Skrywer: Alita Steenkamp
Weeksdae kuier Jill Levenberg in ons televisiekamers, wanneer sy die rol van Mymoena Samsoedien in Suidooster vertolk. Sy is ʼn vaardige akteur wat ʼn mens maklik laat vergeet dat dit bloot toneelspel in ʼn verbeelde werklikheid is waarna jy kyk. Dis eers wanneer ʼn mens vir Jill in ʼn ander rol sien, dat jy besef hoe fyn sy haar ambag geslyp het, want dan sien ʼn mens ʼn totaal ander kant van die munt. Onlangs was Jill te sien as die karakter Ruby in een van kykNET se 50-minuut rolprente, Kantlyn. As die sexy ma van ʼn laerskoolseuntjie, met haar sonpet, noupassende swart broek en top en groot goue oorringe, was sy myle verwyder van die tradisionele, maar stylvolle Mymoena Samsoedien. Boonop het die manewales van hierdie helikopterma ʼn mens heerlik laat lag, maar ook laat besef: Jill Levenberg is meester van die kuns.
Sy was skaars ʼn paar bakstene hoog, toe was sy al op die verhoog: as Maria in die kleuterskoolkonsert. Van kleins af was Jill verlief op die verhoog en haar ouers het haar gereeld aangemoedig om hierdie droom na te jaag. In die hoërskool het sy die geleentheid gekry om saam met haar skool deel te neem aan ʼn kompetisie, Music Active, wat in die Baxter-teater in Kaapstad aangebied is. Die oomblik toe sy saam met haar skoolmaats op die verhoog kom, het sy finaal besluit om die woorde van haar gedig wat sy as elfjarige geskryf het, eendag te bewaarheid:
“One day I’ll be on Broadway, under the lights, I’ll be on stage”.
“Met Music Active het ek die geleentheid gekry om op die verhoog te wees in ʼn regte teater, met verhoogligte en ʼn regte audience. Dit was ʼn onbeskryflike ervaring wat my lewe verander het en daar het ek gewéét wat ek eendag wil doen,” sê Jill.
Al was haar grootwordjare nie die van ʼn bevoorregte kind wat maklik enigiets kon kry waarvoor sy gevra het nie, het sy nie dat iets in haar pad staan nie. Ná skool het sy vir ʼn jaar by Top CD gaan werk, maar altyd die droom gekoester om te reis. Haar ouers het haar gehelp om ʼn vliegtuigkaartjie te koop en in die negentigerjare, toe dit nog eintlik glad nie algemeen was om oorsee te gaan au pair nie, het sy op ʼn vliegtuig geklim en na Maryland in die VSA gereis om ʼn jaar lank as au pair te werk.
“Ek het in my laaste maand in Amerika met ʼn Green Tortoise-toerbus reg oor Amerika gereis, van New York tot by San Francisco. Sommige aande het ons in plekke soos Yellow Stone Park uitgekamp, maar ander aande het ons sommer in die bus geslaap. Ek was 18 en ek was vreesloos. Ek wou net ontdek en nuwe dinge en plekke beleef en léwe. Uiteindelik was dit ʼn wonderlike adventure waarvan ek elke oomblik geniet het,” sê sy.
ʼn Mens kom gou agter dat waagmoed en die wil om uitbundig en voluit te lewe 25 jaar later steeds deel van haar menswees is. Sy vertel dat sy besonder lief vir die buitelug is. Sy het Stoney met sy geboorte gered en vir sy eerste paar lewensure melk aan hom gegee in ʼn “shooter” bottel se proppie. Hy is reeds 14 jaar oud, maar draf steeds graag saam met haar op die strand. Daar sal sy voluit hardloop totdat haar asem op is en dan stap sy in die yskoue water van die Atlantiese oseaan in.
Sy hou van uitkamp onder die sterre, om op stofpaaie te loop en die buitelewe te geniet.
