In vandag se onstuimige ekonomiese klimaat, is dit moeiliker as ooit om jou merk te maak in die beroepswêreld. Waar begin jy as jongmens en watter hulpbronne het jy nodig wanneer jy begin werksoek?
Persoonlike bemagtiging wat daarop gemik is om te verseker dat elke individu sy volle potensiaal bereik, vorm deel van die kern van Mandeladag. Weens die huidige inperkingsituasie het die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) besluit om vanjaar op digitale wyse tot hierdie visie by te dra.
Ter viering van Mandeladag stel die SBA ’n gratis aanlyn video-aanbieding beskikbaar om jong werksoekers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om sukses te behaal. Die video is getiteld Wikkel met Werksoek/ Qala Ukufuna Umsebenzi/Start the Job Hunt en is beskikbaar in Afrikaans, Engels en isiXhosa. Hierdie video bied talle nuttige wenke – van die opstel van ‘n CV, wat jy te wagte kan wees tydens ‘n onderhoud, tot wat jy moet aantrek om die regte indruk te skep.
Die basis van hierdie video is die SBA se werksoeksakgids wat in 2016 bekendgestel is.
Tot op hede is daar reeds nagenoeg 10 000 gedrukte weergawes van die boekie in die Wes- en Oos-Kaap versprei.
Om die Engelse en isiXhosa video’s sowel as multitalige gedrukte weergawes van die video’s te besigtig, besoek die SBA se webtuiste. Hier sal jy ook toegang kry tot ander aanlyn SBA-publikasies.
Kyk hier na die Wikkel met Werksoek-video.
Wie is die SBA?
In 1992 is ’n Afrikaans Geletterdheidstrust gestig om spesifiek in die Wes-Kaap Afrikaansgebruikers te bemagtig in veral plattelandse gemeenskappe. Uit hierdie trust is die SBA gestig.Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Klik hier vir die SBA historie 2019 boekie.
Geletterdheid omsluit alle kommunikasievaardighede wat verwerf word op grond van gesproke en geskrewe taalvaardighede en wat noodsaaklik is vir die uitlewing van volle menswaardigheid op alle lewensterreine. Die SBA-projekte word ontwerp om te help met nasiebou deur Afrikaans, en ingeboude veeltaligheid is ’n belangrike komponent daarvan.
Besoek die SBA se webuiste om meer te leer.