Skrywer: Alita Steenkamp
Een aand in die vreemde, vol heimwee en siek van verlange na haar ma wat die vorige jaar gesterf het, het Diana Ferrus meteens gedink aan Sarah Baartman, die Khoi-vrou wie se skelet en liggaamsafbeelding vir meer as 150 jaar in ʼn Franse museum uitgestal is. Hoe baie moes Sarah in daardie tydperk wat sy in Europa aangehou is na haar ma en haar geboorteplek verlang het, het Diana gedink terwyl sy by die venster van haar woonplek in Utrecht, Nederland, uitgestaar het. Een van die afdelings van haar Honneursgraad in Vrouestudies waarmee sy besig was, was Seksualiteit in die Kolonies en Sarah Baartman was deel van die studiemateriaal. Met heimwee wat oor haar spoel, het sy besef hoe intens Sarah Baartman, byna 200 jaar gelede, na haar huis moes verlang het. Meteens het sy ʼn stem gehoor wat uitgeroep het: “I want to go home, I want to go home.”
“Jy weet,” vertel Diana in ʼn telefoongesprek, “net daar het ek, met trane wat oor my wange stroom, omgedraai en gaan sit om die eerste reël van die gedig te skryf: “I come to take you home…” Ek het nooit geweet hoe profeties daardie woorde sou wees nie,” vertel sy van die geboorte van die gedig Huldeblyk aan Sarah Baartman.
Sy het daardie tyd die gedig in Engels geskryf, want haar medestudente was van reg oor die wêreld en dus nie Afrikaans magtig nie. Terug in Suid-Afrika, nadat dr. Willa Boezak die gedig gehoor het, het hy by Diana aangedring dat sy dit in Afrikaans moet vertaal, want “onse mense praat Afrikaans.” Nadat hy haar die derde keer gevra het en gedreig het om dit self in Afrikaans te vertaal, het Diana gaan sit en die vertaling in een sessie gedoen. Uiteindelik is Sarah Baartman se oorskot na Suid-Afrika teruggestuur waar sy in Hankey, in die Gamtoosvallei, begrawe is. Diana se gedig het sonder twyfel ʼn baie groot rol gespeel in die herbewusmaking van die lot van Sarah Baartman. Dit was juis ʼn vertaling van haar gedig, wat die Franse senator Nicolas About in die Franse senaat voorgelees het, wat uiteindelik gelei het dat ʼn wet aanvaar is om Sarah, of Saartjie soos sy ook bekend was, te laat huis toe kom.
Foto’s: Facebook
Diana het reeds as ʼn jong tiener, 14, 15 jaar oud, haar eerste twee gedigte geskryf. Sy vertel dat sy grootgeword het in ʼn politiekbewuste familie. Haar neef Hennie Ferrus, was ʼn aktivis en danksy hom was sy altyd bewus van reg en onreg. Sy het van ʼn treinramp in die destydse Landstem, die voorloper van Rapport, gelees en die foto’s van die treinramp het haar verskriklik aangegryp. In die ongeluk is meer as 80 swart werkers wat per trein na KwaMashu gereis het, dood. Dit het haar geïnspireer om haar heel eerste gedig te skryf. Hierna het ʼn voorval wat in Doringbaai, ʼn klein vissersgemeenskap aan die Weskus gebeur het, haar weer geïnspireer om oor die mense se swaarkry te skryf. ʼn Groepie gesinslede en familie van die manne op ʼn visserskuit, het gestaan en kyk hoe die skuit in die hawe inkom, maar dit het voor hulle oë omgeslaan en die vissers het verdrink.
“My ouers was baie opgewonde oor die gedigte. Van kleins af het hulle gereeld vir ons poësie voorgelees en gedramatiseer en dit is waar my liefde vir poësie vandaan gekom het. Dit was vir my so lekker om iets te kon skep waarvan ander mense hou. In graad 11 en 12 het ek en ʼn paar klasmaats gereeld bymekaar gekom om gedigte te skryf. Tot my spyt het ek nie meer daardie twee oorspronklike gedigte nie. Dit is vernietig toe my ma, soos elke jaar, haar kaste leeggemaak het en daarvan ontslae geraak het,” sê Diana.
