Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die debat het reeds jare gelede begin – toe televisie pas in ons voorkamers geland het en Riaan Cruywagen deur ‘n ou tante wat ek geken het, beskryf is as “darem so mooie man”. (En ja, sy het spesiaal hare gekam vir die okkasie.) In elk geval, daar is desjare reeds gevra: Moet ek my jong kind toelaat om televisie te kyk? En hoe lank is lank genoeg. Party ouers is skerp gekritiseer omdat hulle die televisie as kinderoppasser ingespan het (vandag steeds) – sodat hulle nog ‘n rukkie kan slaap of darem net die kos op die tafel kan kry.
Dit is egter kinderspeletjies teen vandag se situasie. Deesdae beteken skermtyd soveel meer, want … televisie is maar een van die mediums. Ons kinders het vandag toegang tot ‘n magdom van toestelle, toeps, aanlyn alles en nog wat. Buitendien is hulle so bedrewe met die jongste tegnologie, dat ouers hulle koppe bymekaar moet hou om net by te hou.
Covid-19-inperking: ‘n Noemenswaardige toename?
Tydens die inperking, was ons kinders genoodsaak om baie meer gebruik te maak van die internet en sosiale media weens aanlyn onderrig, kommunikasie met onderwysers en natuurlik ook maats. Wat was die impak op veral ons tieners, of is hulle in elk geval gedurig besig met hulle fone en tablette? Marie Brits, ‘n leraar en self ‘n ouer, sê die volgende: “Die gebruik hiervan (toestelle) het vir seker verhoog tydens die inperkingstyd. Kinders het minder buitemuurse bydrywighede en sosiale geleenthede gehad en baie van daardie tyd is opgeneem deur sosiale media. Ouers het ter wille van hulle kinders se moraal al meer toegelaat as gewoonlik. Kinders se programme en ritmes het ook verander en selfs sosialisering het virtueel plaasgevind. En voor ons ons oë kon uitvee, het ‘verslawing’ plaasgevind.” Hierdie ‘verslawing’ is deel van ons gewoontes wat ons vorm. Marie sê ons word as’t ware ons gewoontes. “Ons kinders se gewoontes is diep beïnvloed in grendeltyd en het hulle vir seker gevorm in die tyd.”
Wat sê die navorsing?
“Te veel skermtyd is waarskynlik die grootste probleem vir die meeste ouers – kinders het meer passief geword. Dit raak ‘n verslawing en soos met verslawing kan kinders later nie meer sonder hulle selfone klaarkom nie. Selfs al is daar niks spesifieks wat hulle hoef te doen nie, is hulle daarmee besig.”
– Marie Brits
Navorsing dui daarop dat akademiese prestasie negatief deur te veel skermtyd geraak kan word. Na aanleiding van navorsing wat in 2013 in Amerika gedoen is, is aanbeveel dat kinders jonger as twee jaar nie aan digitale inhoud blootgestel moet word nie en kinders ouer as twee jaar ‘n maksimum van twee ure per dag skermtyd toegelaat kan word. Dit is nie soseer die opvoedkundige tyd wat voor die skerm deurgebring word nie, maar die nie-opvoedkundige tyd, soos televisie, internet, rekenaarspeletjies en sosiale media. Ander navorsing het bevind dat kinders jonger as twee negatief geraak word t.o.v. taalontwikkeling, leesvermoë en korttermyngeheue. Boonop kan dit bydra tot probleme met slaap en aandag.
Navorsers van die Cincinnati Kinderhospitaal het die breinontwikkeling van kinders wat etlike ure per dag voor skerms deurbring vergelyk met kinders wat die meeste van hulle tyd aan lees, speel en sosialisering bestee. Die kinders wat te veel skermtyd gehad het se breine het swak konnektiwiteit in die areas wat taalontwikkeling en kognitiewe beheer kontroleer, getoon.
‘n Ander studie het bevind dat oormatige skermtyd ‘n wanbalans in die breinchemie kan veroorsaak wat lomerigheid, depressie en angs tot gevolg kan hê. Nog ‘n navorser het ‘n sterk korrelasie gevind tussen die skermtyd van adolessente en depressie, wat tot selfdoodgedagtes kan lei.
So terloops
Hoewel ons in die artikel fokus op die ouer kind, moet ons wys op die uitwerking van te veel skermtyd op ons peuters en kleuters sodat ons dit op jong ouderdom reg kan bestuur. Jy het waarskynlik al opgelet hoe jou peuter oënskynlik in sy eie wêreld verdwyn wanneer hy/sy televisie kyk en nie reageer op jou vrae nie. Dit is maar een van die kwessies. Dink ook aan die volgende scenario’s:
- Omdat jy minder met jou kind praat, word taalontwikkeling gestuit. “’n Ouer wat gewoonlik ongeveer 940 woorde per uur met sy peuter sou praat, praat nou terwyl die kind televisie kyk slegs 770 woorde in dieselfde uur.”
