Nuttige hulpbron:
Die film, Die Val, ondersoek boelie-realiteite in skole aan en kan vanaf 10 September 2022 gratis op AfriforumTV gekyk word. Hierdie rolprent vorm deel van AfriForum se teenboelie-en-selfdoodbewusmakingsveldtog en is spesifiek gemik op hoërskoolleerders. Die doel van die film is om hoop te skep in ’n wêreld waar skoolkinders onder boelies gebuk gaan. Daar is ’n uitweg. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting. Besoek https://afriforumtv.co.za/ en registreer om die film gratis te kyk. Besoek https://afriforum.co.za/die-val/ vir meer inligting oor die film.
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Kuberboeliery / -afknouery. Wat is dit presies?
Met al hoe meer mense wat toegang tot selfone en die internet het, en omdat kuberboeliery oor die internet en sosialemediaplatforms plaasvind, raak hierdie soort boeliery ’n groot bekommernis.
Dit is optrede waar die slagoffer geteister, verneder, gedreig of in die verleentheid gestel word. Die boelie gebruik dus sosiale media om emosionele skade aan iemand anders te berokken.
Kenmerke van die soort boeliery is:
- Dit skep afstand: Kuberboelies is dikwels ongenaakbaar in hul teistering van ander omdat hulle nie hulle slagoffer in die oё hoef te kyk nie.
- Gebrek aan toesig: Dit is moeilik om kwetsende e-posse, oproepe, boodskappe of internetkletsery te monitor en sensor juis omdat jong mense dikwels soveel meer vaardig is in die gebruik van rekenaars, selfone en verwante media as hulle ouers en opvoeders en op die manier potensiёle monitering kan vermy.
- Toeganklikheid: Jong mense het amper altyd hulle selfone by hulle, dus kan hierdie soort boeliery oral en enige tyd van die dag plaasvind.
- Vrees vir straf: Jong mense kan selfs meer huiwerig wees om kuberboeliery te rapporteer omdat hulle bang is hulle verloor toegang tot rekenaars of dat hulle selfoon weggeneem word.
Jou kind is dalk die slagoffer van kuberboeliery as hy/sy:
- Hartseer, kwaad of benoud raak gedurende of na gebruik van die internet of selfoon.
- Angstig voorkom wanneer hy/sy ’n teksboodskap of e-pos ontvang of op sosialemediawebwerwe was.
- Nie wil praat oor sy/haar rekenaar- of selfoonaktiwiteite nie.
- Onttrek van die gesin, vriende en aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het.
- Weier om skool toe of na spesifieke klasse toe te gaan of groepsaktiwiteite vermy.
- Tekens toon van gemoedskommelinge, verandering in gedrag, slaap- en eetpatrone, of angstig of depressief voorkom.
’n Paar wenke wat kuberboeliery kan voorkom
Maak seker jy en jou kind hou by die basiese riglyne om hierdie soort boeliery te beheer.
- Blokkeer alle kommunikasie met kuberboelies.
- Moenie enige persoonlike inligting aanlyn plaas nie, bv. volle name, adres, telefoonnommer, skool se naam, ouers se name, kredietkaartbesonderhede, of vriende se persoonlike inligting.
- Moet NOOIT wagwoorde met enige iemand deel nie. Kinders kan dit wel met hulle ouers deel.
- Moedig jou kind aan om met jou te gesels oor hulle aanlyn bedrywighede.
- Moet NOOIT enige iets aanlyn plaas wat jy nie wil hê ander moet sien nie.
- Moet NOOIT boodskappe stuur wanneer jy kwaad of ontsteld is nie.
- Wees altyd hoflik aanlyn.
Monitor jou kind se tegnologiegebruik
Die gebruik van inligting en kommunikasietegnologie hou baie voordele in. Tog is daar ongelukkig ook risiko’s aan verbonde. Hou jy by die reёls is jy veilig en in beheer. Kinders wil nie gemonitor word nie, maar ongelukkig is dit die enigste manier hoe ouers hulle kan beskerm.
Doen die volgende:
- Plaas die rekenaar in ’n besige area van die huis sodat jy die gebruik kan dophou.
- Installeer naspeuringsprogrammatuur om ontoepaslike/ongewensde webinhoud te blokkeer en jou te help om jou kind se aanlyn aktiwiteite na te gaan.
- Maak seker jy ken jou kind se wagwoorde en raak vertroud met die algemene akronieme wat kinders aanlyn en in teksboodskappe gebruik.
