Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
“28 minutes, three bags of sand and a whole lot of rock and roll. Hierdie album is ons manier om ons fans uit te vra op nog ‘n duisend dates. Let’s do this. Kom ons drink en kom ons sing. Ons het alles in hierdie album gesit. Alles.”
Na maande se opwinding, is Spoegwolf se splinternuwe album, getiteld Silwer, uiteindelik hier … en dis harder, beter en groter as ooit! Die vrystelling van hul agste vollengte album volg nadat hulle in Augustus vanjaar die eerste enkelsnit van die album met dieselfde titel bekendgestel het.
Die lede van dié bekende groep, Danie en Moskou du Toit, Hiram Koopman, Albert van der Merwe en Chris von Wielligh het in 2019 geskiedenis gemaak toe hulle die eerste Afrikaanse kunstenaar (oftewel groep) geword het wat die nommer een plek op die Apple Music South Africa Album Chart vir alle genres behaal het met hul album Koma. Sedertdien het al drie hul daaropvolgende albums ook die nommer een plek behaal.
Die album is vroeër in 2021 geskryf en het agt maande geneem om te voltooi. Jurgen von Wechmar was weer, soos met al Spoegwolf se vorige albums, aan die stuur van die vervaardigingsproses en die album is opgeneem by Sunset Recording Studios, met baie pre-produksiewerk wat plaasgevind het by Spoegwolf se eie studio, Die Wolfhuis.
Met berge, branders en die maan as inspirasie, bevat die album ‘n mengsel van epiese en huishoudelike temas, soos ‘n supernova in die lug bo ‘n stil klein plaashuis in die reënerige Bolandse berge – wat ook spreek van waar die lede van die groep vandaan kom.
“Hierdie album is rooted in happy memories. Dis die eerste Spoegwolf-album wat so is. Die res was harde, negatiewe musiek. Hierdie is harde, dankbare musiek.” Waarom hierdie ommekeer in styl? “Ons lewens het eenvoudig beter geword. Omdat ons moer lucky is!” meen Danie.
Spoegwolf beskryf Silwer as die tipe musiek wat hul nog altyd wou maak, maar nog nooit tyd voor gehad het nie; ’n meer musikale aanbieding met ’n fokus op die verwerkings en musiek wat ’n storie vertel.
Die album bevat enkelsnitte soos “Velde van Verf”, “Onbreekbaar”, “Lenie Lenie”, “Kolke”, “Die Hemel se Splinters” en meer. Volgens Spoegwolf is hul doel met hierdie album om mense gelukkig te maak. “Ons is lucky en gelukkig – ons wil hê die musiek moet dit ook doen.”
Meer oor die enkelsnit “Silwer”
“As ons een laaste song kon speel, is dit hierdie een.”
Spoegwolf beskryf “Silwer” as ’n verhaal van vryheid en liefde. “Natuurlik met klipharde musiek. Dit laat jou voel asof jy skateboard ry tussen Jupiter en Mars.”
Die musiekvideo vir “Silwer” is in Augustus in die Paarl deur Andre Badenhorst en Eric Graham geskiet. Die musiekvideo speel af oor ’n dag in Spoegwolf se lewe waar al die lede dinge doen waarvan hulle hou. Hulle is almal op pad na iewers, en kom uiteindelik bymekaar uit vir ’n optrede tydens sonsondergang.
Kenmerkend aan die groep se musiek, wek “Silwer” se melodie ’n gevoel van onoorwinlikheid, gekombineerd met ’n storielyn van twee mense wat losbreek.
“In die winter hang die silwer wolke soos ’n kombers oor ons terwyl dit ons vryheid inperk. Maar ons ry. Ons ry vinnig en ver. So we’re getting out of here.”
As enkelsnit bied “Silwer” ’n triomfantlike terugkeer vir die groep wat dit beskryf as hul hardste, beste en grootste aanbieding tot dusver