Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Angstigheid by kinders is nie ongewoon nie en deel van die grootwordproses. So is veral voorskoolse kinders dikwels bang vir allerhande goed, soos water, honde, insekte, die donker … vrese wat gewoonlik vanself weggaan. Wanneer hierdie vrese egter lei tot angstigheid en die kind se daaglikse sosiale en emosionele funksionering begin affekteer tot so ‘n mate dat dit hom lamlê om normale en lekker dinge te doen, is dit nodig om die angsdraak se vuur te blus en daadwerklik op te tree.
Die predikant, musikant, spelterapeut en skrywer Siegfried Louw het ‘n reeks geїllustreerde kinderboeke geskryf en een van die boekies, Ben en die drakie, gaan juis oor angstigheid en wat kinders kan doe nom daardie angdrakie te tem. Afrikaans.com het met Siegfried gesels.
Vertel ons meer oor Ben en die drakie – hoekom juis ’n drakie inspan?
In baie stories word drake gewoonlik gesien as ʼn gevaarlike en ontembare dier. Die vlamme wat ʼn draak blaas, is verwoestend. Jy weet gewoonlik ook nie wanneer die draak kan opdaag nie. Dit is onvoorspelbaar.
Angstigheid het eienskappe wat met hierdie eienskappe van drake ooreenstem. Geen kind (of volwassene) hou van angstigheid nie. Dit voel asof jy beheer verloor. Jy kan nie voorspel wanneer die draak gaan opdaag nie. Maar wanneer die draak daar is, sit jy met die gevolge daarvan.
Die drakie in Ben en die drakie is natuurlik ʼn ander soort drakie. Dit is ʼn kleinerige, bang diertjie. Die idee daaragter is om ons kinderlesers te help om nie so bedreig te voel deur die drakie nie. Hy help hulle om te identifiseer met die emosies en ervarings van angstigheid.
Angstigheid is veral nou ’n probleem en dit lyk asof ons kinders meer hiermee sukkel.
Wat dink jy is die rede hiervoor?
’n Mens se brein is ‘n wonderlike orgaan. Een deel van ons brein, die primitiewe brein, is gemaak om ons te help oorleef. Wanneer daardie deel van ons brein in “overdrive” gaan, laat dit ons veg, vlug of vries. Die uitdaging is dat mense se primitiewe breine mekaar kan opwerk. Probeer gerus om rustig te bly terwyl ʼn klomp mense rondom jou paniekerig raak of kwaai woorde rondgooi. Angs en woede word eintlik deur dieselfde deel van ons brein aan die gang gesit. Die huidige situasie met die pandemie het baie mense se primitiewe breine erg geaktiveer. Ons moet baklei teen ʼn virus wat ons nie kan sien nie. Mense se gesprekke beïnvloed mekaar. Dit spoel oor in ons huise.
Net so is daar baie bekendhede wat skielik van ons weggeneem is. Skoolroetine en huisroetine het verander. Kinders se sosiale gedrag en kuier by maatjies het verander. Sulke drastiese veranderings bring onsekerheid. Hierdie tipe van onsekerheid aktiveer die primitiewe brein om op die uitkyk te wees of die omgewing veilig is vir “my”.
Hoe verduidelik ouers vir hulle kind wat angstigheid is en hoe dit werk?
Ons dink dikwels dat angs net ʼn emosie is. Maar dit is baie meer as dit. Dit is ons liggaam wat reageer op hoe ons die omgewing beleef. Dit is ʼn deeltjie van ons brein wat ons liggaam in staat stel en gereed maak om weg te hardloop, of te baklei, of om tjoepstil te sit sodat die gevaar net kan weggaan. Eintlik wil die angstigheid net hê dat jy by ʼn veiliger plek of veiliger mense moet uitkom.
Soms dink ons brein dat ons in ʼn gevaarlike plek is, omdat alles onseker of anders voel. En dan voel dit glad nie lekker nie. Dit beteken nie daar is fout met ons nie. Dit beteken net dat ons brein besig is om te soek waar ons veiliger kan voel.
Is daar ’n verskil tussen vrees en angstigheid of lei die een na die ander?
As ons dit kan oorvereenvoudig: Vrees is meer die emosie wat ons het oor spesifieke dinge. Angstigheid is dan die liggaam se reaksie daarop. Jy kan bang voel vir die donker (vrees), maar angstigheid is die ervaring van wat met jou lyfie gebeur wanneer jy alleen in die donker moet loop. Dit is hoekom party mense begin sing of fluit as hulle in die donker loop. Dit vat nie noodwendig die vrees weg nie, maar dit hou die angstigheid bietjie in toom. Jou brein registreer: “Ek is besig om te fluit. So dinge kan darem seker nie so ernstig wees nie.”
Wat kan ouers doen om hulle kinders se angstigheid te hanteer?
Terwyl jou kind angstig voel, is dit nie die beste tyd om met hom of haar te probeer stry oor hoe logies of onlogies die angs is nie. Jy praat met die verkeerde deel van die brein en jy gaan net gefrustreerd raak, of erger nog, jou kind se angs verhoog.
Daar bestaan spesifieke “grounding exercises” wat jou primitiewe brein help om veiliger te voel. Die internet is vol daarvan. Sommige van hulle word in Ben en die drakie hanteer. As ouer kan jy help om begrip te toon en om vir jou kind van hierdie tegnieke te leer. Dit is nie kitsoplossings nie, maar is effektiewe maniere om net die ergste angel uit te haal.
