Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Ek wil elke persoon wat deur aanneming geskei is aanmoedig om jou ma of kind te soek. Dit is die ENIGSTE manier om “closure” te kry.
Ek is nie kwaad vir haar nie en ek hoop en bid dat sy tog eendag met my sal kontak maak. Wie weet, dalk is dit net vir haar onmoontlik.
Ek wil elke ma en kind aanmoedig om te soek. Dit is absoluut die moeite werd. Nou weet ek waarheen ek op pad is, want ek weet nou waar ek vandaan kom.
Om ’n kind aan te neem of te laat aanneem, is nie ’n maklike besluit nie. Daar is ook uitlopende redes waarom mense besluit om aan te neem. Gesels ’n mens egter met ouers wat die dikwels langsame en soms frustrerende paadjie suksesvol gestap het, kom jy agter dat dit oor en oor die moeite werd is, ongeag die moeilike tye en ook die rompslomp van die administrasie- en regsproses daaraan verbonde.
Vir die aangenome kind is dit ook nie altyd ’n maklike proses nie en kom daardie soeke na ’n eie identiteit dikwels na vore – veral na puberteit. Dit gaan dan ook gepaard met onsekerheid – by die kind, maar ook die aanneemouers. “Sê nou maar net sy is liewer vir haar biologiese ma as vir my …” is dikwels ’n gedagte wat deur so ’n aanneemmamma se kop gaan – al is sy ook hoe geanker en emosioneel volwasse. Die ontmoeting met die biologiese ma (en/of familie) is ook nie noodwendig ’n positiewe ervaring nie. Dit lei dan tot verdere probleme en dra by tot die kind se trauma. Want … die aanneemkind is baie dikwels – selfs voor geboorte – aan trauma blootgestel. Gelukkig is daar ook talle pragtige verhale van aanneemgesinne wat net die positiewe ervaar het.
Moet jy jou kind vertel hy is aangeneem?
Die kliniese sielkundige, Tertia de Klerk, sê dat dit die beste is dat daar nooit ’n geheim gehou word nie en dat die kind grootword met die wete dat hy aangeneem is. Geheimhouding lei tot spanning in verhoudings, agterdog en wantroue en manifesteer dikwels in lae selfwaarde by kinders. Groter kinders of jong volwassenes wat uitvind van hul aanneming is dikwels ontnugter en kwaad. Hulle kan ook heelwat hartseer ervaar en voel dat hulle in die steek gelaat is en ’n leuen geleef het – selfs al het die aangenome persoon en sy familie ’n liefdevolle verhouding.
Op watter ouderdom moet jy vir jou kind vertel hy is aangeneem?
Vroeёr jare is daar geglo dat aanneming ’n geheim moet bly. Trouens in die 70’s het die meeste ouers nie vir hulle kinders vertel nie. Dit het natuurlik tot heelwat hartseer gelei wanneer die kind – dikwels reeds ’n volwassene – op ’n dag die waarheid agterkom, want ongeag die persoon se ouderdom, om skielik te hoor jou “storie en identiteit” is nie wat jy gedink het dit is nie, bly ’n traumatiese ervaring. Vandag, weet ons, is die bordjies verhang en beveel kundiges aan dat die kind reeds op jong ouderdom vertel moet word – hoe jonger hoe beter. In ’n studie gedoen deur professor Amanda Baden van die Montclair State-universiteit, het die resultate getoon dat openbaarmaking van ’n aanneming na die ouderdom van drie, negatiewe gevolge vir die kind in sy latere lewe kan inhou en selfs ’n impak op sy geestesgesondheid kan hê.
Vertel self vir jou kind
“Jou kind hoef nie alles oor sy aanneming te verstaan nie – solank hy die belangrikste goed verstaan. Die res van die feite sal in plek val namate hy ouer raak.”
– prof Amanda Baden, navorser en akademikus en self aangenome
Aanneemouers is dikwels huiwerig om hulle kind die waarheid te vertel, hoofsaaklik omdat hulle bang is dat dit die verhouding met hulle kind negatief sal raak. Navorsing het egter bewys dat dit die beste vir ’n aangenome kind is om dit by sy ouers te hoor.
Belangrik om te weet, is dat al praat jou kind nie oor sy aanneming nie, dit nie beteken hy dink nooit daaraan nie. Aangenome kinders dink wel dikwels daaraan, maar sal stilbly omdat hulle nie hulle ouers wil seermaak of ontstel nie. Moet dus nie wag totdat jou kind vrae vra nie. Vind geleenthede om daaroor te praat. Dalk kan jou kind mooi sing en kan jy vir hom sê dat jy wonder of sy biologiese ma ook so mooi kon sing.
