Artikel: Alita Steenkamp
Diegene wat dieselfde donker, enigmatiese Piet van der Bijl van Die Byl verwag wanneer hulle Waldemar Schultz vir die eerste maal persoonlik ontmoet, kan ʼn reuseverrassing te wagte wees. Die twee verskil soos dag en nag, of soos Waldi self sê, soos chalk and cheese. Terwyl Byl ingewikkeld, teruggetrokke en geslote is, is Waldi vriendelik met ’n lieflike humorsin, iemand wat spontaan uit sy maag kan lag en glad nie omgee om gek te skeer met homself nie. Tans is die derde seisoen van Die Byl te sien op kykNET (Kanaal 144) en week na week word kykers ingetrek in ʼn raaisel wat net dieper en dieper word. Gaan Byl dit ooit regkry om van die geslepe reeksmoordenaar, Adriaan Klopper, ontslae te raak?
Waldi lag juis lekker en onvoorwaardelik wanneer ʼn mens kla dat elkeen van hierdie episodes jou emosioneel dreineer. “Ek sal dit as ʼn kompliment beskou. Dit beteken ons kry iewers iets reg. Ek het nog altyd baie daarvan gehou om sogenaamde ‘thinking TV’ te maak. Dit moet mense aan die dink sit, hulle moet betrokke raak daarby en dinge vir hulleself uitpluis.”
Aan die begin van Junie is die finale skote van seisoen vier van Die Byl geskiet. Aangesien Seisoen 3 en 4 aaneen sonder ʼn onderbreking verfilm is, was hulle vanaf 25 Januarie vir 18 weke aanmekaar besig. Dit het natuurlik sy eie uitdagings ingehou, want die produksiemaatskappy, Marche Media, moes streng by sekere Covid-protokol hou. Waldi vertel dat hulle temperatuur elke dag gemeet is en die tegniese span en die wat nie op kamera is nie, moes die hele tyd maskers dra.
“Ek is baie opgepluk met die uitstekende manier waarop Marche Media alles hanteer het. Soms was daar snaakse oomblikke wanneer ons ʼn buitetoneel skiet en die assistentregisseur roep dat ons eers moet wag, daar loop iemand met ʼn masker in die agtergrond verby. In Byl se wêreld was ons gelukkig al deur die virus en kon die lewe normaal voortgaan,” sê Waldi.

Vir eers is daar nie ʼn volgende groot projek wat wag nie, maar dit is maar soos dit met ʼn vryskutakteur in ons land gaan, verduidelik hy dan. Wanneer ʼn mens pas klaar is met ʼn plaaslike produksie moet daar gewoonlik eers ʼn tydjie verloop voordat jy weer vir ʼn volgende groot rol oorweeg word. Dan moet hy maar aan die lewe bly met oorklankings, beoordeling van tienertoneelkompetisies, hier en daar ʼn advertensie en soms ook radiowerk. Weens die reisverbod te wyte aan die Covid-pandemie, word daar tans ook heelwat minder oorsese reekse en rolprente in Suid-Afrika vervaardig.
In die verlede was dit juis in sulke stil tye tussen televisieproduksies wat die teater Waldi besig gehou het. Hy mis die teater ongelooflik baie, erken hy dan. Hy is so teleurgesteld, want in 2020 het hy en Brendon Daniels by die Woordfees gedebuteer met die heerlike komedie Dis 20h15, ʼn storie oor twee ouens wat ʼn bank wil beroof. Al die ander feeste waar die produksie sou gaan draai het, het weens Covid-19 gesneuwel en daar is nog nie werklik lig aan die einde van die tonnel vir lewendige teater nie.
“Ek en Brendon wil so graag loop met ons baby en ons sal baie graag wil hê dinge moet weer aan die gang kom. Die enigste probleem is net dat ek in daardie show bo-oor ʼn twee meter hoë leer moet klim en dan nog onderstebo moet hang vir ʼn wyle. Toe ons dit gerepeteer het, was ek nog in my veertigs en nou is ek oor die 50 en dan kom die skete mos,” lag hy, maar raak dan weer ernstig. “Ek kan eintlik nie klaarkom sonder teater nie. Dit het altyd tussenin gebeur en al was dit nie groot geld nie, het jy gewerk. Boonop doen jy dit vir jou siel. Jy is besig met skeppende werk en jy raak mense aan op ʼn baie persoonlike vlak. Daar’s ʼn wonderlike wisselwerking tussen die gehoor en akteurs en dis ʼn ander tipe magic as wat jy met televisie of rolprente kry.”
Wat almal nie altyd weet nie is dat Waldi in ʼn Engelse huis grootgeword het en teen die tyd wat hy op hoërskool gekom het, het hy Afrikaans behoorlik soos ʼn soutie gepraat. Na skool is hy na die Universiteit Stellenbosch waar hy drama studeer het. Daar het hy vir die eerste keer waarlik met die rykdom van Afrikaanse letterkunde kennis gemaak en verlief geraak op ons taal.
“Een van die mense wat my eintlik in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld ingetrek het, is Juanita Swanepoel, een van my dosente. Sy het my eendag saamgeneem na ʼn oorklankingsateljee en ek het begin met oorklanking. Die een ding het tot die ander gelei en mettertyd was ek bekend as ʼn Afrikaanse akteur, waaroor ek baie dankbaar is. Hier word soveel werk in Afrikaans geskep, vir die verhoog en televisie.
“Afrikaans is so ʼn fantastiese taal waarin jy dinge sê wat in geen ander taal gesê kan word nie. Afrikaanse beeldspraak is ryk en dis ʼn taal wat so diep in ʼn mens se binneste gewortel lê. Vandag is ek besonder dankbaar oor al die geleenthede wat ek al in Afrikaans gekry het,” sê hy dan.