Wanneer jou kind bietjie rustiger is, kan julle gesels oor die presiese dinge wat jou kind angstig laat voel het. Wat was dit? Was daardie dinge werklik bedreigings of het dit net so gevoel? Wat het hom uiteindelik laat beter voel? Is daar iets wat ons volgende keer kan doen wat sal keer dat hy weer so voel?
Bevestig jou kind se ervarings as geldig. Die belangrikste is dat jy jou kind sal laat tuis voel by jou en dat jy nie sy emosies af ervarings sal afmaak as laf nie.
Ouers se eie angstigheid spoel dikwels oor na hulle kinders toe.
Het jy raad vir ouers om hulle eie angs onder beheer te bring en te hou?
Hierdie vraag is baie belangrik. Ons sit op die oomblik eintlik met kollektiewe trauma. Sosiale inperkings bemoeilik dit nog meer.
As ons angs in die eerste plek as ʼn fisiologiese reaksie beskou, behoort ons die dinge wat angs of woede aanwakker, bietjie te verminder. Fisiese oefening help ons liggaam om deur ons spiere van die negatiewe stowwe in ons liggaam ontslae te raak. Stimulante soos te veel kaffeїen kan ʼn negatiewe uitwerking hê.
Sny ook aan die dinge wat jou omkrap. Ek het ʼn paar vriende wat tans baie gesnoei het aan die tyd wat hulle spandeer op sosiale media. Hulle getuig van die positiewe uitwerking daarvan. Mense werk mekaar op. Besluit hoe gereeld en hoe lank jy op sosiale media gaan spandeer, want daar het ons ook konneksies wat ons nodig het.
Kry ʼn interne “pause”-knoppie. Jy kan jouself en jou eie angs ook opstoot. Wag ʼn bietjie voordat jy daardie whatsapp stuur … voordat jy reageer. Ons grense het met werk en huis tans baie erg vervaag. Wanneer is ek nou besig om te werk? Wanneer is ek nou teenwoordig by die huis en my kind? Hoe gaan my kind weet of hy my nou “het” of nie? Hoe gaan ek weet wanneer ek klaar gewerk is?
Sorg vir afskakeltyd. Doen iets fisies. En as jy jou gesin deel daarvan kan maak, nog beter.
Agter in die boekie is daar wenke oor hoe ’n kind sy drakie kan mak maak. Kan jy kortliks daarop uitbrei?
Daardie wenke is spesifiek gefokus op tegnieke wat ʼn kind help om homself te anker (“grounding exercises”). Dit is tegnieke wat jou liggaam help om bietjie meer te ontspan. Dit is gefokus daarop om die primitiewe brein ander boodskappe te gee wat eerder veiligheid kommunikeer.
Het jy spesifieke raad ten opsigte van die covid-19-pandemie, veral omdat dit unieke omstandighede geskep het.
Skielik is ons kinders blootgestel aan siekte, dood en veral inperking.
Oral rondom ons praat mense oor die pandemie. Dit is onophoudelik. Ons behoort ʼn manier te vind om oor die dinge te gesels wat ons omkrap of wat nie vir ons lekker is nie. Ons het mekaar nodig om die kollektiewe trauma te verwerk.
Maar ons behoort ook mooi te kyk hoé ons dit doen. Want ons het die vermoë om mekaar en ons kinders op te werk of gespanne te maak. Luister mekaar mooi uit. Bevestig wat jy hoor en verwoord dit wat jy verstaan terug.
Skep gesonde roetine sover jy kan. Kom saam met mekaar uit in die natuur en sonskyn. Stel belang in jou kind se leefwêreld. Gesels dus oor sy gunstelingrekenaarspeletjie en kyk ʼn bietjie hoe hy dit speel. Gesels oor die moeilike dinge wanneer jou kind behoefte het of die omstandighede dit vra. Maar gesels ook oor die res van die lewe wat steeds hier is.
Ben en die drakie – met die fokus op angstigheid en waarin kinders daaraan herinner word hoe wonderlik ons elkeen gemaak is.
Ben het ’n geheim. ’n Drakie kom kuier soms by hom, sommer so onverwags. En wanneer Drakie by hom kom kuier, haal Ben vinnig asem en hy sweet. Drakie steel selfs Ben se gedagtes. Op ’n dag praat Ben met oom Petrus oor Drakie, en oom Petrus leer vir Ben hoe om vir Drakie te tem. Ben en die drakie is spesiaal geskryf om kinders te help om meer te ontdek oor angstigheid en hoe dit werk, en wat hulle kan doen om hulle drakies te hanteer en te tem.
Bestel die boekie hier
Die reeks boekies word deur Bybel-Media uitgegee en is reeds in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar. Klik hier om jou boekie te bestel.
So herken jy angstigheid en wat om daaraan te doen:
- Jou lyf reageer op angstigheid. Dit voel asof jy beheer verloor. Maar jy hoef nie so te voel nie.
- Jy wil graag van die angstigheid ontslae raak. Maar angstigheid is baie nodig om jouself te kan beskerm. Moet dit daarom nie wegwens nie.
- Wanneer dit voel of die angstigheid te veel of onnodig sterk in jou lewe is, kan jy jouself leer hoe om minder angstig te voel.
- Leer saam met Ben hoe om jouself te anker sodat jou drakie ’n plek sal hê om tot rus te kom.
Lees ook:
Hoe hanteer ons verlies by ons kinders? Klik hier.
Vir nog wenke om jou kind se vrese en angstigheid te hanteer, klik hier.
Lees ook “So help jy jou angstige kind”. Klik hier.