Nuttige hulpbron:
Die film, Die Val, ondersoek boelie-realiteite in skole aan en kan vanaf 10 September 2022 gratis op AfriforumTV gekyk word. Hierdie rolprent vorm deel van AfriForum se teenboelie-en-selfdoodbewusmakingsveldtog en is spesifiek gemik op hoërskoolleerders. Die doel van die film is om hoop te skep in ’n wêreld waar skoolkinders onder boelies gebuk gaan. Daar is ’n uitweg. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting. Besoek https://afriforumtv.co.za/ en registreer om die film gratis te kyk. Besoek https://afriforum.co.za/die-val/ vir meer inligting oor die film.
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Boeliery was die afgelope weke weer in die nuus en alhoewel ons deesdae meer kennis daaroor dra en daar heelwat in die media daaroor geskryf word, bly dit steeds ‘n netelige kwessie wat telkens opduik. Ongelukkig is dit ook nie net kinders wat geboelie word nie. Boelies is oral – op skool, in die kuberruim, by die werkplek – en dit is ‘n ernstige saak wat ’n groot impak op die slagoffer se lewe kan hê.
In dié artikel bespreek Afrikaans.com die meer algemene vrae en kwessies hieroor en gee ons riglyne oor hoe om hierdie probleem te benader en ook waarna ’n mens moet oplet.
Die realiteit
Navorsing toon ook dat jong mense wat geboelie word dikwels self boelies word. Daar is ook bevind dat soveel as 57% van Suid-Afrikaanse leerders op een of ander tyd gedurende hulle hoёrskoolloopbaan geboelie is of word. Nog ’n studie oor kuberboeliery wat op jeugdiges tussen die ouderdom van 12 en 24 gedoen is, het bevind dat 7 uit 10 van diegene wat erken het dat hulle ander boelie, self slagoffers was. Nogal skrikwekkend, nie waar nie.
Wat is boeliery, of dan ook afknouery of bullebakkery?
En is dit dieselfde as gewone konflik en/of tergery.
Laat ons eerstens ’n onderskeid tref tussen ’n goedige tergery, ’n gewone konfliksituasie en werklike boeliegedrag.
Tergery vind gewoonlik tussen vriende plaas en het nie gewoonlik ernstige nagevolge nie, omdat dit nie afbrekend is nie en met humor gepaard gaan.
In ’n konfliksituasie dring die partye nie daarop aan om noodwendig hulle sin te kry nie en word daar gewoonlik redes gegee hoekom hulle van ander verskil. Daar word ook gewoonlik om verskoning gevra agterna en word daar dikwels onderhandel oor hoe om by ’n aanvaarbare oplossing uit te kom. Dit kan selfs gebeur dat die persoon bloot wegstap.
Boeliery aan die ander kant, is ’n ernstige saak wat met groot omsigtigheid, maar ook ferm, hanteer behoort te word. Dit is daardie aggressiewe gedrag wat aanhoudend en gereeld plaasvind en spesifiek op iemand/’n leerder gerig word wat die boelie dink nie teen hom/haar kan of sal opstaan nie –slagoffers voel dus hulpeloos om hulself te verdedig.
Tipes boeliery
- Verbaal – noem ander lelike/afbrekende name, dreigemente dat die persoon seergemaak gaan word en uittarting.
- Sosiaal – om iemand met opset te ignoreer of uit te sluit en ander aan te moedig om dit ook te doen, onwaarhede oor die persoon te versprei, of die persoon in die openbaar te verkleineer.
- Fisiek – lei dikwels tot fisieke en soms gewelddadige aanranding van ’n persoon of beskadiging van hulle besittings. Hierdie soort aanranding kan tot strafregtelike stappe lei.
Kuberboeliery – vind oor die internet plaas op sosialemediaplatforms en is gewoonlik die verspreiding van kwetsende en skadelike stories, gerugte en
Hoe lyk die tipiese slagoffer?
Dit is die persoon wat …
- nie goed met ander oor die weg kom nie en minder gewild is;
- min of geen vriende het nie;
- afwyk van normale gendernorme;
- fisies of etnies anders is;
- ’n lae selfbeeld het; en
- depressief of angstig is.
