Verwerping – is dit ’n aksie of is dit ’n gevoel?
Deur Lizette Volkwyn, Meester Lewensafrigter, gepubliseerde skrywer en menslike kredietwaardige konsultant (human lie detector)
Ons is grootgemaak met die idee dat as enige iemand nie vir ons gee wat ons graag wil hê nie, of as ek vir iemand iets of selfs myself aanbied en hy of sy dit van die hand wys, dit verwerping is. Die woord “verwerping” word vinnig rondgeslinger sodra ons nie gekry het wat ons graag wou gehad het, of dink dit is wat ons nodig gehad het nie.
Wat hartseer is, is dat bykans die hele samelewing glo dat hulle op ‘n daaglikse basis verwerp word. Verwerping is nie ’n aksie nie, maar wel ’n gevoel.
Gevoelens word slegs deur jóú gekies — NIEMAND kan jou verwerp laat voel nie — jy KIES dit.
Hier is ’n voorbeeld:
Jy het hard gewerk om jouself te posisioneer vir ’n sekere pos by jou werk. Jy het selfs ’n kursus gedoen om jou kanse te verbeter, en dan kom die uitslag … ’n ander kandidaat is vir die posisie gekies. Jy is teleurgesteld, kwaad, en voel verwerp. Jy sê vir jouself: “Ek is nie goed genoeg nie.”
Is jy verwerp? Is jy nie goed genoeg nie? Nee, beslis nie. Die waarheid is, keuses, besluite en opinies word gemaak vanuit ’n ander persepsie. Jy het geen beheer daaroor nie. Die uitslag is terugvoer. Dit sê dat wat hulle in gedagte het en wat jy kan aanbied, nie in lyn is met mekaar nie. Dit is nie persoonlik nie.
Dit klink makliker gesê as gedaan. So, hoe begin jy om jou persepsie te verander? Ek deel graag ’n paar wenke.
Wenk 1: Niks in die lewe is persoonlik nie.
Dit is die belangrikste wenk. NIKS in die lewe is persoonlik nie, en alles gebeur uit ’n enkele perspektief.
Jy mag sê: “Dit klink nie reg nie”, maar dink daaraan … Jy vra vir manlief of hy saam met jou na ’n dinee of werksfunksie toe sal gaan waar meestal net dames sal wees. Manlief antwoord versigtig en wys dit van die hand.
Jou eerste reaksie is dat hy jou verwerp en nooit saam met jou iets wil doen nie. Jy is nie goed genoeg nie en hy wil nie saam met jou gesien word nie. Die waarheid is dat hy moontlik nie van sulke geleenthede hou nie, en nog minder wil uitstaan as een van die mans wat dit wel bywoon. Dit is persepsie — nie verwerping nie. Dit was nie persoonlik teen jou gemik nie.
Wenk 2: Besluite word geneem vanuit die persoon se oogpunt.
Elke persoon se opinie en uitkyk op die lewe hou direk verband met hul kultuur, opvoeding en kernwaardes, en besluite word vanuit daardie perspektief geneem. Dus, as jy nie in daardie raamwerk gaan pas nie, gaan hul nie gemaklik voel om jou in hul binnekringe toe te laat nie.
Ek onthou spesifiek ’n geval waar ek so bitter graag ’n pos wou hê. Ek was goed gekwalifiseerd, reg geposisioneer en bo alles was ek oortuig ek en die direkteure het ’n goeie gesprek gehad. Ek was op die kortlys, ek het voorberei om vir hulle die voorlegging volgens hulle reëls te doen. Ek het navorsing gedoen en my voorlegging was foutloos. Drie dae later kontak hulle my en sê hulle het die ander kandidaat aangestel – sy voorlegging was buite die reëls. Ek was verpletterd; oortuig dat ek nie goed genoeg is nie en het onmiddellik verwerp gevoel.
Ek kyk vandag terug na daardie posisie en ek besef dat ek nooit in hul oorwegend Engelse omgewing en kultuur sou kon aanpas nie, al was ek hoogs gekwalifiseerd vir die posisie. Het hulle my verwerp? Nee, hulle het net ’n besluit geneem vanuit hulle perspektief en wat volgens hulle die beste vir hulle sou werk.