Fotokrediet: Eden Wessels

ʼn Gesprek met Waldemar sal seker nie volledig wees as ʼn mens nie uitvra oor die gemis na Kieran nie. Die mooi en talentvolle Kieran, sy pa se ewebeeld, het in Augustus 2013 van ʼn uitkykpunt in Hermanus afgeval en gesterf. Vir beide Waldemar en sy vrou Ira Blanckenberg, asook hul dogter Dhania, was hierdie ʼn enorme verlies. Nou aan die begin van Junie sou Kieran sy 22 ste verjaarsdag gevier het.
“Dit bly ʼn verlies wat daagliks by ’n mens bly. Iets wat jou lewe permanent verander en jy sal nooit weer die mens wees wat jy was voor daardie gebeurtenis nie. Jy leer om daarmee saam te leef. Sommige dae, soos nou, die 4e Junie op sy verjaarsdag, is daar baie trane, maar ander dae lag ons heerlik wanneer ons terugdink aan iets wat Kieran gedoen of gesê het,” sê hy.
Waldi vertel dat Dhania drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch. Hy lag en sê dit is eintlik sy skuld, want toe sy aan hom vertel dat sy Engels en Sielkunde wil studeer, het hy voorgestel dat sy dramavakke by haar kursus insluit juis omdat sy soveel blootstelling aan die vermaaklikheidswêreld in haar ouerhuis gekry het.
“Ek terg haar en sê sy moet sorg dat sy ʼn uitstekende vervaardiger word, want dan het haar pa werk tot op sy oudag.” Dit sê hy met ʼn knipoog. Vir hom is dit nie regtig belangrik wat sy eendag gaan doen wanneer sy klaar studeer het nie. Die wêreld is immers daar om verower te word.
Al is daar nie nou dadelik iets wat wag nie, ken Waldi die reëls van die vryskutbedryf. Tog sal hy veel eerder wag vir ʼn volgende opwindende projek wat hy volstoom gaan aanpak, as om iewers agter ’n lessenaar iets te moet doen wat hom frustreer en dreineer.
“Jy weet, ek is ’n baie gelukkige mens om te kan doen waarvoor ek lief is. Ek doen radio-, televisie-, stem- en filmwerk en hopelik gou weer tetater ook. Ek skryf ’n bietjie en droom daarvan om eendag ook regtig by regie uit te kom. Dis immers waarin ek my Meestersgraad het. Nou met die opnames van Die Byl het ek weer besef watter voorreg dit is om so skeppend te werk te gaan. Natuurlik is daar frustrasies en moegheid, maar ek put regtigwaar verskriklik baie genot en sielsvreugde uit so ʼn projek – ʼn stuk werk wat mense gaan raak. Voeg daarby my beautiful vrou en my beautiful dogter en dan kan jy verstaan waarom ek nie anders kan as om vol vreugde te leef nie.”