale media, toerisme en graffiti, tot herwinning en kos in verhouding tot die beeldende kunste. Plaaslike en internasionale kunstenaars sluit hier aan om hulle idees en ervarings te deel.
Daarbenewens bied Absa Kleinhandels- en Besigheidsbankdienste (RBB) ’n reeks van ses Sakepraatjies aan, waar talle gaste genooi word om aan gesprekke deel te neem om oplossings vir van die land se dringende vraagstukke te vind. “Gesprekke is saamgestel om te fokus op kwessies wat tot die volhoubaarheid van ons land in die algemeen bydra,” sê Bayliss.
Justin Schmidt gesels oor hernubare energie en vervaardiging, James Noble werp lig op die franchise-wêreld, terwyl Abrie Rautenbach na tendense in agribesigheid kyk. Fiks Dlamini fokus op geleenthede in die openbare sektor-landskap en Kgalaletso Tlhoaele skyn die soeklig op die belangrikheid van ondernemingsontwikkeling.
Die platform bied ook vele inspirerende en eksklusiewe vermaak oor die volgende paar maande gratis aan, wat onder meer insluit: 21 Lewenslesse, ’n reeks waar bekende en prominente Suid-Afrikaners hul lewenslesse deel; komedie-segmente deur ons land se voorste komediante en storievertellers; The Karoo Project, ’n spesiale musiekreeks wat tydens inperking met Zolani Mahola, Jitsvinger en Native Young in die Karoo verfilm is; en Oudtshoorn se mense, ’n reeks waar inwoners nie net hul talente ten toon stel nie, maar ook gesels oor die besonderse dorp en streek. Dit kan daagliks deur ieder en elk geniet word.
Die KKNK se tweede Virtuele Galery, wat ook deur Absa ondersteun word, het vroeër vanjaar geopen. Bayliss tree hier as kurator van Absa se uitstalling, Emotion op. Doelgemaakte kunswerke wat vorige Absa L’Atelier-deelnemers vir die digitale platform ontwerp het, word hier ten toon gestel. Loop deur die uitstallings in die Virtuele Galery by www.kknk.co.za/afdeling/virtuele-galery/.
Die Virtuele Absa Kuierkamer word oor ’n tydperk van drie maande aangebied, vanaf September tot November 2021. Klik hier vir ‘n oorsig en virtuele deurloop van die unieke platform: https://bit.ly/3zW6RjP. Vir meer inligting, besoek www.kknk.co.za en volg die maklike registrasieproses om toegang te kry tot die feestelikhede.
Einde
Uitgereik deur die KKNK
Vir medianavrae:
Laretha Blom
Media Liaison | Mediaskakel
082 498 6067 | media@kunste.org.za