Nog redes hoekom jy jou kind moet vertel:
- Jou kind kan van iemand anders hoor dat hy aangeneem is of ontdek dalk dokumente en dit kan uiters ontstellend wees.
- Dit help jou kind om sy genetika te begryp. Dalk kan hy toetse ondergaan om uit te vind of hy dalk ‘n risiko loop vir sekere mediese toestande.
- Jy bemagtig jou kind om keuses uit te oefen. So kan die kind self besluit of hy meer oor sy biologiese familie te wete wil kom.

Wenke vir aanneemouers
“‘n Gewilde manier om aanneming te verduidelik vir jonger kinders is om te vertel dat daar ’n bloed- mamma en pappa en ’n hart- mamma en pappa is.”
– Tertia de Klerk, kliniese sielkundige
Aanneming is nie elke dag maklik nie, al is dit die grootste vreugde wat ’n mens kan ervaar. Die meeste aannemingsinstansies gee goeie raad en ondersteuning aan voornemende en bestaande aanneemouers. Ook belangrik is:
- Om jou eie trauma en hartseer te verwerk sodat dit nie na jou aangenome kind oorgedra word nie.
- Om in te skakel by ’n ondersteuningsgroep. So ontmoet jy ouers in dieselfde bootjie en voel jy nie jy is alleen wanneer dit dalk moeilik gaan nie. Of gesels met ’n terapeut.
- Om jouself te bemagtig deur navorsing te doen. Lees alles oor die onderwerp en pas die raad toe as dit op jou omstandighede van toepassing is. Alhoewel daar nie baie boeke oor die onderwerp in Afrikaans beskikbaar is nie, is daar wel heelwat boeke in Engels beskikbaar en kan dit byvoorbeeld bestel word by Amazon.com. Van die boeke is Susan and Gordon adopt a baby; The day we met you; How I was adopted; Tell me again about the night I was born.
- Om gereeld oor aanneming met jou kind – selfs nog voordat hy verstaan – te praat. Hou die gesprekke eenvoudig, positief en ouderdomsgepas.
- Om ’n storie daarvan te maak. Net soos wat jy vir jou kind elke aand ’n slaaptydstorie lees, kan jy ook die verhaal van sy aanneming soos ’n storie hanteer. Kinders hou daarvan om te hoor waar hulle vandaan kom, waar jy hulle die eerste keer gesien het, vasgehou het, wat hy aangehad het, of dit koud of warm was, dalk gereёn het. Met ander woorde – deel jou herinneringe sodat dit ook jou kind se herinneringe word.
Nog wenke
- Waardeer jou kind se identiteit. Vind soveel as moontlik uit oor jou kind se agtergrond en/of kultuur. Moedig dan die kind aan om openlik hieroor te praat en om trots te wees op sy herkoms.
- Hou vanaf dag een ’n foto-album en/of sit spesiale items in ’n onthou-boksie en kyk saam met die kind daarna. Dit laat die kind gekoester voel en is ook die ideale geleentheid om oor die aanneming te praat.
- Wees geduldig as jou kind weer en weer oor sy aanneming wil praat en hou aan om hom gerus te stel. Trouens, die kliniese sielkundige Tertia de Klerk sê dat deur altyd bereid te wees om oor die aanneming te praat, toeganklikheid skep en vertroue en selfwaarde bou. As die kind voel hy mag nie daaroor praat nie, lei dit dikwels tot oormatige skuldgevoelens.
- As jou kind kwaad raak tydens die gesprek, is dit normaal, en kan jy slegs probeer om hom veilig te laat voel en sy onsekerhede, twyfel en emosies bespreek.
- Indien jou kind op ’n stadium graag sy biologiese ma/ouers wil ontmoet, is dit belangrik om hom te ondersteun en te help om met behulp van ’n professionele persoon die bal aan die rol te sit. Jou voortgesette ondersteuning tydens hierdie dikwels moeilike proses is van onskatbare waarde, veral as die uitkoms nie so positief is as wat die kind gehoop het nie. Jou kind moet weet dat jy daar is vir hom, wat ook al gebeur.
- “Jy is nie my regte ma nie!” Eina! Ja, dit maak seer, maar is ook die ideale geleentheid om met jou kind daaroor te praat en te vra of hy dalk wonder wat sy biologiese ma of pa in die situasie sou doen. Op die manier demonstreer jy aan jou kind dat hy maar mag wonder en oor die onderwerpe kan praat.
- Laat jou kind toe om homself te wees. Moenie vir die kind sê jy het hom aangeneem omdat hy so spesiaal is nie. Dit klink dalk skadeloos en jy bedoel dit goed, maar die kind kan begin voel dat hy spesiaal moet wees om jou liefde te behou. Soos dat hy akademies moet presteer en die beste swemmer moet wees.
