In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.
In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die akteur en skrywer Marvin-Lee Beukes.
Hulle gesels oor:
- Uitdagings van vryskutwerk.
- Sy grootwordjare en wat hy by sy ouers geleer het.
- Verslawing en hoe om dit te oorkom.
- Gesondheid, fiksheid, en dieet.
- Sy advies aan sy jonger self.
Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.
Marvin-Lee Beukes is ‘n akteur, skrywer, en gesondheids- en fiksheidsfundi. Hy is veral bekend vir sy rolle in Die Byl, Ekstra Medium, Wonderlus, Griekwastad, Uitvlucht, Kleingeld, Soos Gister, en Somerkersfees.