Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Afrikaans verloor ’n storieverteller en teatermaker.
“Afgesien van talle eerbewyse, bly hy (Pieter Fourie) pretensieloos, sout van die aarde, en hoef hy geen tree terug te staan vir ’n Brecht, ‘n Opperman of ‘n Hemingway nie.”
– Gerard Scholtz in ‘n gesprek met Pieter Fourie in 2015
Die veelbekroonde dramaturg, Pieter Johannes Fourie is op Sondag, 12 September 2021, in die ouderdom van 81 oorlede. Hy is onlangs met maagkanker gediagnoseer.
Die akteur, regisseur, administrateur en dramaturg Pieter Fourie se loopbaan het oor meer as 60 jaar gestrek en was hierdie Hertzogprysbekroonde (2003) dramaturg die mees gepubliseerde dramaturg tot nou toe in Afrikaans. Een van die stigterslede van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) waar hy vanaf 1994 tot 1998 die uitvoerende hoof was, het hy ook ‘n groot rol gespeel om die destydse Nico Malan in Kaapstad – vandag die bekende Kunstekaap – vir alle rasse oop te stel. Hy is in 2010 deur die KKNK vereer vir sy lewenswerk.
Sy skryfloopbaan het as digter begin en op die Universiteit Stellenbosch was hy deel van die digter DJ Opperman se digkunslaboratorium. Tog publiseer hy eers in sy sewentigerjare sy debuutdigbundel Knapsekêrels (2017). Twee ander bundels, Bidsnoer (2018) en Stof en ster (2019) verskyn kort hierna. Hy ontvang ook ‘n eredoktorsgraad in drama en teaterkuns deur die Universiteit van die Vrystaat.

“Pieter Fourie is ’n dramaturg vir al vier seisoene van hierdie tragiese en komiese land: hy ken die speelse en romantiese lente, die volryp en verskroeiende somer, die melancholiese en euforiese herfs, die besinnende en soms sentimentele winter.”
– Die digter Daniel Hugo (Litnet-artikel)
Fourie was een van Suid-Afrika se “grootste kultuurskatte” en menige van ons sal hom onthou as die skepper van Faan se trein – wat ook ‘n bekende rolprent geword het. Ander bekende werke van hom is Die joiner, Ek, Anna van Wyk en Die koggelaar.
Hy word oorleef deur sy vrou, Maletta, ‘n dogter Sonja, sy dogters Tania, Mashinka, Natasha en Nandi uit vorige huwelike en kleinkinders.
Afrikaans.com betuig ons innige meegevoel met Fourie se naasbestaandes. Afrikaans het een van sy grootste stemme verloor.




Suurklontjie
vreemd vir mekaar
draai ons
beteuterd om
dis nie meer
dieselfde nie
in die wegstap
kan ons net gis
iemand
het ‘n stukkie
uit die maan gehap
(uit die digbundel Knapsekêrels)