Wenk 3: Verstaan waarom jy ’n gevoel van verwerping ervaar.
Dis nie so voor die hand liggend as om te sê jy het nie gekry wat jy graag wou hê nie. Baie keer ervaar ons ’n baie dieper, onvervulde behoefte en is die negatiewe uitslag net die kersie op die koek.
Een van my kliënte was verslae nadat haar huwelik van 14 jaar verbrokkel het. Haar man het haar blameer dat sy stagneer het, en hy meer avontuurlustig en ambisieus geword het. Hy het uitgestap en wou nie vir berading gaan nie. Die eerste reaksie was om te voel dat sy nie goed genoeg is nie en onmiddellik die egskeiding te blameer vir die intense gevoel van verwerping.
Die realiteit is dat ons gevoel van verwerping alreeds van kindsbeen af gekweek is en die programmering in elke besluit ‘n effek het. Vir my kliënt was dit die feit dat haar pa en ma geskei het toe sy nog klein was. Sy moes dus op vroeë ouderdom die hartseer, teleurstelling en verwyte meemaak. In haar wêreld word sy dus elke keer verwerp as iemand haar nie kies nie, en koppel sy die hartseer, teleurstelling en verwyte aan wat sy as kind ervaar het. Dit laat die gevoel van verwerping dan soveel meer dramaties na vore kom.
Die oomblik toe sy besef het dat die beëindiging van haar huwelik nie verwerping is nie, maar eerder iemand se opinie is (al is jy hoe lief vir die persoon), kon sy haar fokus verskuif op wie sy regtig is, op haar waardes en wat sy verdien en kon sy die verbrokkelende huwelik verwerk en aanbeweeg.
Wenk 4: Gee jouself grasie.
Jy moet jouself grasie gee en koester in tye wanneer die gevoel van verwerping jou oorheers. Ons is 75% geprogrammeer om eerste negatief te dink en dis hoekom ons onmiddellik voel die wêreld het in duie gestort sodra ons nie die verwagte uitkoms kry nie. Dit is in hierdie oomblikke waar ’n verhouding verbrokkel het, ’n werksaansoek onsuksesvol was, of ’n toekenning jou ontglip het, dat jy eerder jouself moet opbou, op jou sterk eienskappe fokus en die emosies opsy sit. Koester jouself, hergroepeer en sien dit as terugvoer.
Wenk 5: Jou negatiewe situasie is nie jou eindbestemming nie.
Jy moenie toelaat dat die negatiewe uitslag jou toekoms definieer of bepaal nie. Jy weet nou dat niks in die lewe persoonlik is nie, en dat daar soveel buitefaktore is wat ’n invloed op bepaalde uitslae het. Daarom kan jy elke keer opstaan en van rigting verander, totdat jy die verlangde resultaat kry.
Ek verwys graag na Kolonel Sanders, die stigter van KFC. Hy was maar vyf jaar oud toe sy pa oorlede is. Op 16 het hy die skool verlaat, en op die ouderdom van 17 het hy al vier posisies beklee wat almal misluk het. Die weermag het hom afgewys, hy het later probeer om sy studies te hervat en is afgewys. Sy vrou het hom op 25 verlaat en hulle enigste dogter saamgeneem. Alle pogings om sy dogter te sien of terug te kry, het misluk. Op 65 het hy afgetree met ‘n staatsubsidie van $105, reg om selfmoord te pleeg, en toe besef hy hy het nog nooit kosmaak probeer nie. Daar het hy besluit om nie toe te laat dat enige iemand sy lewe gaan definieer nie, en het begin met die bekende KFC-hoender. Op die ouderdom van 88 was hy ’n miljardêr.
Of dit nou ‘n netelige situasie is wat jou verwerp laat voel, en of dit ’n ernstige verhouding is wat tot niet is, die feit is dat verwerping ’n gevoel is wat jy toelaat om alle geleenthede vorentoe te steel. Moenie dat dit jou definieer nie. Jy is soveel meer werd as dit.