Diana was vir 25 jaar werksaam by die Universiteit van Kaapstad, maar het in 2016 afgetree. Daar was egter nog geen kans vir stilsit nie, want Diana doen steeds baie werk as beoordelaar vir die ATKV, werkswinkels vir die National Institute for Humanities and Sciences en die nasionale biblioteek van Suid-Afrika, om ʼn paar te noem. Sy is ook een van die stigterslede van die groep Mengelmoes Digters. Diana is ook nou betrokke by die Pniël digters wat sopas hul eerste boek, Voetspore, vrygestel het. Sy tree ook graag as geleentheidspreker op by verskeie funksies en huiwer nie om van haar gedigte voor te dra nie, want, sê sy: “I’m a sucker for the stage. Ek word iemand anders op die verhoog en put geweldig baie inspirasie en krag uit die gehoor.”
Haar liefde vir Afrikaans, is iets waaroor sy met groot vrymoedigheid praat. Dis die taal waarin sy grootgeword het, die taal wat ouma Bettie, wat haar eintlike versorger was, gepraat het. Sy lag heerlik wanneer sy vertel hoe ouma Bettie ʼn eienaardige gewoonte gehad het. Wanneer sy in die middag vieruur haar koppie koffie gekry het om te drink, het sy altyd so ʼn klein bietjie in die koppie oorgelos. Diana sê hulle kon maar enige plek gewees het, soos klokslag sou sy bykom om ouma Bettie se laaste slukkie te drink.
“Natuurlik klop my hart in Afrikaans,” sê sy, “maar dis ook belangrik om te sê dat ek al die variante embrace. Ek is positief oor die voortbestaan van Afrikaans en al die variante. Dit maak my opgewonde om te sien dat iemand soos Olivia Coetzee ʼn volledige boek, Innie Shadows, in Kaaps geskryf het. Jy kan net nie Afrikaans met ʼn stywe draad wil rig en lei nie. Ons moet toelaat dat Afrikaans gebuig word, dit is nog al die jare gebuig.”
Op 21 Maart word Wêreld-Poësiedag gevier, en Diana dink dis ʼn uitstekende idee om ʼn dag spesiaal te wy aan die digters wat met hulle fyn net van woorde, mense kan help om hulle eie gevoelens te ontleed, te ontsyfer, te ken en te verstaan. Sy het reeds as jong meisie besef dat die woorde wat sy op papier neerpen, haar ook help om die pyn en swaarkry beter te verstaan en te verduur.
“Jy weet, as ek iemand moet ontmoet wat my van gʼn kant af ken nie, sal ek myself voorstel as ʼn doodgewone mens wat gelukkig woon in my huisie in Kuilsrivier,” sê Diana. Dan lag sy weer. “Die huis is natuurlik veels te klein vir al my boeke, maar het wel ʼn uitsig op Tafelberg aan die een kant, en Kuilsrivier se berge aan die ander kant. Wat ek egter sal wil hê dat hulle moet weet, is dat ek ook ʼn skrywer, ʼn digter en ʼn storieverteller is. My skryfwerk is soos die Kanadese musikant Joni Mitchell se musiek: confessional. Soms is daar by ander mense ʼn groot ongemaklikheid omdat ek myself, my pa en ma en my familie so aan die wêreld blootstel. Tog het ek lankal besef daar is mense daar buitekant wat wag dat ek hierdie gedigte moet skryf, sodat hulle hulself kan genees daarmee. Wanneer ek dit reggekry het, en wanneer ek ʼn jong of opkomende digter kan help om hulle plek in die Suid-Afrikaanse poësielandskap te vind, maak dit my intens gelukkig.”