Die kliniese sielkundige, Tertia de Klerk, vertel dat sy dikwels in haar praktyk te doene kry met volwassenes wat met sekere aspekte van hulle aanneming worstel. Sy deel ’n paar van haar gedagtes hieroor:
- As ’n aanneming openlik in die gesin hanteer word, word ’n kind nooit verras of getraumatiseer deur ’n groot onthulling nie en kan hy ook die opmerkings en vrae van ander baie beter hanteer.
- Soos kinders deur hulle ontwikkelingsfases gaan, ontwikkel hulle self vrae. Antwoord die vrae feitlik en op ’n direkte, oop en eerlike wyse. Dit bou vertroue – nie net in julle verhouding nie, maar bou ook die kind se selfwaarde.
- Dit is veral rondom 16 dat vrae begin ontwikkel rondom hulle eie identiteit en dit kan ‘n moeilike fase wees om te navigeer. Dis egter belangrik dat ouers nie alles oor die boeg van aanneming gooi nie. Baie tieners in die fase voel alleen, is moelik, kwaad vir hulle ouers en verwerp dikwels ouers se insette en gesag. Dit is heeltemal toepaslik in die fase en nie noodwendig as gevolg van die aannneming nie. Laat hulle toe om hulle vrae te vra, gee ruimte vir uitdrukking van emosie, hou goeie grense in plek, wees betrokke in jou kind se lewe en moet nie die gedrag persoonlik opneem nie. Onthou die kind verwerp jou nie as hy kwaad is vir sy omstandighede nie.
Kinders wonder dikwels “hoekom?”
“Ondervang die kind se emosie. Dit is belangrik dat hulle ’n bewustheid ontwikkel dat hulle nie vir aanneming gegee is oor iets wat hulle was of nie was nie, maar dat die oorsprong van die aksie in die ouer lê. Hulle het dit nie veroorsaak nie. Hulle is genoeg.”
Kinders wonder baie keer oor hoekom hulle ouers en veral hulle ma hulle dan weggegee het of nie wou hê nie. As hierdie vraag onbeantwoord gaan, baan dit die weg vir gevoelens van verwerping of die vrees vir verwerping om pos te vat. Die vrees vir verwerping kan al hulle verhoudings beïnvloed. Gee feitelike inligting en bou empatie vir die biologiese ouer.
Daar is gewoonlik ’n behoefte om hul biologiese ouers te ontmoet. Dit is ’n natuurlike behoefte in die mens om meer oor sy biologiese oorsprong te weet. Dikwels is dit tussen die ouderdom van 18 -25 dat hulle begin nuuskierig raak en wil kontak maak met hulle biologiese ouers. Hulle wonder oor na wie hulle lyk en aard en of daar ander familie is. Vir jou as ouer kan dit bedreigend en seer wees, maar dit is ’n realitieit in die proses van aanneming.
“So baie faktore speel ’n rol. Onthou jy en jou kind gaan saam deur die moeilike proses en dat dit nie iets is wat die een aan die ander doen nie. Ondersteun jou kind en maak ook staat op jou eie steunstelsels.”
Dit is op die stadium soms aangewese vir die ouers om ’n paar gesprekke met ’n professionele persoon te hê rakende hulle eie emosie. Sommige kinders wil bloot weet, wie en waar hulle biologiese ouers is en bou nooit ’n verhouding met die biologiese ouers nie, ander vorm wel ’n band en is opgewonde oor ’n uitgebreide gesin. Soms is kinders bitter teleurgestel. Dit is moeilik om te voorspel hoe dit gaan uitspeel.
‘n Aanneemouer vertel
Afrikaans.com het met Bianca* gesels en haar gevra om ons meer te vertel oor hulle ervaring. Ons gebruik ‘n skuilnaam om die kinders se identiteite te beskerm. Die gesin het ook ‘n seun in pleegsorg wat hulle lank reeds wettiglik wil aanneem, maar soos Bianca vertel, geld totaal ander reёls in die geval en is dit ‘n proses wat reeds jare duur. (Vir die doel van die artikel fokus ons dus net op die reeds aangenome kind.)
“Ons het ons dogtertjie nege jaar gelede aangeneem. ‘n Proses wat ons reeds twee jaar vantevore begin het, maar wat toe op die ou end baie vinnig gebeur het.
“Ons het lank gewag om kinders te hê en toe dit nie gebeur nie, het ons besluit om aan te neem. Ons moes baie verslae oor onsself, verklarings van ons dokters asook getuigskrifte indien. Ons het sielkundige toetse afgelê en voorbereidingsklasse bygewoon. Ons moes ‘n profielboek saamstel met foto’s en dies meer en die biologiese mamma het ons toe gekies vanuit ‘n paar opsies wat vir haar voorgelê is as goeie passings vir haar kind. Dit was so ‘n groot seёn.”
