Skrywer: Alita Steenkamp
Vir baie akteurs is dit gewoonlik besonder moeilik om afskeid te neem van ʼn karakter wat hulle vir baie jare vertolk het. Dag vir dag klim jy in daardie karakter se kop in, dink en praat soos die karakter, lyk soos die karakter en tree op soos die karakter – alles sodat kykers of ʼn gehoor vir ʼn tydperk kan vergeet dat hierdie bloot verbeelde werklikheid is. Dis nog soveel moeiliker indien die werksomstandighede lekker was, en jy as akteur ook baie vriende by jou werksplek gemaak het.
Desiré Gardner moes onlangs vir Carmen Samsodien, ʼn geliefde karakter in die sepie Suidooster,groet en vir haar was dit geensins maklik nie. Sy het byna vyf jaar lank die rol van Carmen, ʼn binnenshuise ontwerper, vertolk. Dit het boonop gepaard gegaan net ʼn emosioneel dreinerende storielyn, want Carmen vlug weg nadat haar en haar man Rhafiek (Irshaad Ally) se baba, Mikhail, gebore word met Edwards-sindroom en dan ook sterf. Aangrypende tonele waarin Carmen en Rhafiek besonder moeilik afskeid neem van die kleinding, het talle kykers in trane gelaat, maar toe Carmen haar besluit aankondig, om eers weg te gaan uit Ruiterbosch, kon die meeste kykers nie hierdie selfsugtige besluit van Carmen verstaan nie.
Desiré gee toe dat dit besonder moeilik was om te sorg dat sy nie te betrokke by die storielyn raak nie. “Baie van Carmen se trane wat jy op die skerm kon sien, is my eie trane. Trane oor ek moes weggaan. Daar was een spesifieke toneel tussen Lee-Ann en Carmen waar dit eintlik Desiré en Portia (Joel) was wat so sad was. Ons het regtig ʼn baie goeie verhouding ontwikkel oor die jare en dit was besonder moeilik om te groet. Ek moes myself soms druk om na ʼn baie donker plek te gaan wanneer die kameras rol. ʼn Plek waar ek myself gekonfronteer het met vrees en verlies. Anders sou ek nie die storie op ʼn geloofwaardige manier kon vertel nie. Dit was vir my belangrik om dit te doen omdat ek geweet het dat sekere van die kykers hulle met Carmen se pyn kon vereenselwig omdat hulle in ʼn soortgelyke situasie was. Ek wou dit nie goedkoop maak nie.”


Sy vertel dan dat sy en haar kinders, James (9) en Robin (4), besig is om hulle voete in hul nuwe roetine te vind. Sy het juis besluit om vir eers die sepie vaarwel toe te roep sodat sy meer tyd by haar kinders kan deurbring. Voortaan sal sy haar toespits op skryfwerk om ʼn inkomste te verdien. Desiré behartig die Afrikaanse onderskrifte van ʼn telenovella, doen vertalings uit Afrikaans na Engels en andersom, en skryf ook televisietekste. Sy was deel van die skryfspan van Lui maar op Belinda en Dans en geniet die skryfwerk terdeë.
“Ek was nog op skool toe ek vir een of ander kompetisie ʼn stuk moes dramatiseer, maar kon toe net nie die regte stuk vind nie. Net daar het ek besluit om vir myself ʼn teks te skryf oor ʼn middeljarige vrou wat moet besef dat die tyd vir niemand stilstaan nie. Ek was nog altyd gefassineer deur vroue in die herfs van hulle lewe, en so is die stuk Magda Louw gebore. Ek het al by verskeie kleiner feeste en met talle damestees die stuk opgevoer. Nou is dit een van die 55 minuut-flieks wat vir kykNET vervaardig word, en ek gaan self die rol van Magda Louw vertolk. Hannes van Wyk speel my man. Dis vir my ʼn heerlike gedagte dat die rol waarmee ek nou al vir baie jare saamkom, uiteindelik ʼn fliek gaan word!” sê sy.
