Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat leerders hulle toesprake en tonge moet slyp, want die redenaarseisoen het aangebreek. Afrikaans.com gee kortliks die volgende wenke vir ’n wentoespraak.
’n Wentoespraak
Kies jou onderwerp met sorg.
- Maak seker jy kan met gemak daaroor praat, hetsy daarteen of daarvoor.
- Besluit wat jy wil sê en waarvan jy die gehoor wil oortuig.
- Formuleer jou argumente logies sodat jou gehoor weet wat jou standpunt is.
Jou toespraak moet drie GOEIE standpunte/argumente bevat.
- Kies drie logiese en onafhanklike argumente wanneer jy jou toespraak skryf.
- Jy moet redeneer – nie net feite oordra nie.
- Jou gehoor moet verstaan hoekom jy jou standpunt inneem.
Geloofwaardige bronne is noodsaaklik.
- Doen deeglike navorsing. Jou gehoor moet ervaar jy weet waarvan jy praat.
- Noem jou bronne en onthou die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Met ander woorde: Wie het dit gesê en wat is die persoon se titel/amp; Waar het jy dit gelees en wanneer het dit verskyn.
- Maak jou voorbeelde van toepassing op jou eie lewe – m.a.w. hoe voel JY oor die saak.
Goeie taalgebruik tel.
Gebruik goeie Afrikaans wat nie te maklik of moeilik vir jou ouderdomsgroep is nie. Kleur dit in met idiome, spreekwoorde en uitdrukkings.
Wees kreatief.
Struktuur is belangrik.
- Struktureer jou toespraak dat dit logies vloei.
- Dit help die gehoor om die toespraak te volg en jou argumente beter te onthou.
Ons is mal oor hierdie twee talentvolle sprekers!
Canolia Hoofd is ‘n kranige spreker!
Grayshen Pamell praat met gemak.
Die basiese struktuur van ‘n wentoespraak
Die kop
- Die ‘aanhef: Groet die voorsitter. “Voorsitter”. Die kop
- Inleidende paragraaf: Noem die tema/onderwerp. Dit moet aandag trek. Maak gebruik van ‘n rympie, aanhaling of grappie.
- Groet die gehoor. Die aanspreekvorm gaan afhang van die gehoor. Vir ‘n klastoespraak gaan dit wees “Juffrou en klasmaats” en vir ‘n redenaarskompetisie “dames en here”.
Die lyf
- Drie oortuigende opinies/standpunte.
- Die rede en ‘n geloofwaardige aanhaling (bronne) om elke standpunt te staaf. Hoe ouer die redenaar, hoe belangriker is die aanhaling en geld die vier w’s (wie, wat, waar en wanneer). Met ander woorde: Wie het dit gesê en wat is die persoon se titel/amp; Waar het jy dit gelees en wanneer het dit verskyn.
Samevatting en slot
- Die samevatting en slot moet die argument versterk deur al die los drade saam te vat.
- Gebruik ‘n aanhaling en/of ‘n gesegde deur ‘n beroemde persoon.
- Die slot moet ook ‘n bedanking insluit, byvoorbeeld: “Baie dankie vir u aandag voorsitter, dames en here.”
Haal die angs uit redenaars: Wenke
- Oefen, oefen, oefen. Redenaars word gemaak, nie gebore nie. Hoe meer jy die toespraak opsê, hoe makliker gaan dit raak.
- Ken jou toespraak (die inhoud) vlot. Daarna kan aandag gegee word aan ander aspekte van redenaars, soos hoe om notas te hanteer, oogkontak, stemgebruik, handgebare.
- Oefen voor die spieёl of maak ‘n video terwyl die toespraak ingeoefen word. Op die manier kom ‘n mens agter waaraan nog gewerk moet word, bv. gesigsuitdrukking, oogkontak, ens.
- Maak seker die toespraak is nie te lank nie. Die meeste redenaarskompetisies het ligte wat tyd aandui, en niks kan ‘n spreker so ontsenu as ‘n oranje lig wat aangaan wanneer hulle nog nie naby aan klaar gepraat is nie!