Hoe lyk die tipiese boelie?
Hoewel baie boelies gewild is, en dikwels sosiale mag het, is hulle dikwels ook depressief en angstig en het ’n lae selfbeeld. Die meeste kinders leer om hulle woede en instinkte om te baklei, te beheer na gelang hulle ouer word, maar die tipiese boelie kry dit nie reg nie. Die boelie:
- is dikwels bekommerd oor sy/haar gewildheid;
- hou daarvan om in beheer te wees en ander te domineer en seer te maak;
- het vriende wat ander boelie;
- moet altyd wen of die beste wees in alles;
- kan nie identifiseer met ander se emosies of gevoelens nie;
- is aggressief en beskou geweld as positief en raak daarom dikwels betrokke in ’n bakleiery – hetsy fisies of verbaal;
- hou nie van reёls nie en is dikwels in die moeilikheid – word byvoorbeeld gereeld na die hoof se kantoor toe gestuur of sit dikwels detensie;
- weier om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle optrede;
- is ’n heethoof wat maklik gefrustreerd raak;
- het niks goed te sê oor ander nie en blameer sommer vinnig iemand anders;
- het dikwels ekstra geld of nuwe besittings waarvoor hy/sy nie ’n verduideliking kan gee nie; en
- sowel as die slagoffer kan op die langtermyn sielkundige letsels opdoen – dit sluit posttraumatiese stres in.
Hoekom boelie kinders?
Daar is verskeie redes hoekom boeliery plaasvind. ’n Paar algemene redes:
- Hulle leer om te boelie. Boelies herhaal dikwels die gedrag wat hulle sien of self ervaar. Kinders wat geweld of aggressie ervaar, begin dink dit is normaal en aanvaarbaar en het dikwels nie die vaardighede om probleme sonder geweld op te los nie.
- Die boelie voel bang of nikswerd. Hulle boelie dus om hulleself te beskerm; om te wys hulle is sterk, of om onsekerhede of negatiewe emosies weg te steek.
- Hulle weet nie hoe om hulle eie en/of ander se gevoelens/emosies te hanteer nie en is dit dikwels ’n manier om met hulle eie negatiewe gevoelens om te gaan en beter oor hulleself te voel.
- Hulle wil gewild wees en belangrik voel. Op die manier kan hulle hulself laat geld onder hulle maats. Daarom is boelies dikwels gewild onder hulle maats wat glo hulle kan slegs hulle status behou as hulle ander verkleineer.
- Hulle soek aandag en hou daarvan om ander te beheer. Party kinders kom nie eers agter hoe hulle gedrag ander raak nie. Hulle beskou dit bloot as “cool”. Sulke kinders moet dus empatie aanleer.
Slagoffers van boeliery praat nie sommer daaroor nie, want hulle voel senuweeagtig of selfs skaam.
Is daar tekens waarna ouers kan oplet?
- Die kind onttrek, wil skielik nie skool toe gaan nie.
- Verloor belangstelling. Jou kind stel skielik nie meer belang in voorheen gunsteling- skoolaktiwiteite nie.
- Skoolwerk gaan agteruit. Omdat die kind bang of angstig is om skool toe te gaan, kan dit negatiewe gevolge inhou en kan die kind selfs belangstelling in hulle skoolwerk verloor.
- Bang om alleen skool toe te gaan. Die kind dring daarop aan om skool toe geneem te word – as hy/sy dalk vroeёr bus gery het.
- Gelukkig tuis, ongelukkig by skool. Jou kind is gelukkig oor naweke, maar ongelukkig, in gedagte, of gespanne op Sondae.
- Bly liewer tuis. Jou kind verkies skielik die geselskap van volwassenes en verkies om naweke tuis te bly.
- Jou kind slaap nie goed nie en het dalk nagmerries.
- Dit kan ook lei tot depressie – wat natuurlik ook ’n invloed op die kind se slaappatroon kan hê en hulle slaap sleg of te veel.
- Hoofpyn/maagpyn. Jou kind kla dikwels oor hoofpyn of maagpyn. Hy/sy praat ook dikwels oor angstigheid of paniekaanvalle, of gevoelens van hartseer of depressie.
