Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Ons hoofdoel is om hoop te skep – veral vir die afvlerkkinders in ons gemeenskap – sodat hulle in hulleself kan glo en met ’n positiewe selfbeeld vir hulleself in die toekoms ’n inkomste kan genereer.”
– Johannes van Schalkwyk, skoolhoof by Westcliff Vaardigheidskool in die Wes-Kaap.
Kom ons wees nou maar eerlik. Ons land se tegniese opleiding het histories aan die agterspeen gesuig en tans sit ons met die gebakte pere en ‘n tekort aan goed opgeleide tegnici. Toegegee, daar word geruime tyd nou weer aandag hieraan gegee, maar die pad vorentoe is nog lank. Dit is duur, die aanvraag na instansies is groter as die aanbod en daar word steeds in baie gemeenskappe geglo dat ‘n mens net suksesvol kan wees as jy universiteit toe gaan.
Suid-Afrika se arbeidsmarkklimaat is ‘n tameletjie om die minste te sê, en duisende jongmense moet daagliks meeding om werksgeleenthede en ervaring. Een van die grootste struikelblokke vir jongmense wat die arbeidsmark wil betree, is hulle gebrek aan praktiese ervaring. Daarom is die opleiding in vaardighede een van die beste maniere om hulle ekonomiese geleenthede te bied. Suid-Afrika het vaardigheidsontwikkeling geskoei op spesifieke behoeftes nodig. Nie almal kan die ingenieur of bestuurder wees nie en daarom is daar beslis plek vir diegene wat in ’n spesifieke vaardigheid opgelei is. Vaardigheidskole kan aan hierdie behoefte voldoen. Wanneer daar dan ook verdere opleiding gebied word deur internskappe of aanvullende kursusse, kan ons seker maak ons jongmense word toegerus met spesifieke vaardighede waaraan daar ‘n tekort bestaan. Sê mnr Van Schalkwyk: “Ons leerders kry die geleentheid om twee weke lank praktiese ondervinding by ’n buite-instansie op te doen – en ten minste 64% van ons leerders kry werk na skool.”
Die verskil tussen ’n tegniese skool en ’n vaardigheidskool
Tegniese skole is dieselfde as hoofstroomskole waar leerders tot graad 12 skoolgaan en ’n groot gedeelte van die kurrikulum akademiesgerig is, maar met sekere tegniese vakke waarin hulle onderrig ontvang. So ’n leerder kan dan na skool kollege, technikon of selfs universiteit toe gaan, of in die praktyk as vakleerling gaan werk en op dié manier ’n verdere kwalifikasie behaal.
Vaardigheidskole is skole vir leerders wat dit moeilik vind om in die hoofstroomskole te vorder en meer baat sal vind by ‘n skool waar hy/sy in spesifieke handvaardighede opgelei kan word – vaardighede wat hulle sal toerus om uiteindelik ’n selfstandige lewe te lei. Dit is vaardighede soos houtwerk, basiese sweis- en metaalwerk, paneelklop en spuitverf, haarversorging, voedselproduksie, vroeëkinderontwikkeling, boukonstruksie, boerdery, gasvryheidstudie, ens.
Leerders – gewoonlik op graad 2- of 3-vlak, ongeveer 14 jaar oud en wat reeds twee keer gedruip het – word op aanbeveling van opvoedkundige sielkundiges in vaardigheidskole geplaas. Die laerskool moet ook gewoonlik namens die leerder aansoek doen tot toelating by ‘n vaardigheidskool. Leerders of hul ouers kan dus nie uit eie keuse aansoek doen om na ’n vaardigheidskool toe te gaan nie. Gesels dus betyds met jou kind se onderwysers en kundiges, bepaal dan wat die beste opsie vir jou kind sal wees en sit die bal aan die rol.
Onderrig by ’n vaardigheidskool
Hier ontvang die leerder vier jaar lank beroepsgerigte onderrig (jaarvlak 1 tot 4) en kwalifiseer uiteindelik met ’n NKR-vlak 1-kwalifikasie (“NQR Level 1”). Dit is gelykstaande aan ’n graad 9 in ’n hoofstroomskool.
Elke leerder ontvang steeds 50% akademiese opleiding in vakke soos Afrikaans, Engels, Wiskunde, Lewensvaardighede en dies meer, en neem deel aan sport en kultuur, maar dit is die ander 50% tegniese opleiding in die werkswinkel en die teorie wat daarmee saamgaan, wat uiteindelik die leerder in staat gaan stel om na skool ‘n beroep te volg. Verder stel die tegniese vaardigheid die leerder in staat om na skool hul gekose ambag te voltooi, of in die spesifieke rigting te gaan werk. Party leerders gebruik ook hulle vaardighede om hulle eie werk te skep en besighede te begin.
Die uitdagings
Dit klink dus voor die hand liggend – vaardigheidskole is nie net nodig nie, dit is noodsaaklik. Tog is daar talle uitdagings wat die hoof gebied moet word en is die “alternatiewe roetes vir leerders wat probleme ervaar om by te bly by die eise van die kurrikulum, soos byvoorbeeld vaardigheidskole, beperk.” Baie leerders wat aansoek doen by vaardigheidskole word ook nie geakkommodeer nie – dikwels weens ‘n gebrek aan fondse. Omdat sulke leerders nêrens geholpe raak nie, verlaat hulle dan dikwels na graad 9 die skool. Nog uitdagings:
- Tegniese opleiding is duur. Dink maar net aan ‘n goed toegeruste werkswinkel met die verskillende werktuie en masjinerie – en dan moet dit ook in stand gehou word.