- Dit kan moontlik lei tot aandagprobleme teen die tyd dat hulle sewe jaar oud is. “Dis ‘n visuele medium en vereis dikwels min verstandelike verwerking.”
- Daar is ‘n moontlikheid van sensoriese oorlading, wat kan lei tot impulsiewe en buierige gedrag.
- Moenie verbeelding en kreatiwiteit verwar nie. Die karakters stimuleer dalk die kind se verbeelding, maar dit word “op ‘n skinkbord aangebied en dus hoef die kind nie enigiets self te skep nie”.
Daarom: Praat met jou kind en lees vir jou kind. Dit dra by tot taalontwikkeling, maar bou ook jou verhouding met jou kind omdat dit die kind se selfbeeld bevorder en hom/haar belangrik en gewaardeerd laat voel.
Maar daar is darem ook positiewe gevolge:
Daar is goeie leersame programme, maar kleuters baat meer hierby. Kies daarom opvoedkundige programme en skakel die skerm af wanneer die program verby is. Nog ’n positief is dat peuters en kleuters wat na opvoedkundige programme kyk beter presteer op toetse wat skoolverwante inhoud evalueer. Dit dra ook by tot hulle vaardighede.
Tegnologie is deel van ons kinders se verwysingsraamwerk
Die gebruik van selfone en ander toestelle en natuurlik die gepaardgaande tegnologie is deel van ons kinders se verwysingsraamwerk. Dit is ook so dat dit nie noodwendig negatief is nie. Tog is daar gevare aan verbonde – soos kuberboeliery, webtuistes wat nie geskik en ouderdomstoepaslik is nie en natuurlik heeltemal te veel skermtyd wat weer tot ander probleme lei. Maar … waarna behoort ouers op te let, en wat is die gevaartekens wat dui op misbruik van sosiale media / internet – en hoe beïnvloed dit ons kinders se gedrag? Marie Brits reken dat dit die kern van die probleem is wat betref die slaggate en gevare daaraan verbonde. “Die feit dat die grendeltydperk sy eie angs en onsekerheid geskep het, het reeds ‘n bepaalde psigologiese invloed op ons kinders gehad – daarmee saam het dan byvoorbeeld kuberboeliery ‘n groot emosionele impak op kinders gehad.” Sy sê ook dat kinders nie noodwendig emosioneel gereed is vir die goed waaraan hulle blootgestel word nie en nie weet hoe om dit te hanteer nie. “Mens sien hoe baie kinders meer emosioneel tydens die isolasietydperk was en ouers het nie noodwendig verstaan wat met hulle kinders gebeur nie.”
Tegnologie is darem ook nie net ‘n euwel nie
Dit is opvoedkundig met toegang tot nuttige inligting – veral nuttig wanneer jou kind eksamenvoorbereiding of ‘n taak moet doen – of dalk leer- of siekte-uitdagings het en dus nie kan skoolgaan nie. Nog voordele:
- Dit ontwikkel kinders se politieke en sosiale bewustheid omdat hulle toegang het tot die nuus en aktuele sake.
- Toegang tot programme soos PowerPoint en Photoshop maak take visueel soveel beter.
- Sosiale netwerke bou en versterk verhoudings en vriendskappe, wat ‘n positiewe impak op interpersoonlike verhoudings kan hê – soos ‘n mens se siening van kultuur en diversiteit. Tieners tree virtueel meer empaties op.
- Blogs, kletskamers en aanlyn besprekings ontwikkel belangstellings, kritiese denke en stimuleer so kreatiwiteit.
- Videospeletjies stimuleer sekere vaardigheide, soos visie, reaksietyd en die vermoë om meer as een ding op ‘n slag te doen.
Die negatiewe kant van tegnologie
“Wanneer jou tienerprinses se bui 110% afhanklik is van die hoeveelheid likes wat sy op haar laaste Instagram-foto gekry het … of, jou twaalfjarige speletjiefanatikus toon absoluut geen reaksie nie, al het jy jouself vir die soveelste keer herhaal, weet jy dat dit tyd is om die pret te bederf.”
– Anne-Marie Reed in ‘n artikel op Maroela Media.
Tegnologie en veral die misbruik daarvan, speel ‘n groot rol in ons kinders se daaglikse welstand. Ander gebiede word afgeskeep sodat hulle meer tyd aanlyn kan bestee en fisieke, akademiese, gesins- en sosiale gesondheid word agterweë gelaat. Verder:
- Aanlyn kuier en speletjies speel maak inbreuk op slaap – kwaliteit en kwantiteit – wat weer ‘n negatiewe uitwerking op die tiener se gemoedstoestand, emosies, konsentrasie en geheue kan hê.
- Die impak op gesondheid as gevolg van ‘n onaktiewe leefstyl en oormatige aanlyn gebruik, kan gesien word in oorgewig en onfiksheid.
- Oorspronklike kreatiewe denke word afgeskeep weens afgestompte dieper breinfunksies.
- ‘n Oordrewe fokus op ander se menings, kan lei tot ‘n gebrek aan selfvertroue, ’n negatiewe selfbeeld en sosiale welstand, asook sielkundige probleme soos depressie.
