Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ouers bevind hulself dikwels in situasies waar hulle moeilike onderwerpe, soos byvoorbeeld die dood van ’n familielid, met hulle kinders moet bespreek en dan onseker is oor hoe om dit te benader. Gaan soek ’n mens na leiding, is daar wel boeke oor die onderwerpe, maar nie altyd noodwendig ouderdomsgepas nie, want dit bly belangrik om die gesprekke lig te hou en in verstaanbare taal wat die kind kan verwerk, te gesels.
Die predikant, musikant, spelterapeut en skrywer Siegfried Louw het hierdie leemte in die literatuur raakgesien en ’n reeks geїllustreerde kinderboeke geskryf om hiermee te help. Afrikaans.com het met Siegfried gesels oor wat hom laat besluit het om die boekies te skryf, maar ook om meer te wete te kom oor die mens agter die stories. Die eerste boekie in die reeks, Die klip in Lisa se borskas, gaan oor verlies. Siegfried gesels daaroor en gee ook nuttige wenke.
Wie is Siegfried Louw?
Waar is jy gebore, het jy grootgeword en so meer? En wat beskou jy as jou groter doel in die lewe.
Ek is gebore in Beaufort-Wes en het grootgeword in Vryheid, Natal. Van hoërskooldae af was ek in die Kaap. Ek het my vrou, Elfreda, in Hoërskool Belville ontmoet. My vrou was ʼn fisioterapeut, maar is tans ʼn boekhouer. My oudste kind, Leandri, studeer musiek aan die Universiteit Stellenbosch. My seun, Carlo, is tans in matriek en beoog om volgende jaar te begin met Film & Media Studies aan die Universiteit van Kaapstad.
Ek beleef my “groter doel” as om mense te help om hulle plek in die lewe op prettige maniere te vind. Die dinge in die lewe wat werklik saak maak, vra ligtheid en humor van ons. Stories, humor, beelde en skoonheid nooi ons binnekant om te “engage” met ons buitekant. Die meeste inhoud van die Bybel is verhale, gelykenisse en poësie wat ons help om meer raak te sien as net die wêreld om ons.
Jou boekies hanteer moeilike onderwerpe op ’n eenvoudige manier en bemagtig volwassenes om kwessies soos verlies en so meer op ouderdomsgepaste wyse met hulle kinders te bespreek.
Wat was die dryfveer agter hierdie reeks vir kinders?
Ek wou lankal stories skryf wat kinders help om ongesiens woorde te kry wat hulle help: woorde wat iets sê van wat hulle voel. Maar ook wat nuwe moontlikhede oopmaak.
Die intensiteit van verliese met Covid-19 was ʼn groot dryfveer vir die eerste van die boekies. Ek het ʼn foto gesien van kleinkinders wat by ʼn hospitaalvenster vir hulle ouma moes waai. Sy het nie weer uit die hospitaal gekom nie. Dit het my geweldig omgekrap. Ek het verhale gehoor van gemeentelede wat in die tuin van ʼn hospitaal moes wag vir ʼn pa om uit die hoёsorgeenheid te kom. Hy het uiteindelik ook gesterf. Hoe verwoord ʼn mens daardie verlies?
Kinders se taal is nie altyd so ontwikkel soos volwassenes sʼn nie. Ek het vir jare reeds opgelet hoe hulle wel bewus is van wat hulle in hulle liggame voel wanneer hulle verlies ervaar. Hulle weet nog hoe om dít te sê en te verduidelik, al ken hulle nog nie die name van die emosies nie. Ek het besluit om deur ʼn verhaal te probeer om taal te gee aan die ervaring van kinders wat verlies ervaar. Grootmense se uitdaging is dikwels andersom. Ons het soveel woorde en pratery aangeleer, dat ons ons liggame se reaksies op ons ervarings ignoreer. En dan hoor kinders en ouers mekaar nie.
Hoe verduidelik ’n mens dit aan ’n kind?
Die dood word op soveel maniere voorgestel aan ons kinders – dink maar aan gewelddadige dood, siekte – nou selfs covid – hoe verduidelik ’n mens dit aan ’n kind dat hulle dit nie sien as iets om te vrees nie en ook dat dit nie iets is wat hulle gedoen het dat dit gebeur het nie.
In hiérdie lewe is dood deel van die lewe. Dit is nie regtig iets wat veronderstel is om privaat agter glasdeure te gebeur nie. Enigiemand wat by ʼn hospice werk, sal byvoorbeeld vir jou kan vertel van die heilige grond waarop hulle daagliks loop. As ons bly is oor die geboorte van ʼn baba, beteken dit eintlik dat ons teen die einde van daardie persoon se lewe dankbaar sal wees vir die dae waarop hy/sy hier was.
Voordat ek iets aan ʼn kind sal wil verduidelik, sal ek eers seker maak presies waaroor die kind wonder en vrae het. As ʼn kind bang is vir die dood van ʼn ouer, beteken dit eintlik hy/sy is bang vir die verlies wat dit gaan inhou. Dit is natuurlik om nie daardie verlies te wil hê nie. Laat die kind toe om bang te wees en dit te sê. Die waarheid is dat niemand van ons weet of ons môre nog hier is nie.
Ek sal seker maak ek verstaan ʼn kind se vrae. Indien “skuld” of “skuldgevoel” na vore kom, sal ek dit net eenvoudig sê dat die dood nie iemand se skuld hoef te wees nie. En dan glo ek dat gelowiges die grootste troos het: Ons glo dat die dood ons nie uit God se hand kan wegvat nie.
