Die bekroonde kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, het op ‘n vorige geleentheid sy topboeke vir elke jong boekwurm met ons gedeel. Met Internasionale Kinderboekdag wat vanjaar op 2 April herdenk word, het ons dit goedgedink om jou weer aan hierdie boeke te herinner. Van ou gunstelinge tot splinternuwe aanbiedings, het hierdie lysie iets vir jou en jou kind! Vier saam aan Internasionale Kinderboekdag deur jou gunstelingtitel aan te skaf.

Pippie Langkous – Astrid Lindgren
Pippie is nou wel van Sweedse afkoms, maar danksy Nerina Ferreira se briljante vertaalwerk het sy lankal ereburgerskap in Afrikaans gekry. Pippie se avonture is immergroen en vermaak al geslagte kinders. Hoe dan ook anders, as jou volle naam Pippalotta Provianda Rolgordyna Kruisementa Efraimsdogter Langkous is, en jou pa is ’n skeepskaptein wat koning van ’n mensvreter-eiland geword het, en jy het hope geld, ’n apie genaamd Meneer Jakobs – en jy is sterk genoeg om ’n perd op te tel!

Kleuterverseboek – D.J. Opperman
As daar een boek is wat ná jare steeds ongetwyfeld op elke Afrikaanse kind se boekrak hoort, is dit dié een. Ma, Pa, Oupa en Ouma moet sommer reeds wanneer die eerste pienkvoet op pad is by Opperman gaan kers opsteek sodat hulle kan seker maak die kleinspan maak kennis met van die bekendste Afrikaanse kinderverse. Geen Afrikaanse kind behoort groot te word sonder rympies soos “Karalie! Karool!”, “Trippe, trappe, trone” en “Wielie, wielie, walie” nie.

Babalela – Martie Preller (skrywer) en Andries en Erica Maritz (illustreerders)
Dié klein pers bosbewonertjie en sy maats het oor die jare diep in kinderharte ingekruip. Daar is iets bemagtigends aan die “Los my uit!”-refrein wat soos ’n goue draad deur al die stories in die reeks loop.

Maroelaboomstories – Leon de Villiers
’n Lys soos dié sal nie volledig wees sonder ’n boek met lekker dierestories nie. Leon de Villiers is op sy beste wanneer hy oor diere van Afrika en die natuur skryf, en die prettige stories wat die trop bobbejane in Maroelaboomstories vir mekaar opdis, sal jong lesers se tone laat omkrul van lekkerkry.

Liewe Heksie – Verna Vels
Liewe Heksie het uiteraard geen bekendstelling nodig nie. Wyle Verna Vels se uitgewers sorg daarvoor dat Heksie se stories steeds in verskillende uitgawes voortleef, sodat kinders van verskillende ouderdomme dit kan geniet.

Lena se bottelboom – Wendy Maartens (teks) en Anna-Carien Goosen (illustrasies)
Een van die aangrypendste prenteboeke wat ooit in Afrikaans verskyn het, oor ’n dogtertjie wat met die verlies van haar ma moet leer saamleef. In bedrieglik eenvoudige, liriese taal geskryf deur Wendy Maartens, met lieflike illustrasies deur Anna-Carien Goosen.

Slym se stories – Fanie Viljoen
Dié reeks stories vir lesers wat pas self begin lees het, is kleurvol deur Fanie Viljoen self geïllustreer. Slym en sy vriende by die paddaskool sorg vir prettige vermaak propvol slymerige avonture.

Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het – Werner Holzwarth (teks) en Wolf Erlbruch (illustrasies)
Dié boek is uit die oorspronklike Duits vertaal, maar danksy die feit dat die briljante Linda Rode die vertaling gedoen het, én omdat die storie so ’n briljante, bolliebesaaide speurverhaal-in-die-kleine is, verdien dit ’n plekkie op my lys.

Die beste Suid-Afrikaanse spookstories – Wendy Maartens
Ek is op die oomblik nogal in ’n nostalgiese bui, daarom het ek dié boek ook ingesluit. Spookstories is immers van die lekkerste leesstof waarop jy as kind jou hande kan lê, en elke Afrikaanse kind moet een of ander tyd kennis maak met die Heks van Hexrivier, die spook van Uniondale en ’n paar van C.J. Langenhoven se spookstories.

Mallemeuleman – Philip de Vos
Philip de Vos se pittige, klankryke verse vermaak reeds geslagte Afrikaanse kinders, en Mallemeuleman, ’n keur uit sy kinderverse en limerieke wat oor die jare verskyn het, is ’n boek vir oor en oor lees.
Vir meer oor Jaco Jacobs klik hier.
Lees ook:
Agt maniere om lees lekker en maklik te maak. Klik hier.
Jou biblioteek … daar waar boeke in jou oor fluister. Klik hier.
Lees – die sleutel tot leersukses. Klik hier.
Tien redes hoekom hardoplees vir jou kind werk. Klik hier.
Story Power – ’n gids om lees en skryf by jou skool te bevorder. Klik hier.
Kom ons lees weer Afrikaans. Klik hier.
Lekkerleesboekrak. Klik hier.