Jill het aan die einde van verlede jaar ook die geleentheid gekry om ʼn rol in ʼn Suid-Afrikaanse Kersrolprent, A Christmas Chorus, te vertolk. Jill het ʼn lieflike sangstem en was al in verskeie musiekblyspele te sien. Vir haar was dit ʼn heerlike ervaring om weer ʼn keer saam met die talentvolle Charl-Johan Lingenfelder te werk wat die regie behartig het, die teks geskryf het en die musikale verwerkings saam met Dawid Boverhoff gedoen het. Charl is ʼn goeie vriend van haar. Dis ʼn ensemble-rolprent sonder hoofrolle en vertel die verhaal van ʼn klomp akteurs van die Fugard-teater wat uitgedaag word om die verwoestende impak wat Covid-19 op die teaterbedryf het, te oorleef. Die rolprent word steeds op Showmax vertoon.
“Ek hoop mense doen moeite om daarna te kyk. Dis ʼn musical wat entertaining en delightful is, maar dit kyk ook na die werklike situasie van onse kunstenaars in hierdie land op die huidige oomblik. Dinge het vir kunstenaars al voor Covid-19 skeefgeloop omdat die regering nie regtig ʼn bydrae tot die kunste lewer nie. Die fliek onderstreep die swaarky van kunstenaars, maar is ook wonderlike vermaak,” sê sy.
Jill het in Kensington in Kaapstad grootgeword en al was beide haar ouers Afrikaanssprekend, het hulle vir haar en haar sussie in Engels grootgemaak en laat skoolgaan. Terwyl sy drama studeer het aan die Universiteit van Kaapstad, het sy besluit om in beide Afrikaans en Engels te werk. Vandag is sy baie dankbaar vir hierdie besluit, want daar het al wonderlike Afrikaanse werk na haar toe gekom, waarvan die rolle as Mymoena Samsodien en Ellen Pakkies bloot twee is.
“Ek het eintlik eers op hoërskool leer Afrikaans praat, maar ek was nog altyd baie lief vir die taal. My een ouma is van Namakwaland en praat die mooiste dialek. My ander familie kom van Saron, daar waar hulle so lekker bggyy. Hierdie verskillende tipes Afrikaans wat ek oral gehoor het, het my gefassineer en hoe meer ek in Afrikaans begin lees het, hoe liewer het ek vir Afrikaans geword.
My gunsteling- Afrikaanse woorde is skitterend, vasbyt, asemrowend, snoesig, mos en ytstiek.
Een van my gunstelingverse in Afrikaans is die digter Marc Chagall se woorde: “Tuine bloei in my. Ek maak die blomme sommer op. Die huise uit my kleintyd is weg. Die mense sweef deur die lug op soek na hul tuiste. Hulle bly in my siel.” Met hierdie mooi woorde kan ek goed assosieer,” sê Jill.
Die vrou met die ruim hart wat nie huiwer om op verskeie maniere terug te ploeg in die gemeenskap nie, die een wat vurig en met geesdrif veg om mense se aandag op die swak maatskaplike toestande op die Kaapse Vlakte te vestig, die mooi vrou wat haar beywer om vroue te leer om hulself en hulle liggame onvoorwaardelik te aanvaar en lief te hê, het nog ʼn hele paar drome op haar kerfstok. Sy wil nog ʼn eenvrouvertoning doen, ʼn CD met Afrikaanse musiek daarop opneem, en Thailand toe reis. Miskien ook eendag ʼn huisie naby die see besit.
Haar en Stoney se ‘happy place’, sê sy, is Woodbridge Island naby Milnerton. “Maar daar is ook soveel ander dinge wat my gelukkig maak,” sê sy peinsend. “Om in my tuin in die grond te werk, te sien hoe die lemoenboom groei en die roosmaryn geil staan, en om saam met Stoney op die strand te draf. Dan is daar ook my suster se baba, om saam met my familie en vriende te wees, die Suidooster-span en al die fun wat ons het. Moet ook nie van lekker kos, goeie geselskap en wyn vergeet nie.
I enjoy life!”
Jill Levenberg saam met haar mede-akteur, Cedwyn Joel.
Hulle speel onderskeidelik die akteurs Mymoena Samsoedien en AB in Suidooster.