Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Dit is weer daardie tyd van die maand waar Afrikaans.com hande neem met ons vriende by NB-Uitgewers om vir jou ’n lys van die beste Afrikaanse boeke te bring, en hierdie keer is die jongspan aan die beurt. Verbreed jou kind se leefwêreld met hierdie keur van uitstekende Afrikaanse kinderverhale uit die pen van sommige van ons land se gewildste skrywers. Van die bekende Grimm- en Liewe Heksie-verhale waarmee ons almal grootgeword het, tot die avontuurverhale van ouma Hester en haar Getaway-kar, daar is iets vir elke smaak!
Jy kan WEN!
Een gelukkige leser staan ook die kans om weg te stap met AL TIEN hierdie boeke!
Deel die plasing op Facebook om in aanmerking vir die prys te kom.
Wenners word op 15 September 2021 aangekondig.
1. Die mooiste sprokies van Grimm |

Die mooiste sprokies van Grimm (tweede uitgawe)
Marita van der Vyver, Piet Grobler
ISBN: 9780798182591
Uitgewer: Human & Rousseau
Marita van der Vyver stel in hierdie pragbundel ’n persoonlike keur saam van veertig van die Grimm-broers se mooiste sprokies, wat sy self uit Duits vertaal het. Hier is bekendes soos Rooikappie en Klein Duimpie asook minder bekende sprokies soos Die goue voël en Ysterhans. Die internasionaal bekroonde kunstenaar Piet Grobler se onweerstaanbare illustrasies gee nuwe dimensie aan ’n skatkis van magiese verhale wat oud en jonk sal betower. ‘n Herdruk in sagteband.
2. Liewe Heksie – Leesboek 8 |

Liewe Heksie Leesboek 8
Verna Vels, Vian Oelofsen
ISBN: 9780798178969
Uitgewer: Human & Rousseau
Nuwe uitgawes van die gewildste Liewe Heksie-stories met pragtige volkleurillustrasies, maak hierdie reeks perfek geskik vir vroeë lesers. In Leesboek 8 het Liewe Heksie en haar maats groot pret in die sneeu, die kabouters help om ’n swembad te grawe en Heksie betrap ’n dief wat koning Rosekrans se forelle steel.
3. Pippie Langkous-omnibus |

Pippie Langkous-omnibus (heruitgawe)
Astrid Lindgren, Jaco Jacobs
ISBN: 9780798182232
Uitgewer: Human & Rousseau
Met hierdie heruitgawe van die Pippie Langkous-omnibus vier Pippie haar 75ste bestaansjaar. Lesers sal hulle opnuut verlustig aan Pippie se manewales in hierdie nuwe uitgawe, waarin die 1975-vertaling deur Nerina Ferreira in hedendaagse Afrikaans deur bekroonde skrywer, Jaco Jacobs, hersien is. Die spesiale versameling sluit drie klassieke Pippie-titels in: Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee.
4. Hoe dinge werk: Biologie-eksperimente in jou agterplaas |

Hoe dinge werk: Biologie-eksperimente in jou agterplaas
Alix Wood
ISBN: 9780798181211
Uitgewer: Human & Rousseau
Met die Hoe dinge werk-reeks kan elke jong doen-dit-self-wetenskaplike lekker (soms plofbare!) eksperimente in die agterplaas doen! Maak ’n eier wat hop, kweek bakterieë, keer dat ’n gesnyde appel bruin word, blaas ’n ballon op met gis … As jy nuuskierig is oor dinge soos swamme en ensieme of wil sien hoe jou longe en spysverteringstelsel werk, is jy op die regte plek! Die boek sluit ook ‘n vasvra in om jou kennis te toets!
5. Goue lint-stories. Die mooiste avontuurverhale |