Wanneer het julle haar vertel sy is aangeneem?
“Van die begin af – sy was nog ‘n baba in my arms en dit was baie moeilik, maar met oor en oor vertel, het dit makliker geraak en so kon ek toe gemaklik voel om vrae te antwoord toe sy wel kon verstaan en daaroor praat. Ons het nog altyd probeer om haar vrae eerlik en geduldig te beantwoord. Dit is deel van haar identiteit en sy leer nou fase vir fase in haar ontwikkeling om te aanvaar dat sy aangenome is. Ek het ook gevind dat dit makliker is om haar vrae te beantwoord omdat sy nog klein was.
“Selfs al is die kind gelukkig en is daar min of geen probleme nie, is aanneming ‘n traumatiese gebeurtenis. So ‘n kind vrees dikwels verwerping en dit is belangrik om haar gekoester en veilig te laat voel. Die aangenome kind is deurgaans besig om te prosesseer – selfs al praat sy nie gereeld daaroor nie.”
Wat sê jy vir jou kind as sy haar biologiese ma wil ontmoet?
“As die kind jonger as 18 is, volg ons die riglyne van die aanneemooreenkoms en moet ‘n mens deur die regte kanale werk. Na 18 kan die kind self die keuse uitoefen en die proses begin. Dit is egter belangrik om haar deurentyd te ondersteun. Sy moet nooit skuldig voel omdat sy haar biologiese ma wil ontmoet en leer ken nie.
“Ek moet erken die negatiewe gedagtes gaan wel deur ‘n mens se kop en jy is bang sy gaan dalk meer van haar ander mamma as van jou hou. Ons is mos maar almal bang vir verwerping. Maar weet jy, die Here gee nooit vir mens iets wat jy nie kan hanteer nie. Hy rus ons toe – ook vir my. Selfs wanneer dit moeilik is, kom ons daardeur en hanteer ons die situasie met begrip en hope liefde.
“Soms voel dit asof sy elke dag vrae vra en ander tye is dit dalk eenkeer ‘n maand. Wat belangrik is, is om altyd eerlik te wees. Gelukkig het ons hele familie haar onvoorwaardelik aanvaar en ervaar sy dit ook elke dag so. En dit is wat belangrik is: Elke kind wil geliefd voel.”
Het jy wenke vir voornemende aanneemouers?
- Begin vroegtydig. Ons het lank gewag en baie instansies het ouderdomsbeperkings wat dit dan baie moeilik maak om aan te neem.
- Die proses kan langdradig wees. Daarom moet ‘n mens leer om geduldig te wees.
- Dit is nie ‘n maklike proses nie. Daar is so baie om te leer al kry ‘n mens baie raad en ondersteuning tydens die aannemingsproses.
- Hou aan lees en doen navorsing om jouself te bemagtig met die jongste inligting. Begrip kom nie vanself nie. Ongelukkig is daar nie baie literatuur in Afrikaans beskikbaar nie.
- Wees bedag daarop hoe trauma (dit waaraan jou kind blootgestel was) breinvorming kan beїnvloed en leer dan om jou kind se unieke psige te aanvaar. Moenie net aanvaar dat jou liefde genoeg gaan wees nie.
- Raadpleeg ‘n terapeut of sielkundige om jou te help as jy voel jy trek swaar, of gesels met ander in dieselfde bootjie. Jy kom dan dikwels agter jou “probleem” is nie uniek nie.
- Elke fase het sy uitdagings en daarom is ‘n ondersteuningsgroep so waardevol.
- Hou in gedagte: Dit is jou kind se storie wat sy moet verwerk en waaroor sy keuses moet uitoefen. Respekteer dit. En moet nooit ophou om jou kind van jou liefde en aanvaarding te verseker nie.
So sê nog ‘n mamma na ‘n lang en dikwels frustrerende proses om haar kind in pleegsorg aan te neem – na 14 jaar is dit uiteindelik ‘n werklikheid:
“Ek dink maar net as dit op jou hart gedruk is, en as jy bereid is om saam met ‘n kind die pad te stap en jouself oop te stel en as jy bereid is om eerlik te wees, het jy ‘n kans om dit te maak. Wees eerlik met jouself. Eerlik met die kind. Eerlik met jou familie. En wees altyd bereid om hulp te vra as jy nie weet hoe nie.
“As jy besef dat elke lewe kosbaar is en dat dit ‘n ongelooflike verantwoordelikheid is om iemand se lewe te verryk … dat jy self soveel leer, dat jy net deur hierdie proses groei en jou horisonne verbreed … dan is dit genoeg.”
Die aanneemproses
Lees meer oor die proses hier.