Verlies strek verder as net die dood van ’n geliefde familielid, vriend of selfs ’n troeteldier. Dikwels is verlies ook gekoppel aan skeiding (wanneer ouers skei) of wanneer ’n geliefde ouma of oupa wegtrek en die kind dan voel hulle is nie meer daar nie.
Hoe verduidelik ’n mens hierdie ander soort verlies aan ’n kind?
Dit is goed om ʼn kind te help om te verstaan wat die verlies alles behels. Maar weer eens sal ek by die kind begin. Ouer kinders kan byvoorbeeld self ʼn lysie maak van alles wat hulle verloor het. Jy kan die lysie aanvul as dit jou kind help om te verstaan. Kleiner kinders kan dalk prentjies teken van wat hulle dink hulle alles verloor het. Ongelukkig kan ons nie altyd ons kinders red van die pyn nie. Ons werk is dan om kinders te help om te verstaan wat hulle voel en hulle toe te laat om dit te voel. Hulle kan ook weet dat hulle op ʼn ander dag weer beter sal voel. Want ons is gemaak om te kan herstel. Ons moenie kinders laat dink daar is iets verkeerd met hulle as hulle hartseer voel oor verlies wat hulle beleef nie. “Hold the space” vir jou kind.

Wanneer weet ’n mens dat die kind meer as net gesels met ’n ouer nodig het om sy verlies te verwerk?
Is daar tekens wat daarop dui? En wie nader ’n mens dan.
Tekens dat jou kind hulp nodig het:
- Hy/sy haak by een emosie vas. Die vermoë om iets te geniet, al is dit net vir ʼn rukkie, is weg.
- Herhalende woede-uitbarstings wat voortduur, selfs al het jy met geduld jou kind uitgeluister en gehelp om te verstaan wat gebeur.
- Regressie: jou kind se taal gaan skielik agteruit, hy/sy begin weer bed natmaak of sien skielik nie meer kans om meer alleen te slaap nie.
- Psigosomatiese simptome wat gereeld terugkeer (bv. maagpyn sonder rede, lam gevoel in die bene, kopseer, moegheid wat nie weggaan nie).
- Jy self is so moedeloos en op, jy het as ouer nie die krag en geduld vir ʼn kind wat “moeilik” voorkom nie.
Ek sal die kind by ʼn sielkundige uitkry wat spesialiseer in kinderterapie. Sommige sielkundiges en maatskaplike werkers is ook spelterapeute. Dit is ʼn manier van terapie wat kinders se wêreld goed verstaan en hulle ontmoet waar hulle is.
Ouers kan dalk nie dadelik by ’n kundige uitkom nie.
Is daar wenke oor hoe hulle die situasie op korttermyn kan benader?
- Maak seker julle hou by ʼn vaste daaglikse roetine, so goed en sonder onnodige spanning as wat julle kan.
- Hierdie roetine moet tyd maak vir refleksie oor die dag: Wat was lekker? Wat was nie lekker nie?
- Doen ontspannende dinge saam met jou kind. Laat hy/sy soms die aktiwiteite kies en jy val in by die speletjie of aktiwiteit.
- Sê die gedrag wat jy sien, sonder om te raas. En verwoord wat jy dink. Bv.: “Mamma sien jy het nie jou kos geëet by die skool vandag nie. Ek raai jou maag was weer seer?”
- Dikwels is daar baie meer ouers wat dieselfde tipe uitdagings as jy moet hanteer. Kyk of jy nie ʼn plaaslike ondersteuningsgroep kan begin nie. Nader jou gemeente of skool met so ʼn voorstel. Soms help ouers mekaar deur mekaar uit te luister en so begrip vir hulself te kry. Terapeute doen wonderlike werk, maar dikwels het mense, kinders ingesluit, werklik net eers iemand nodig wat luister, begrip het en jou toelaat om te ervaar wat jy ervaar. Ondersteuningsgroepe se rol is om vir mekaar so ʼn ruimte te gee, waar ons mekaar nie wil regruk of die pyn so gou as moontlik wil wegneem nie.
Die klip in Lisa se borskas – oor die dood van ’n geliefde en hoe om kinders te leer om verlies te hanteer.
Soos Lisa, ken baie van ons daardie hartseer wat so intens is dat dit soos ’n klip in jou borskas voel. Die meeste van ons weet egter nie wat om met die klip te maak nie. Kinders weet nog minder hoe om trauma en verlies te hanteer en te verwerk. Dit is ’n storie wat sê die liefde is altyd sterker as die dood. Deur Lisa se storie ontdek kinders dat hulle uniek is, dat daar dinge en mense is wat hulle help om deur die moeilike tye van die lewe te kom, en dat die liefde nooit weggaan nie. Agter in die boek is tien bevestigings vir wanneer jy (of ’n kind) iemand verloor het.
Lisa se storie sal jou hiermee help:
- Verwerk die dood van ’n geliefde.
- Omarm jou emosies vir wat dit is.
- Leer dat jou manier van verlies hanteer uniek is.
- Weet dat jy mág voel wat jy voel.
- Ontdek hoe gelowiges saam verlies verwerk.
- Vind hoop vir die toekoms, al voel vandag dalk swaar.
Bestel die boekie hier
Die boekies word deur Bybel-Media uitgegee en is reeds in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar. Klik hier om jou boekie te bestel.
