Nes die see waarvoor sy so lief is, is Bianca Buitendag ‘n individu met vele fasette. Sag en rustig soos die lae gety wanneer sy met familie of vriende kan kuier, of soos tans haar daaglikse realiteit is, op straat voorgekeer word vir haar handtekening en foto’s. Terselfdertyd, nes ‘n brander wat nie in sy pad gestuit kan word nie, is Bianca ook vasbeslote, uiters hardwerkend, en onteenseglik sterk – alles bestanddele wat bygedra het tot haar silwermedalje-wen vir branderplankry in die onlangse Olimpiese Spele in Tokio.
Interessant: Het jy geweet branderplankry is een van vyf nuwe sportsoorte wat vanjaar die eerste keer by die Olimpiese Spele aangebied is?
Bianca is vinnig om by te voeg dat hierdie oorwinning nie alleen aan harde werk en talent toegeskryf kan word nie. ‘’Genade, onvoorwaardelike liefde, en ʼn plan wat God met my lewe het, het tot hierdie groot oomblik gelei,’’ vertel sy. Sy verwys ook dan vinnig na die vals positiewe Covid-19- toets wat etlike dae voor haar vertrek Tokio toe amper haar Olimpiese Spele-drome belemmer het … om dan nie eers te praat van die koppie koffie wat haar die bus na die Olimpiese-arena op die finale dag van die branderplankry-kompetisie laat verpas het nie. ‘’Baie het skeefgeloop, maar ʼn Suid-Afrikaner maak ʼn plan! Dit was ook genade van bo wat my deur elke hurdle gedra het. ‘n Ware wonderwerk.’’
Ons het met Bianca gesels om haar beter te leer ken, en het boonop soveel by haar geleer. Lees en leer saam …
Waarvandaan spruit jou liefde vir branderplankry? Is dit iets wat jy gedink het jy ooit professioneel sou doen?
Ek is daarin gebore, albei my ouers was mal oor die see, en ons was al van jongs af in die witwater gegooi. Elke naweek op pad na ʼn ander kusdorp, op soek na goeie waves. Dit was wel nooit iets wat ek gedink het ek sal professioneel doen nie, maar ek het elke geleentheid benut, en dit het toe wel so gebeur!
Jy is ‘n baie goeie voorbeeld van iemand wat jou talente tot ‘n maksimum ingespan het en die vrugte daarvan kon pluk.
Wat sal jou raad aan ander mense wees om dieselfde te doen met hulle talente?
Gebruik elke liewe geleentheid tot sy maksimum. Mens weet nooit hoeveel geleenthede jou pad sal oorkruis nie, maar as jy elkeen benut, sal mens nooit vra ‘’what if?’’ nie.
Branderplankry vereis dat ‘n mens ‘’voorbereid’’ moet wees op omstandighede, soos die weer en water, wat jy nie kan beheer nie.
Hoe verseker jy dat jy tot die beste van jou vermoë presteer gegewe onbeheerbare omstandighede?
Die beste voorbereiding is maar altyd tyd in die see. Dis ʼn baie intuïtiewe sport, en intuïsie is iets wat net met tyd ontwikkel kan word. Behalwe daarvoor, doen ek ook ‘n paar keer per week cross-training. Dit help ‘n mens om relatief fiks te bly en beserings te vermy.
Op die vraag oor die ervaring om die Olimpiese Spele by te woon, antwoord sy met ‘n glimlag dat sy nou al vir twee weke na woorde soek om dit te beskryf. Waarvan sy wel seker is, is dat sy dit nooit sal vergeet nie. Sy deel ook dan dat haar ouers, veral haar ma, haar go-getter-houding help kweek het.
‘’As ek eendag op die maan land, sal my ma vir my sê: “Hoekom is jy nie op Mars nie?” My ouers het vreeslik hard gewerk om vir ons geleenthede te gee, en verwag vreeslik baie terug … en ek is ‘up for the challenge’.
– Bianca Buitendag
Alhoewel die Olimpiese Spele beslis as groot mylpaal deur Bianca geag word, is dit vinnig duidelik dat dié sport haar al veel meer as titels en eer in die sak gebring het. Bianca vertel in haar eie woorde …
Wat het die see jou van die lewe geleer?
So baie! Maar meestal – mens is nie in beheer van jou lewe nie, mens is uiters afhanklik.
Jy het al baie oor die wêreld heen gereis. Dit leer mens soms om jou eie land meer te waardeer.
Watter positiewe aspekte van Suid-Afrika wens jy mense wil meer raaksien?
Sjoe, te veel. Ek was al orals, en het nog nêrens ʼn land gevind wat enigsins met Suid-Afrika kan vergelyk nie. Ek is so trots om ʼn Suid-Afrikaner te wees – ek kan dit nie eers in woorde beskryf nie! ‘n Mens het soveel vryheid, avontuur, warmte, en gemeenskap – geen ontwikkelde land kan dit wat ons hier het, in my opinie, vir jou bied nie. Ek sou dit beslis uitlig as iets wat ek graag sou wou hê mense moet meer waardeer.
Terug op tuisbodem, tree Bianca amptelik af as professionele branderplankryer. Soos net sy kan, is sy egter reeds besig om haar tyd en talente in te span om aan van haar ander passies en projekte aandag te gee. Liefdadigheid lê haar veral na aan die hart. ‘’Ek is oortuig mens kry meer daaruit as wat mens gee. Wel, dit is in my geval so. En mens onderskat hoe BAIE ʼn KLEIN BIETJIE vir iemand kan beteken,’’ sê sy. Bianca is betrokke by Life Community Service in George. Hierdie NGO bestaan reeds vir meer as 20 jaar. Sy gaan haarself vir die volgende maande toespits om fondsinsameling vir hierdie projek te behartig. Hul groot doelwit is om volgende jaar, as deel van die projek, ‘n laerskool te bou. Vir meer inligting, besoek https://www.lifecommunity.co.za/life-village/.