Persverklaring
Die AVBOB Poësieprojek het die wenners van die vierde AVBOB Poësiekompetisie op Dinsdagaand 17 Augustus aangekondig en gevier. Die wenners in al 11 taalkategorieë het elk ’n kontantprys van R10 000 en ’n R2 500-boekgeskenkbewys ontvang. Die gedigte van die drie finaliste in elke taalkategorie is ook opgeneem in die jaarlikse bloemlesing, I wish I’d said … Vol. 4, wat bekendgestel is by hierdie roerende en opbouende geleentheid wat regstreeks op sosiale media gestroom is.
Kompetisie toon merkwaardige groei
“In elke kategorie, behalwe Afrikaans en Engels, is die wenner ’n jong digter! Dit spreek boekdele oor jongmense wat hul moedertaal praat. Dit vertoon ook die onontginde potensiaal van ons land se jeug, wat ’n groot bron van hoop vir die toekoms is.”
– Compère Rozanne McKenzie.
AVBOB-bestuurshoof, Carl van der Riet het gesê die AVBOB Poësieprojek is in Julie 2017 aangekondig met dié duidelike doelwit: “Om aan dié wat sprakeloos agtergelaat is weens hul verlies te voorsien van gedigte wat hul lyding verwoord. Die AVBOB Poësieprojek het dié benadering sedertdien voortgesit, wat ’n geloof in ubuntu insluit. Ons glo dat, deur dit vir elkeen van ons moontlik te maak om sy eie menslikheid te besef en te begryp, en dit deur ánder se menslikheid, dra ons by tot ons eie genesing en vernuwing, sowel as dié van ons gemeenskappe.”
Oor die merkwaardige groei van 35% in die getal 2020-inskrywings, naamlik 7 124 digters wat altesame 41 149 gedigte ingestuur het, het Van der Riet genoem dat dit byna presies dubbel die getal is wat in 2017, die eerste kompetisiejaar, voorgelê is. “In die afgelope vier jaar is altesame 121 629 gedigte ingedien en die aanlyn-AVBOB Poësiebiblioteek bevat nou meer as 14 000 gekeurde gedigte van bemoediging.” Hierdie werke is vryelik beskikbaar vir die publiek vir gebruik by begrafnisse en gedenkdienste, of net om te lees in daardie oomblikke wanneer inspirasie en vertroosting nodig is.
Vir elk van die 4 100 nuwe gedigte wat in 2020 tot die AVBOB Poësiebiblioteek toegevoeg is, het die digter ’n gebruikstarief van R300 ontvang. “Dit is gelykstaande aan ’n belegging in Suid-Afrikaanse digters van R1 230 000, ’n bewys dat AVBOB hom verbind het tot troos aan die treurendes,”het Van der Riet gesê.
Opvoedkundige waarde
Douglas Reid Skinner, Engels-redakteur en medevertaler van die wengedigte, het uit Londen gesê hy het ’n algehele verbetering in die gehalte van die 2020-inskrywings opgemerk, deurdat skrywers eerliker met hul emosies omgegaan het en verstegnies vaardiger was. Hy het die opvoedkundige waarde van die kompetisie aangeprys en gesê dat toekomstige wengedigte geskryf kan word indien digters eers die gedigte in die poësiebiblioteek lees. Hy het dit beklemtoon dat lees en studeer die enigste roete is tot die skryf van goeie poësie. “Daar is geen kortpaaie nie. Maklike uitweë bestaan nie.”
Hy het ook kommentaar gelewer op AVBOB se primêre rol om om te sien na oorledenes en bedroefdes, en sy sekondêre rol van ondersteuning aan opvoeding, die hoeksteen van enige gemeenskap. “Hulle plaas opgeknapte skeepsvraghouers vol boeke in skole om as biblioteke te dien, en hulle het al honderde miljoene rand aan die skole-infrastruktuurprojek geskenk. Hulle help om die toekoms te bou.”
Jaarlikse bloemlesing, volume 4 bekendgestel
Die jaarlikse bloemlesing, I wish I’d said … Vol. 4, wat by die aanlyn gala bekendgestel is, is saamgestel deur die hoofredakteur, Johann de Lange, en die Sesotho-redakteur, Rethabile Possa-Mogoera. Dit bevat die gedigte van die drie finaliste en ’n reeks opdraggedigte in elke amptelike taal, insluitende vier vertalings van Afrikaanse gedigte, geskryf deur Lynthia Julius, in !Xun Thali en Nama.
De Lange het gesê die gedigte wat in 2020 ontvang is, getuig van die manier waarop die pandemie die wêreld verander het, asook van gedeelde lyding. “Of dit ’n elegie of ’n grafskrif is, ’n jisei, haikoe of klaaglied, poësie bied vertroosting aan sterwendes en aan lewendes.”
Die wenners
In alfabetiese volgorde in elke taalkategorie is die 2021-AVBOB Poësie-pryswenners Jacques Coetzee (Afrikaans), Ann Scarborough Moore (Engels), Bongani Kleinbooi Skhosana (isiNdebele), Sinethemba Lusawana (isiXhosa), Hlulizitha Zwelihle Nxumalo (isiZulu), Tebogo Patricia Mamabolo (Sepedi), Thabang Khaba (Sesotho), Beauty Tlhabi (Setswana), Enocentia Matsebula (Siswati), Jeremiah Neluvhalani (Tshivenda) en Owen Maswanganye (Xitsonga).
Neem deel en bestel die bundel
Registreer aanlyn by www.avbobpoetry.co.za om aan die kompetisie deel te neem en om die gedigte in die poësiebiblioteek te lees. Om I Wish I’d Said … Vol. 4 te bestel, SMS die woord “poem” na 48423 (teen ’n standaardtarief van R1.50 per SMS) sodat dit aan jou gepos kan word teen die totale bedrag van R240. Dit is ook by die meeste vooraanstaade boekwinkels beskikbaar.
Vir navrae:
Charmain Pieterse
Bestuurder: Openbare Betrekkinge en Kommunikasie
E-pos: charmain@etal.co.za Tel. +27 79 941 4602
Die 2021-AVBOB Poësie-pryswenners in Afrikaans:
Wenner: Jacques Coetzee met sy gedig, Doepa vir Allenigheid
2e plek: Maretha Maartens met haar gedig, Die Senotaaf van Emmaus
3e plek: Salvia Ockhuis met haar gedig, Koud.
Meer oor Jacques Coetzee
Jacques Coetzee woon in Kaapstad saam met sy vrou en gidshond. Hy is ’n sanger-liedjieskrywer in die orkes Red Earth & Rust en ’n lektor in Engelse letterkunde by Unisa. Hy is die medeskrywer, saam met Barbara Fairhead, van ’n digbundel met die titel The Love Sheet, en sy debuutbundel, An Illuminated Darkness, is in 2020 deur uHlanga Press gepubliseer.

Gaan lees gerus meer oor die wenners in die ander taalkategorieё by avbobpoetry.co.za