Leandie du Randt, hetsy dit op ‘n skerm, ‘n verhoog, as skrywer, of as aanbieder is, hét nou maar eenmaal teenwoordigheid. Met haar kenmerkende sprankel en go-getter-houding het sy oor die afgelope jare haarself nie net as aktrise gevestig nie, maar ook as besigheidsvrou. Haar oop en eerlike benadering tot dinge soos angs, verhoudings, en mislukking maak haar een van Suid-Afrika se mees toeganklike openbare persoonlikhede. Tans te sien as aanbieder op M-Net se splinternuwe realiteitsreeks, Love Island South Africa, het ons besluit dis tyd om vir Leandie so bietjie beter te leer ken.
Die laaste episode van die eerste seisoen van hierdie reeks word hierdie Sondag (11 April 2021) om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai. Wie gaan die wenpaartjie wees? En gaan hulle liefde of R1 000 000 kies?
Skakel in en vind uit!
Waar kom haar dankbaarheidsgees vandaan? Watter boeke lees sy graag? En wat doen sy wanneer sy oorweldig voel? Lees en leer saam!
Afrikaans.com maak van tyd tot tyd gebruik van Tim Ferris se Tribe of Mentors-vrae om meer te leer van (en by) ons land se gunstelingbekendes, besigheidspersoonlikhede, skrywers, en so meer. Hierdie artikel vorm deel van daardie reeks.
Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom?
Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
The 7 Habits of Highly Effective Teens deur Steven Covey – ek was in graad 10 toe ek vir die eerste keer ’n selfhelpboek gelees het en dit was dié een. My pa het net die boek op my kussing neergesit. Dalk omdat ek daai tyd nogal ’n moeilike tiener was en baie met my ma baklei het. Hy wou seker op ’n ander manier na my probeer deurdring en dit het gewerk, hoor! Dié boek het my verslaaf gemaak aan selfhelpboeke. Dit is definitief waar my liefde vir selfbevordering, introspeksie, sowel as my belangstelling in die mens se hart en psige, begin het. Hierdie boek is so ’n fantastiese geskenk vir enige tiener. Vir diegene wat reeds uit hul tienerjare is, maar steeds graag sal wil leer uit Covey se beginsels, is daar ook ‘n volwasse-weergawe, The 7 Habits of Highly Effective People.
The 5 Love Languages deur Gary Chapman – die boek het ek ook al op hoërskool gelees omdat ek vas geglo het dit gaan my help om my trouman te vind. Wat dit wel doen, is om jou en ander se liefdestaal te identifiseer en te verstaan. Dit verduidelik jou hoe mense verskil in die manier waarop ons liefde wys, raaksien en ook wil ontvang. Dit het al so baie huwelike en verhoudings gered – nie net tussen man en vrou nie, maar ook in families en vriendskappe. Ek sal veral hierdie boek aanbeveel vir paartjies. Wanneer dit by mense en verhoudings kom, beveel ek ook graag Fascinating Womanhood deur Helen Andelin aan. Die boek is aan my gegee deur een van my hartsvriendinne en mentors, dr. Gerdi van den Berg (haar eie boek Jy Kan Verander is ook ’n MOET LEES). In Fascinating Womanhood leer jy as vrou hoe om jou man lief te hê op ’n manier wat hy gaan raaksien en verstaan – dit is regtig revolusionêr, dog so outyds in beginsel.
The Power of Now deur Eckhart Tolle – as jy so sterk L2 soos ek is in Kobus Neethling se Breinprofiel (gaan lees gerus meer daaroor!), sal jy baie graag alles in jou lewe wil beplan. Die waarheid is egter, nes die Woord van die Here ook sê, dat wat was en wat kom niks is teenoor wat IS nie, en dat ’n mens net tot ’n mate kan beplan. ’n Mens kan ook nie terugvaar in tyd en dinge verander nie. Daarom moet ‘n mens leer om dit wat IS, te omarm. Dis waaroor The Power of Now gaan. Eckhart Tolle het dit so mooi reggekry om my te leer om dit wat ek nou is en het, te vier. As ek in die hede gaan opdaag en teenwoordig wees, word bekommernis en angs oormôre minder. Die boek is ’n moet-lees vir angstige en neurotiese mense. Echkart Tolle se potgooireeks saam met Oprah, wat ook oor die boek handel, is ’n moet-luister daarna of terwyl jy die boek lees. Die potgooi help om van die moeiliker konsepte verteerbaar en meer verstaanbaar te maak.