- Moedig jou kind aan om jou of ’n ander volwassene wat hulle vertrou, in te lig oor moontlike dreigboodskappe, of as hulle op ander maniere deur kuberboelies geteiken word.
- Maak seker dat jy as ouer op hoogte is van die tegnologie en die gebruike daarvan. Wees bewus van die risiko’s en bespreek dit met jou kind. As jou kind agterkom hy/sy kan jou nie ore aansit wanneer dit by die tegnologie kom nie, is die saak halfpad gewonne. Maak dus seker jy is op jou kind se kontak- of vriendlysie, veral as hulle nog jonk is.
- Jy as ouer/volwassene maak die reёls en is daar om die dikwels “nie so slim” jong mense (nie dat hulle dit glo nie!) veilig te hou en ’n balans te skep. So gee jy hulle eintlik die vaardighede om die tegnologie met selfvertroue en insig te gebruik.
- Reёls moet prakties en uitvoerbaar wees. Wees redelik en hou in gedagte dat jong mense konstant in kontak moet wees met hul vriendegroep – dit is deel van hulle sosiale ontwikkeling. Dit is hoekom hulle selfone so belangrik is vir hulle.
- Moenie onaanvaarbare gedrag duld nie. Stoor die beledigende boodskappe en rapporteer die gedrag. MXit het byvoorbeeld opgeleide beraders van Childline om jong mense by te staan.
- Kinders het werklik nie die vermoё om te onderskei tussen regte vriende en die wat voorgee om vriende te wees nie. Daarom moet kinders weet dat ’n sosiale netwerk nie met ’n persoonlike dagboek of privaat telefoongesprek vergelyk kan word nie.
- Moedig jou kinders aan om soekenjins te gebruik wat gemonitor word of deur ouers beheer kan word.
- Gaan kyk gereeld na jou kind se kontaklys. Maak ook seker hulle het nie ’n tweede simkaart nie.
- Maak seker jou kind het noodnommers op hulle fone, dat hulle genoeg lugtyd het en altyd hulle fone by hulle hou.
- Weet wie hulle vriende is en wat hulle kontaknommers is. Jou kind moet onder geen omstandighede vreemdelinge ontmoet nie, behalwe as hulle saam met jou is.
- Gaan jou kind se lugtydgebruik na. Sekere volwassenes buit dikwels kinders uit deur aan te bied om vir hulle meer lugtyd te koop.
- As jou kind ongehoorsaam is, kan jy hulle foon wegneem of hulle selfone beheer deur sekere funksies te blokkeer of te verwyder.
Jou kind is ’n kuberboelie. Wat nou?
As jou kind in reaksie op kuberboeliery sy/haar eie kuberboelietegnieke begin gebruik, kan jy jou kind help om beter maniere te kry om die probleem te hanteer. As jou kind sukkel om sy/haar emosies soos woede, seer of frustrasie te hanteer, is dit dalk raadsaam om ’n terapeut te raadpleeg om jou kind te help om op ’n gesonde en positiewe manier met hierdie gevoelens om te gaan. Doen die volgende:
- Voed jou kind op oor die gevolge van kuberboeliery.
- Maak seker jou kind verstaan hoeveel skade dit kan veroorsaak.
- Leer jou kind om empaties daarna te kyk en skep ’n bewustheid by jou kind om hulle optrede vanuit die slagoffer se perspektief te bekyk.
- Maak jou kind bewus van moontlike regsgevolge.
- Beperk die kind se gebruik van tegnologie en indien nodig, verbied die gebruik daarvan totdat die kind se gedrag verbeter.
- Sit konsekwente gedragsreёls in plek en maak seker jou kind weet wat die gevolge sal wees indien hierdie reёls verbreek word.
- Kinders het grense nodig – al dink hulle nie so nie – want so ’n gebrek aan grense kan dikwels die boodskap uitstuur dat hulle ouers nie genoeg tyd het vir hulle nie en nie regtig omgee nie.
Bronne en enkele lees meer-skakels:
AfriForum se Teenboeliegids: Klik hier.
Afrikaans.com: Kom ons bou mekaar eerder op – klik hier.
Die 1000 Vroue Trust se teenboeliegids (“tool kit”). Klik hier.
The legislative framework regarding bullying in South African schools. Klik hier.
Protecting children from bullying and cyber bullying. Klik hier.
The different types of bullying parents should watch for. Klik hier.
Verstaan boelies. Artikel in Baba en Kleuter. Klik hier.
My klaskamer-blog oor boelies. Klik hier.