Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe Leser
Wanneer ‘n persoon van salaris tot salaris leef, verwys dit daarna dat jy gewoonlik meer maand as salaris het. Dit kan gebeur met mense in enige inkomstegroep, aangesien ons gereeld ons leefwyse vinniger aanpas as wat ons inkomste aangepas word. Indien jou salaris jou nog deur die maand gedra kry, is daar egter ander faktore om ook in ag te neem:
- Het jy spaargeld vir noodgevalle?
- Indien jy spaargeld het, is dit genoeg om jou leefkoste te dek vir ‘n paar maande?
- Het jy maklike toegang tot die spaargeld?
- Het jy al enigsins ‘n aftreeplan?
Meeste mense kan nie ‘n eenvoudige, onverwagse uitgawe bekostig nie en word heeltemal omvergegooi sodra sulke uitgawes kop uitsteek. Dit veroorsaak gewoonlik ‘n toename in skuld, en dan natuurlik ook, in onnodige rente.
Hoe kan jy egter hierdie gewoonte beёindig en eerder gemaklik asemhaal in die laaste dae voordat dit weer payday is?
- Die B-vloekwoord: B E G R O O T!
Gee vir elke liewe sent in jou inkomste ‘n plek om heen te gaan. Hou op uitstel; jy is net besig om jouself te benadeel. Indien die gedagte aan finansies jou effe naar laat, gaan dit nie beter word hoe langer jy wag nie. Begin die probleem so gou moontlik ontrafel. Selfs al neem dit jou tien jaar. Begin met ‘n templaat en ‘n koffie. Klik hier vir Bank Beter se begrotingstemplaat.
- Spoor jou geld op.
Dit sal heel behulpsaam wees as jy weet waarheen jou geld elke maand verdwyn wanneer jy jou begroting opstel en doelwitte formuleer. Gaan kyk na jou bankstate, strokies, bank-app en vind uit waarheen verdwyn jou salaris so vinnig.
- Live below your means.
Maak seker jy spaar voordat jy spandeer, in plaas van andersom. Ons is so geneig om duurder uitgawes en meer uitspattige leefstyle na te jaag wanneer ook al ons ‘n verhoging kry, dat ons heeltemal vergeet om ook spaargeld aan te pas. Gee minder uit as wat jy ontvang; dis so eenvoudig soos dit.
- Noodfonds
‘n Fonds vir daardie onverwagse uitgawes kan ‘n sleutelelement in jou reis na finansiële vryheid raak en om jou te help om nie in noodgevalle na skuld te reik nie.
- Raak ontslae van jou skuld.
Jy kan gebruik maak van die sneeubaleffek om dit reg te kry. Skuld vreet nie net fisies in terugbetalings aan jou inkomste nie, maar ook deur die rente wat jy daarop betaal.
- Spaar outomaties.
Indien jy nie die dissipline het wat dit verg om spaar ‘n prioriteit te maak nie, laat dit outomaties gebeur deur middel van debietorders, ensovoorts. Die meeste banke gee selfs vir jou die opsie om ‘n outomatiese oorbetaling tussen jou eie rekeninge te maak.
- Kry vir jou ‘n aanspreeklikheidsvennoot.
Maak seker dis iemand wat seker sal maak jy hou by jou doelwitte en die vrymoedigheid sal hê om jou aanspreeklik te hou wanneer jy dit nie doen nie. Sulke aanspreeklikheidsvennote (accountability partners) is belangrik in verskeie areas van ons lewens en maak dit aansienlik makliker om te strewe na ‘n lewe waaroor ons droom.
- Beplan jou uitgawes.
Stel ‘n spyskaart op en skryf ‘n inkopieslys. Beplan selfs vir die uitgawes wat gewoonlik op die ingewing van die oomblik gebeur sodat dit nie verrassings in jou begroting is nie.
- Versterk jou gewoontes
Partykeer help dit as jy vir een of twee maande slegs geld uitgee op behoeftes, of op die minimum wat jy moontlik kan, net om vir jou ‘n voorsprong te gee en jou te help om jou gewoontes opnuut te versterk.
- Kry motivering.
Wat is jou WHY? Dis een ding om te besluit jy wil iets nastreef en om te weet dis belangrik vir jou toekomstige self, maar dis nie altyd so maklik om dit deur te sien as jy nie ‘n duidelike groter prentjie het waarnatoe jy op pad is nie.
Jy gaan jou gewoontes en jou ingesteldheid moet verander om werklik ‘n vordering te sien in jou reis na finansiële vryheid. Dit gebeur nie oornag nie, en verg beslis geduld en deursettingsvermoë – maar ek kan jou verseker dat jy sal besef dis die moeite werd die oomblik wat jy die eerste keer nie voel of jy in die verkeer gaan begin huil omdat jy nie weet hoe jy die maand die onverwagse uitgawe gaan betaal nie. (Is dit net ek, of is hierdie uitgawes gewoonlik kar-, medies- of loodgieter- verbonde?)
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!