Goue lint-stories: Die mooiste avontuurverhale
Moon S.r.l. , Kobus Geldenhuys
ISBN: 9780798181037
Uitgewer: Human & Rousseau
In hierdie wonderlike boek met pragtige illustrasies word kinders bekendgestel aan klassieke avontuurverhale, soos Om die wêreld in 80 dae, Robinson Crusoe, Lancelot se avonture, Gulliver en die Lulliputers, White Fang, Die drie musketiers, Tarzan, Skateiland, Reis na die middel van die aarde, Tom Sawyer en Huckleberry Finn en Sandokan, die tier van Maleisië. Hierdie boek is perfek vir voorlees asook selflees! Hierdie boek moet op elke Kersfeeslys en kind se boekrak wees!
6. Die stoutste klas op aarde |

Die stoutste klas op aarde
Joanna Nadin, Kobus Geldenhuys
ISBN: 9780798181938
Uitgewer: Human & Rousseau
Volgens die skoolhoof is 4B die stoutste klas op aarde. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor leer en dis hoogtyd dat 4B harder dáárin probeer uitblink. Maar Alex en Manjit het letterlik nie bedoel om hulle hele klas siek te maak met tuisgemaakte koekies nie. 4B is miskien die stoutste klas op aarde, maar jy sal nie enige ander plek wil wees nie.
7. Ouma Hester en die Getaway-kar |

Ouma Hester en die Getaway-kar (2020)
Janie Oosthuysen, Alex van Houwelingen, Alistair Ackermann
ISBN: 9780798180726
Uitgewer: Human & Rousseau
Zany Zack voer ‘n skrikbewind by VERI HAPPI KIDZ, die videospeletjiesfabriek. Met die hulp van vier bose oumas van die Huur-‘n-Ouma-agentskap word kinders ontvoer en gedwing om dag en nag te werk om nuwe speletjies uit te dink. Maar gelukkig is daar ook oumas soos ouma Hester, Tian en Lisa se ouma. Haar Getaway-kar se wapens skrik vir niks en Tian en Lisa leer hoe om elke vernuftige toestel te gebruik in hul stryd teen die bose oumas. Saam beleef hulle woeste gevegte, jaagtonele, en hope naelbyt-spanning en -aksie. Die vakansie by ouma Hester gaan beslis onvergeetlik wees!
8. Die seerowers 2: Die seerowers en die grot vol goud |

Die seerowers 2: Die seerowers en die grot vol goud
Jonny Duddle, Kobus Geldenhuys
ISBN: 9780798182140
Uitgewer: Human & Rousseau
AHOOI DAAR, SKARMINKELS! Hier is ‘n avontuurstorie oor seerowers vir beginnerlesers in Afrikaans!
Kom span die seile saam met Matilda, Basjan en die Van der Branders, en geniet hulle opwindende seeroweravonture. Matilda, Basjan en die Van der Branders is terug met nog ’n waaghalsige seeroweravontuur. ’n Betowerde grot vol goud hou Basjan en sy mense gevange en Matilda moet hulle red. Maar sy moet eers verby die seehekse kom …
9. Hondman |

Hondman
Dav Pilkey
ISBN: 9780798181198
Uitgewer: Human & Rousseau
Daar is ‘n nuwe soort polisieman op die toneel! George en Harold het ‘n nuwe held geskep wat bedrog uitgrou, sy kloue in kroeke inslaan en diewe omduik! Ben die hond en sy polisiehoof word beseer op diens, maar ‘n operasie verander ook lewe soos ons dit ken, en Hondman word gebore. Met die kop van ‘n hond en die lyf van ‘n mens, het hierdie heldhaftige hond ‘n neus vir geregtigheid. Maar is sy hondemaniere regtig iets van die verlede?
10. Hotel Ietermagô |

Hotel Ietermagô
Dianne Hofmeyr
Uitgewer: Tafelberg
Ietermagô wil beslis nie vir Aardvark as ’n buurman hê nie. Maar Aardvark wil net vriende wees! Daardie aand toe Aardvark boonop vir Ietermagô by sy gunstelingmiershoop voorlê, het hy ’n blink plan: Waarom nie die muur tussen hulle gate heeltemal afbreek en die blyplek deel nie? Met al die spasie kan hulle selfs ander diere nooi om te kom oorbly … ’n Innemende en baie snaakse storie oor ’n ongewone vriendskap op die grasvlaktes van Afrika.