“Vrouwees beteken baie dinge. Dit beteken dat jy sterker is as wat jy dink jy is, vrouwees is menswees – jy kan besluit wie jy wil wees. Onthou, ‘n moeilike pad bring jou altyd by ‘n baie mooi bestemming.”
– René Arendse, motiveringspreker en Afrikaans.com se gemeenskapskoördineerder
Op Saterdag, 11 Augustus 2021, kon vroue (en mans) van oraloor regstreeks inskakel by die KKNK se webblad en Facebookblad om saam te kuier vir ‘n Ommietafel-gesprek oor “Vrouwees”. Die geleentheid is aangebied deur die KKNK, Vriende van Afrikaans, die ATKV en Afrikaans.com. Afrikaans.com se gemeenskapskoördineerder, René Arendse, self ‘n inspirerende vrou uit eie reg, het die gesprek gelei.
René Arendse
Kyk hier na die video van hierdie inspirerende Ommietafel-gesprek oor “Vrouwees”. Die gesprek begin amptelik op minuut 36.
Tydens die gesprek het René die voorreg gehad om met die digter, skrywer en storieverteller Diana Ferrus, die skrywer en “Keimoesmeisie” Anzil Kulsen en die vryskutskrywer Tania Smit, te gesels. Die gesprek het gegaan oor vrouwees, die mooi en die moeilik, die verlede en die toekoms, maar veral die vrou se bydrae tot haar gemeenskap, tot nasiebou, die welslae wat hulle bereik, maar ook die uitdagings wat hulle moet oorkom. Daar is gesels oor die drie inspirerende vroue se werk, oor ouerskapstyl, wat hulle moedertaal vir hulle beteken en wat dit is wat hulle inspireer.
Diana Ferrus
“Ubuntu – ek is as gevolg van jou en jy is as gevolg van my.”
– Diana Ferrus
Diana Ferrus is wêreldwyd bekend vir haar gedig “I’ve come to take you home” – Ek is hier om jou huis toe te neem – en sy was ook instrumenteel in die terugbring van die gebeendere van die inheemse Khoivrou, Sarah Baartman, na haar land van geboorte. Diana beskryf haarself as ‘n doodgewone vrou met ‘n passie vir woorde en ‘n passie vir mense.
Haar raad is om jouself te ken, jouself te wees en nie na ander mense te kyk om jou volledig te maak nie. Elkeen van ons is voltooid – kyk binnetoe, want niemand anders gaan van jou ‘n volle mens maak nie. Sy word geїnspireer deur ander dop te hou, ander se stories, musiek, kunswerke, ander se boeke en haar eie lewe. Volgens Diana lê die vrou se rol om ‘n nasie te bou daarin opgesluit om onsself te vra wat ons as individu gaan doen om ‘n verskil te maak … en dit dan te doen.
Haar gunstelingwoord? “Aitsa!” Die woord reflekteer die positiewe en is vir haar ‘n sagte, dansende woord wat ander mense laat goed voel.
Anzil Kulsen
“Onse taal is soos ‘n baba se bollewange waaraan jy net wil knyp – gee die taal die geleentheid om poenankies te wees …”
– Anzil Kulsen
Anzil Kulsen het nog altyd haar verbeelding vrye teuels gegee deur stories te skryf en gebruik ook skryf as terapie. Deur haar werk by die ATKV, help Anzil ander skrywers om hulle skryfdrome te verwesenlik. Anzil kom uit ‘n generasie van sterk vroue waar opgee nie ‘n opsie is nie en al is haar manuskripte keer op keer afgekeur en is sy deur ander aangeraai om haar droom te laat vaar, het sy aangehou en het haar “oomblik” uiteindelik aangebreek.
Anzil glo ook dat dit belangrik is vir skrywers om getrou en eg om te gaan met hulle karakters en dat hulle getrou aan hulle aard uitgebeeld moet word – “laat hulle praat soos wat die mense daar praat”. Anzil sê wat haar inspireer is die idee van groei en die groeiproses en daarom glo sy: “As jy nie groei nie, gaan jy vrot.”
Tania Smit
“Jou moedertaal is alles, want jou moedertaal is ook jou hart se taal.”
– Tania Smit
Tania Smit van Oudtshoorn se boeke “Hekelwoorde van my hart” en “Heelword” word wyd gelees en dien as inspirasie vir soveel vroue. Geen wonder dat haar Facebookblad, Hekelwoorde, meer as 40 000 volgers het nie. Tania vertel dat sy met haar hart op haar mou loop en haar doel in die lewe sien as iemand om ander te help en te inspireer deur haar stories. Tania glo dat vroue ‘n ander taal as mans praat – daarom moet elkeen van ons ons eie stem ken as ons ‘n bydrae tot die groot taal van vrouens wil maak.
Tania sê sy word geїnspireer deur mense en is lief om die waarheid in mense raak te sien – “die mense van die lewe is vir my mooi en inspireer my”. Dit is dan ook vir haar belangrik dat haar hier wees op die aarde, vorentoe sal saak maak. “Elke minuut tel en jy moet dink hoe jy jou minute spandeer.”