- Witboordjiearbeid is steeds die ideaal van menige jongmens. Hulle (en dikwels hulle ouers) glo dat beroepe soos onder andere dokters, tandartse, veeartse, rekenmeesters, ingenieurs en finansiële adviseurs deure gaan oopmaak.
- Die stigma verbonde aan tegniese/vaardigheidskole is steeds met ons met die persepsie dat dit minderwaardige onderrig is, trouens die soort beroepe wat daaruit voortspruit word ook as minderwaardig beskou. Daar is selfs diegene wat glo dat dit “dom” of “moeilike” kinders is wat na sulke skole gestuur word! Allermins!
- Ouers glo dat hulle kinders nie ‘n toekoms het indien hulle akademies sukkel nie, maar dit is ‘n groot fout. Sulke kinders leer net anders, hulle stel in ander goed belang en dikwels is ‘n tegniese rigting juis die antwoord. Soos wat mnr Van Schalkwyk van Westcliff tereg sê: “Ons leerders leer alternatiewelik.”
- Akademie is die enigste roete. Baie leerders glo dat hulle slegs uit hulle “omstandighede” kan ontsnap as hulle die akademiese roete volg, en dat dit die enigste manier is om nie soos hulle ouers handearbeid te verrig nie.
- Gebrekkige inligting. Inligting by laerskole oor tegniese vakke is nie genoegsaam nie. Ouers en talle onderwysers is ook nie op hoogte met tegniese vakke en die geleenthede wat dit bied nie.
Voordele van meer tegniese opleiding
- Leerders ontwikkel waarneembare vaardighede.
- Vaardigheidskole is minder teoreties ingestel en laat leerders toe om oorwegend ’n tegniese kurrikulum te volg omdat hulle meer tegnies aangelê is.
- Wetenskap word deur praktiese en konkrete ervarings bemeester.
- Die leerder se kreatiwiteit word bevredig.
- Dit dra by tot ‘n positiewe selfbeeld, omdat die leerder iets konkreet het om te wys en sy sukses dus gesien kan word. Hy of sy is trots op die tafel wat gemaak is, die hek wat gesweis is of die haarstyl wat geskep is.
- Vaardigheidskole het gewoonlik ook winkels waar die leerders hul werk/items kan verkoop. Boonop word hulle aangemoedig om self die prys te bepaal en die verkope en wins te hanteer. Dus, ’n verdere vaardigheid wat na skool grootliks kan bydra tot die leerder se sukses, veral as hy/sy ’n eie onderneming vestig.
- Die werkswinkels waarin die leerders opgelei word, is goed toegeruste klaskamers.
- Heelwat tegniese onderwysers kom uit nywerheid in die onderwys, is dikwels self ’n vakman – en dit dra by tot die standaard van opleiding.
En die ouer wat moeilik aanvaar dat hulle kind nie in die hoofstroom kan funksioneer nie?
Mnr Van Schalkwyk vertel dat dit in die meeste gevalle waar is en dat ouers omtrent altyd vir hom sê dat dit beslis nie hulle keuse is om hulle kind in die vaardigheidskool te plaas nie. Aan sulke ouers sê hy dan gewoonlik dat hulle dit ses maande moet gee en dan kyk hulle weer. “In my meer as 30 jaar in die onderwys by Westcliff, kan ek met alle eerlikheid sê dat daar nog net een ouer is wat na ’n ruk gevoel het hulle kind hoort tog in die hoofstroom – en ek het met hulle saamgestem.”
“Dit is geen maatskaplike skande om ‘n tegniese skool by te woon nie. Wat belangrik is, is dat lewenslange leerroetes geskep word. Mense moet na ‘n Verdere Onderwys- en Opleidingskollege (VOO-kollege) kan gaan, ‘n oorbruggingskursus kan volg, na die eerste jaar op universiteit kan vorder en met ‘n PhD-graad kan eindig.”
– Prof Piet Naudé, US Bestuurskool (Die Burger – Oos-Kaap, 23 Maart 2016)
Een ding wat soos ‘n paal bo water staan: ’n Kind wat in hom-/haarself glo, ’n positiewe selfbeeld ontwikkel omdat hy/sy deur sy groep aanvaar word en nie meer die kind is wat uitgesluit word nie, of die kind is wat glo dat hy/sy nie goed genoeg is nie, is ’n gelukkige en goed aangepaste kind wat presteer op sy/haar eie gebied. Ja, dalk lees die kind nie so vlot nie, maar hy kan ’n netjiese las sweis – of ’n ordentlike gevulde pannekoek bak – of hare netjies sny!
Bronne:
http://www.sun.ac.za/english/Documents/newsclips/HWyngaard_DieBurger_23Maart2016.pdf
Tesis ingelewer ter gedeeltelike voldoening aan die vereistes vir die graad Magister in Opvoedkunde (Onderwysbeleidstudies) – Maart 2012 (‘n Ondersoek na enkele implikasies van die bevorderingsbeleid in die Algemene Onderwys- en Opleidingsfase in Suid-Afrikaanse skole – epistemologiese toegang deur Agnes Hanli Geldenhuys)