- Jou gelukkige en vrolike kind is skielik huilerig, buierig of kwaad. Dit kan deur hormone veroorsaak word – veral by tieners – maar kan ook daarop dui dat jou kind afgeknou word. Soms kan die kind dan ander begin afknou (bv. sibbes, kinders in die buurt).
- Nie goed genoeg nie. Jou kind voel hopeloos en nikswerd en voel dikwels nie goed genoeg nie. So ’n kind blameer hom-/haarself ook dikwels vir hulle probleme.
- Fisiese tekens. Kneus- of krapmerke, bang om alleen skool of huis toe te loop, sleg eet, vernielde skoolboeke of verlore skoolboeke, klere, of elektroniese toestelle, klagtes oor maagpyn of naarheid, ens.
- Verkeerde vriende. Soek die geselskap op van verkeerde vriende (bv. dwelmgebruikers, bendes, ens.).
- Loop weg van die huis af.
- Maak hom-/haarself seer (deur byvoorbeeld met ’n lemmetjie of mes te sny – gewoonlik waar ander dit nie kan raaksien nie).
- Praat oor selfdood.
As jy nou vermoed of weet jou kind word geboelie, wat doen jy?
- Belangrik is om nie sommer net reguit te vra of hy/sy geboelie word nie. Vra liewer meer subtiele vrae: Boeliery is deesdae in die nuus, gebeur dit by julle skool ook? Ek is bekommerd oor jou. Is daar dalk iemand wat jou afknou? Word jy gespot? Word jy aspris uitgesluit van sekere groepe/vriende?
- Verseker jou kinders dat hulle enige iets met jou kan bespreek en dat jy altyd daar is vir hulle. Jou kind moet weet dat jy hulle bekommernisse ernstig opneem en daadwerklik sal optree om hulle te beskerm.
- Gaan praat met die skool en onderwyser en neem jou kind saam met jou sodat julle almal saam kan werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.
- Dokumenteer boelievoorvalle – wat gebeur het, waar en wanneer dit plaasgevind het, hoe jou kind gereageer het en hoe die boelie en omstanders gereageer het. Dui ook aan of daar op oplossings besluit is en of dit suksesvol was.
Nog wenke:
- As jou kind jou vertel van ’n boelievoorval, vra wat gebeur het en om aan jou te beskryf wat gebeur het. Bly kalm, wys jy gee om, maar moenie oorreageer nie, aangesien dit die kind kan ontsenu en hy/sy dan toeklap en ophou praat.
- Praat met jou kind oor boeliery sodat hy/sy weet hoe dit lyk, hoe dit voel en of dit is wat hulle of hul klasmaats ervaar. Stel hulle gerus dat hulle ter eniger tyd met jou daaroor kan praat.
- Wys jou kind daarop dat boeliery meer as net fisieke geweld is en dat dit verbaal, nieverbaal, sosiaal, seksueel en ook via die kuberruim kan geskied.
- Maak seker hulle ken die verskil tussen stories aandra en die feite oordra.
- Leer jou kind om nie saam te lag of deel te neem aan boeliery nie en dit duidelik moet maak dat hulle aan die slagoffer se kant is. Moedig hulle ook aan ’n volwassene daarvan te vertel.
- Kinders leer deur die voorbeeld wat aan hulle gestel word. Wees dus bedag op jou eie gedrag.
- Maak seker jou kind weet boeliery is verkeerd en dat dit beslis nie sy/haar skuld is dat hy/sy geboelie word nie en dat almal van ons respek verdien.
- Vra jou kind vir insette oor die stappe wat geneem kan word om hulle veilig te laat voel. Werk saam met hulle om oplossings te kry.
- Moenie hulle aanmoedig om terug te baklei nie – om hulle vuiste of beledigings te gebruik, kan dinge net erger maak, hulle laat seerkry of in die moeilikheid laat beland.
- Help jou kind om strategieё en vaardighede te ontwikkel om boeliery te hanteer. Hulle kan byvoorbeeld leer om meer selfgeldend op te tree, die boelie te ignoreer, humor in te span om die spanning te ontlont en om hulp te vra.
