Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
“Om te verstaan waaroor Paarman Foods gaan, moet jy glo in drome, die goeie gees wanneer ervarings gedeel word en die positiewe energie wat uitgestraal word wanneer mense ’n doel omarm waarin hulle met hul hele hart glo.”
– Ina Paarman
Hetsy ’n slaaisous, ’n geurige spesery of ’n vinnige sjokoladekoekmengsel – die geure van Ina Paarman het al vele disse gered en gesorg vir talle laaste-minuut nageregsuksesse!
Maar wie is Ina Paarman en waar het die sukses van die handelsmerk begin?
In 1982 het Ina haar pos as huishoudkunde-dosent vaarwel geroep om ’n ander kosmaakdroom na te jaag en ’n kookskool in haar motorhuis te begin. Aanvanklik het dié jong besigheid swaar getrek aangesien mense steeds skepties was om te betaal vir kooklesse.
Met beperkte kapitaal vir bemarking, het Ina haar seuns ingespan om met hul fietse deur die buurt te ry en pamflette in mense se posbusse af te lewer. Na sewe jaar was die besigheid egter ’n reusesukses en het ’n ander geleentheid aan Ina se deur kom klop. Haar seun Graham het op daardie stadium sy besigheidsgraad voltooi en het aangebied om saam met Ina ’n besigheid te begin. Met die opbrengs van Ina se boek “Cook with Ina Paarman” en die finansiële hupstoot van haar man Ted (wat sy pensioen in die besigheid gedelf het), is die Ina Paarman-handelsmerk gevestig.
Vandag, na 25 jaar, is die naam Ina Paarman bekend op almal se lippe en staan dit sy plek vol in talle Suid-Afrikaanse kombuise. Die handelsmerk het nie alleenlik naam gemaak op eie bodem nie, maar is tans ook beskikbaar in 32 lande regoor die wêreld.
Maar hoe word mens ’n huishoudelike naam wat op al wat ’n speseryrak in Suid-Afrika pronk? Afrikaans.com het met Ina gesels om meer te leer oor dié kos-ikoon se lewe en om uit te vind wat haar resep vir sukses is.
Waar kom jou liefde vir kos vandaan?
My ouma het my geleer hoe om te proe en te ruik. Die tyd wat ek saam met haar in die kombuis spandeer het, het ’n waardering by my geskep vir kwaliteit, vars bestanddele en goeie werksetiket.
Wat was die eerste Ina Paarman-resep wat kommersieel beskikbaar gestel is?
Seasoned Sea Salt (my ouma se geheime resep!)
Waaraan sal jy die handelsmerk se sukses toeskryf?
Om na ons kliënte te luister en hul behoeftes in ag te neem. Ons spesialiseer in geure sonder moeite en resepte vir mense wat nie baie tyd tot hul beskikking het nie.
Wat, dink jy, onderskei Suid-Afrikaanse kos/geure van dié van ander lande?
Ons geure is groot en braaf. Ek noem dit die “marsmusiek” van die koswêreld.
Ek kan my indink dat die proses om ’n finale resep te kies, nogal lank kan duur. Hoe weet mens as jy ’n wenresep het?
’n Mens moet jou eie oordeel vertrou! As dit goed genoeg is om by die huis te bedien, dan sal dit ook goed genoeg wees vir ons kliënte.
Wat is jou gunsteling- Ina Paarman-produk en hoekom?
My gunstelingproduk? Dis moeilik! Dis soos om vir iemand te vra wie hul gunstelingkind is. Wanneer dit kom by groente is ek lief vir ons groentespesery (Vegetable Spice), vir vleis, ons knoffel-peperspesery (Garlic Pepper Seasoning), vir kerries ons Tikka-kerriesous (Tikka Curry Sauce) en ons kaassous vir bykans enige ding! In die bakreeks, is dit definitief ons sjokoladekoek en -bruintjies (brownies).
Wat sou jy sê is jou resep vir sukses?
My resep vir sukses is om aanhoudend te strewe na die beste, harde werk, om lang ure in te sit en natuurlik om ’n goeie span te hê wat dieselfde waardesisteme en werksetiek het.
Wat hou die toekoms vir jou in?
Vra jy my of ek beplan om af te tree? Die antwoord is NEE. Ek het hopeloos te veel pret en my seun Graham is ’n inspirasie om mee saam te werk. Ons uitvoermark is besig om te groei en Suid-Afrika is ’n wonderlike land vir voedselproduksie aangesien ons sulke ongelooflike landbouprodukte het.
Indien jy die geleentheid sou kry, watter raad sou jy aan die 25-jarige Ina Paarman wou gee?
Dit is maklik om slim te klink na die geleentheid! Ek sou graag meer tyd saam met my kinders wou spandeer. Ons het al foute in die besigheid gemaak met personeelaanstellings, maar dit is die “skoolgeld” wat mens vir kennis en ervaring betaal. So, op die ou einde, sou ek seker maar dieselfde roete gevolg het. Belê en herbelê in die besigheid en moet nooit jou familie afskeep of kwalitieit inperk nie.