Vir Carmen lê die grootste vreugde in skryfwerk in die manier hoe ʼn mens sekere woorde in ʼn sin langs mekaar kan plaas sodat dit die vermoë het om mense te raak. Soms sal iemand wat dit lees uitbars van die lag, ʼn ander sal dalk weer ʼn traan wegvee. In woorde lê daar ongelooflike krag, het sy al agtergekom en skrywers het die mag van die pen om met mense se emosies te kan werk. Sy is tans in die wittebroodfase van haar skryfloopbaan en hoop daar kom al hoe meer skryfgeleenthede oor haar pad.
So in die maand waarin Moedersdag gevier word, gesels Desiré entoesiasties oor haar twee kinders wat so ʼn belangrike plek in haar lewe inneem. “Hulle is net die twee oulikste, wonderlikste kinders in die wêreld. Natuurlik sal ek so sê, want ek is hulle ma, maar ek staan werklik verstom om te sien hoe wys hulle soms kan wees. Besonder wys vir hulle ouderdom. Dan het ek ook al agtergekom dat James, wat heelwat ouer as Robin is, oor die wonderlikste humorsin beskik. Die twee is ʼn interessante duo en James is Afrikaans, maar Robin het besluit sy is Engels en praat ʼn hogere Engels. Soveel so dat sy in die Engelse klas by hulle skool is, en James in die Afrikaanse klas.
“Ek vind dit nogal ironies, want my hele lewe is maar vertaalwerk. Om Afrikaanse onderskrifte vir Engelse tekste te skryf, of andersom. Nou is ek ook heeldag besig om te vertaal wanneer ek met die twee praat: “James, het jy jou kosblik ingepak?” “Robin, go get your lunchbag.” “Spring in die kar, James.” “Robin, we must get going.” Die twee praat albei net so baie soos hulle ma, en as ons drie saam is, is daar nie ʼn oomblik se stilte nie. Dit is eintlik ongelooflik lekker en besonders om twee sulke wonderlike mensies te kan leen hier op die aarde.”

Desiré vertel dat sy eintlik, anders as die karakter Carmen wat sy vir so lank vertolk het, iemand is wat glad nie van verandering hou nie. Sy beskryf haarself as ʼn gewoontedier wat daarvan hou om dieselfde ding oor en oor te doen. Tog het sy juis by Carmen geleer dat die lewe uit interessante hoofstukke bestaan en dat daar nou weer vir haar ʼn nuwe hoofstuk aangebreek het. Sy en Chris Gardner, die pa van haar kinders, is in Augustus 2019 geskei en vir baie lank kon sy glad nie daaroor praat nie. Sy moes egter gou leer om aan te pas, of onder te gaan.
“Dis eienaardig hoe die lewe werk. Ek, wat nie van verandering hou nie, word nou gereeld gekonfronteer met verandering. Hoe meer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dat die lewe sekere uitdagings inhou, juis omdat ons dit nodig het. Een ding wat ek móés leer, is om te kon verander en toe word ek aangenaam verras. Ek hou eintlik van verandering. Hierdie nuwe reis, nuwe seisoen, nuwe hoofstuk pak ek nou met entoesiasme aan sodat dit altyd opwindend sal bly, totdat dit tyd word om weer te verander.”
Hoe voel sy oor Afrikaans?
“Ek is besonder lief vir Afrikaans, juis weens die diversiteit van ons taal. Daar is sulke pragtige woorde in Afrikaans wat jy net nie kan vertaal nie. Dis ʼn mooi en ryk taal wat steeds bly verander. Wanneer ʼn mens begin kyk na dialekte soos Afrikaaps en ʼn Moesliemdialek, besef jy hoeveel fasette daar aan ons mooi taal is. Dis ʼn taal wat aanhou aanpas by die omgewing en dis ʼn absolute voorreg om in Afrikaans te kan werk!”
Gunsteling- Afrikaanse woorde?
Onwillekeurig, sporadies en onsamehangend.