As jou kind die boelie is.
- Luister en wees objektief. Moenie verdedigend optree of dit persoonlik opneem nie. Praat met jou kind en vra vir ’n verduideliking. Vind ook uit wie die voorval begin het en of jou kind dalk eers later deel daarvan geword het.
- Maak seker jou kind weet dat boeliery onaanvaarbaar is en hoe dit ander kan raak.
- Werk daaraan om oplossings te vind – saam met die skool en die onderwysers. Maak seker jou kind weet hy/sy word dopgehou en gemonitor.
Voorkom boeliery
Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om boeliery stop te sit, maar dit moet geskied met die samewerking van almal wat in die kind se lewe betrokke is – onderwysers, skoolpersoneel, die skoolbeheerliggaam, ander leerders, versorgers en ouers.
Die beste manier om hierdie kwessie in skole te hanteer, is om ’n kultuur van aanvaarding en kommunikasie te kweek. Op die manier word leerders bemagtig om positiewe maniere te vind om konflik op te los. So ’n kultuur kan soos volg geїmplementeer word:
- Vestig ’n teenboeliebeleid wat gedragskodes, skoolreёls, rapportering en prosesse om boeliegedrag te hanteer, insluit. Sorg dat almal (onderwysers, leerders en ouers) daaroor ingelig word en dat die beleid konstant toegepas word.
- Stel ’n plan in werking wat alle volwassenes in die skool betrek sodat almal weet hoe om positiewe gedrag te ondersteun, hoe om onaanvaarbare gedrag te benader en hanteer en om leerders wat bykomende berading nodig het, te verwys.
- Skep ’n klaskameromgewing wat leer en goeie gedrag bevorder. Elke onderwyser moet op die uitkyk wees vir tekens van boeliery sodat hulle betyds kan optree. Dit is ook hulle verantwoordelikheid om met ouers en ander rolspelers in gesprek te tree om die kwessies te hanteer.
- Reёl teenboelie-bewustheidsveldtogte en organiseer werksessies vir onderwysers en ouers.
- Gee leerders geleentheid om te praat en verslag te doen.
- Boeliery gaan oor viktimisering en het min met konflik te doen, daarom is gewone konflikoplossingsvaardighede en –bemiddeling nie noodwendig die beste manier van optrede nie.
- Voed die skoolgemeenskap op deur boelievoorkoming by lesplanne in te sluit, onderwysers te leer hoe om doeltreffend te reageer en ouers van hulpbronne te voorsien sodat hulle kan deel uitmaak van die skool se teenboelieprogram.
Daar is baie oorsake oor hoekom sekere kinders/volwassenes boelies is, en ’n mens praat sulke gedrag nooit goed nie, want ons almal weet dat die gevolge dikwels baie ernstig is en selfs tot selfdood kan lei. Dit is egter belangrik om te besef dat boelies dikwels uit wanfunksionele huise kom – huise waar die kind min of geen liefde ontvang nie en dikwels blootgestel word aan aggressiewe gedrag. Daarom wil so ’n kind in beheer wees en floreer dan wanneer hulle slagoffers bang is vir hulle. Die boelie hou van die aandag – selfs al is dit negatief. So ’n kind het ook nog nooit geleer wat empatie met ander is nie – en kan nie hulle emosies beheer nie. So ’n kind het eintlik dringend hulp nodig. Die heel belangrikste is en bly: As jy vermoed of weet jou kind of iemand word geboelie, doen iets daadwerkliks en maak seker daar word opgetree.
Bronne en enkele lees meer-skakels:
AfriForum se Teenboeliegids, klik hier.
Afrikaans.com: Kom ons bou mekaar eerder op, klik hier.
Die 1000 Vroue Trust se teenboeliegids (“tool kit”). Klik hier.
The legislative framework regarding bullying in South African schools. Klik hier.
Protecting children from bullying and cyber bullying. Klik hier.
The different types of bullying parents should watch for. Klik hier.
Verstaan boelies. Artikel in Baba en Kleuter. Klik hier.
My klaskamer-blog oor boelies, klik hier.