Ander boeke wat ’n mens ook laat dink en jou denke laat verbreed, is The Alchemist deur Paulo Coelho en The Monk Who Sold his Ferrari deur een van my gunstelingmentors en life coaches, Robin Sharma. Sy kort video’tjies op Instagram en kort podcasts is ook definitief ’n moet vir dié wat hou van selfbemeestering en selfbevordering.
Watter aankoop van ‘n R1000.00 of minder oor die afgelope 12 maande het ’n groot impak op jou lewe gehad?
Ons lesers hou van besonderhede – sluit in handelsmerk, model, waar jy dit gekoop het, waarom dit jou gehelp het, ens.
My Ring Light op Takealot.com vir R850. Ek gebruik dit vir al my Zoom-oproepe, onderhoude, foto’s en video’s wat ek self maak.
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.
Kies dat die lewe besig is om VIR jou te gebeur.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
Die tyd wat ek al in my vriende en familie spandeer het. Hulle is my ‘’tribe of mentors’’ en my council soos ek hulle noem. Sonder hulle sou ek definitief nie gewees het waar ek is nie of al oorleef het wat ek het nie.
Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Hierdie vraag, in ‘n enkele woord, kan vir my opgesom word in dankbaarheid en die uitlewing daarvan. My ma het aan alzheimers gelei. Om hierdie rede, het ek myself die gewoonte aangeleer om vir Liewe Jesus dankie te sê vir klein dingetjies wat ek self kan doen – om te kan badkamer toe gaan, om iets te kan herroep en te onthou, om nooit ‘n herinnering weg te wens nie. Die boek, The Magic, het ook die gewoonte in my gekweek om altyd vir skoonmakers dankie te sê; in die inkopiesentrum, by die lughawe, waar ook al! Die vreugde wat dit op hulle gesigte bring, maak elke keer my dag. Ons is so geneig om te kla as ‘n publieke plek vuil is, maar sê ons ooit dankie as dit skoongemaak word? Dankie dankie dankie!
In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Sonder twyfel die gewoonte om ‘n lewe van dankbaarheid te lei en ‘n gratitude journal (dankbaarheidsjoernaal) te hou. Ek gebruik dit om daagliks 10 goed neer te skryf waarvoor ek dankbaar is. Dit plaas ’n mens op ‘n ‘’frequency van receiving’’ en voorkom dat ‘n mens ‘n slagoffer word – jou gedagtes en dit waarop jy mediteer, is van onskatbare belang.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek vra eers vir myself af wat dit is wat my uitstres of oorweldig, en of dit iets is wat ek kan beheer. As dit nie is nie, moet ek besluit om dit te aanvaar en te begin fokus op die ander dinge wat op die oomblik waar en goed is in my lewe. As dit iets is wat ek kan beheer, vra ek myself af wat ek kan doen om dit te verander of verbeter. Dan maak ek ’n aksie-lysie en prioritiseer die volgorde waarin dinge moet gebeur. Daarna spring ek aan die gang en begin net. Ek raak rustig as ek lysies het van wat gedoen moet word. Ek maak gebruik van die notas-funksie op my selfoon, en merk elke taak af soos wat ek vorder. Dit bring vir my baie vreugde en laat my voel ek is min of meer in beheer van my dinge.
As ek net hartseer of emosioneel voel, gooi ek vir my ’n glas wyn in en gaan sit ek iewers waar ek na die natuur kan kyk en noem vir myself alles op wat ek het om voor dankbaar te wees. Ek dink ook aan wat dit is wat my hartseer maak en dan vra ek myself af hoekom en wat kan ek daaraan kan doen om die gevoelens te laat gaan. Dit help my ook baie om dit te bespreek met my kêrel, vriendinne, of familielede. Hulle gee altyd vir my perspektief en help my om sin te maak van my gevoelens. Soms het mens net daai iemand nodig om dinge van af te bons, want ons raak soms te subjektief betrokke by ons eie gedagtes en sien dinge nie vir wat dit werklik is nie, maar vir die fasade wat ons in ons kop geskep het.
Leandie du Randt is ‘n aktrise, spreker, aanbieder, en skrywer.
Sy is tans van Sondae to Vrydae om 21:30 te sien as die aanbieder van die heel eerste Love Island South Africa.