- Buiten die verslawende uitwerking daavan, kan rekenaarspeletjies, veral as jou tiener dit suksesvol baasraak en gereeld “wen”, tot ‘n vals gevoel van bevoegdheid lei.
- Die ontwikkeling van digitale demensie, of ‘n toestand van sosiale diskonneksie as gevolg van oormatige gebruik van en blootstelling aan tegnologie. (Kyk kassie vir meer.)
Digitale demensie: Wat is dit?
Dit is ‘n toestand van sosiale diskonneksie as gevolg van tegnologie. Soos byvoorbeeld: Dit is wanneer ons sukkel om feite te onthou, gedisoriënteer is en ons kognitiewe vermoëns afneem. En dit kan alles toegeskryf word aan die magdom inligting tot ons beskikking waaraan ons daagliks blootgestel word.
Simptome van hierdie (eintlik onstellende) digitale demensie is onder andere vergeetagtigheid – wat waarskynlik ‘n gevolg daarvan is dat ons weens al die beskikbare inligting nie ons breine hoef in te span om goed te onthou nie – ons druk net knoppies. (Dink byvoorbeeld aan selfoonnommers. Hoeveel van ons ken ons kontakte se selfoonnommer uit ons kop uit? Bitter min, want jy druk bloot op die persoon se naam en die selfoon doen die res!)
Wat ons egter moet laat regop sit, is die feit dat digitale demensie reeds by ons jong kinders ontwikkel en dit kan hulle normale ontwikkeling kortwiek. Navorsing in die verband het ‘n korrelasie tussen ‘n toename in outisme en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS) getoon. Hoe om die toestand te besweer? Ons moet na onsself omsien en bewustelik omgaan met ons welstand. Vra jouself dus voortdurend af: Voeg die gebruik van tegnologie (en skerms) waarde toe tot my bestaan of kniehalter dit my menswees?
Hoe moet jy as ouer die situasie van sosiale media en die tegnologie benader?
“Ons moet ons kinders aan die begin vergesel, later monitor, dan mentor en uiteindelik met belangstelling en omgee af en toe inloer en gesels oor hulle doen en late op sosialemediaruimtes.” – Hugo Theron, kliniese sielkundige in ‘n onderhoud op LitNET
Dit is ‘n situasie wat met begrip, maar ook met duidelike riglyne hanteer behoort te word en ons moet as gesin saam besluit wat werk. Hieroor sê Marie Brits die volgende:
- Beperk skermtyd – neem toestelle saans na ‘n bepaalde tyd af. Laat kinders self help om skermtyd te bepaal.
- Geen skermtyd langs die etenstafel of in die slaapkamer voor slapenstyd nie. (Vir ons ouer kinders is die gebruik van ‘n Kindle wel toelaatbaar as hulle wil lees voor slapenstyd, omdat dit nie ‘n “blou skerm” is nie.)
- Kyk saam met jou kinders na die dokumentêr “Social dilemma”.
- Wees bedag op jou eie gebruik van sosiale media en onthou maar gerus: “Woorde wek, maar voorbeelde trek”.
- Moedig jou kinders aan om elke dag in die natuur te kom en te oefen (selfs net 30 minute stap is voordelig).
Hugo Theron gee die volgende wenke:
- Raak betrokke met sosiale media, leer meer daaroor en praat met jou kinders daaroor – die goeie en die slegte daarvan. M.a.w. benader sosiale media met ‘n oop gemoed.
- Stel duidelike grense t.o.v. sosialemediagebruik. “’n Goue reël is om vir jou kinders te leer dat hulle niks moet doen of skryf of stuur wat hulle nie gemaklik mee sal voel om in die ‘werklike’ wêreld (vs die wêreld van die internet) vir ‘n persoon te wys, of te sê, as daardie persoon in dieselfde kamer as hulle sou wees nie.”
- Maak seker jou kind weet watter webblaaie is aanvaarbaar en watter nie. Net so moet hulle weet watter vriende of kontakte is toelaatbaar.
- Wees bedag op boeliegedrag op die internet, die sogenaamde kuberafknouery. Dit verg onmiddellike optrede.
- Respekteer jou tiener se privaatheid, maar luister gerus na jou sesde sintuig as iets jou pla t.o.v. jou kind se sosialemediagedrag.
Hoe ons ook al hierdie sosiale dilemma van ons benader, wat belangrik is, is dat ons breine tyd weg van skerms af nodig het. Daarsonder kan die brein nie ordentlik funksioneer nie.
Dus: Raak aan die beweeg! Oefen, speel, lees!
Bronne:
Sosialemedia-gebruik en kinders: the good, the bad and the ugly
https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/wat-is-die-werklike-effek-van-te-veel-skermtyd-op-kinders-se-welstand/
https://www.netwerk24.com/huisgenoot/Nuus/tieners-en-tegnologie-hoekom-dit-eintlik-goed-is-20170528
https://www.edubloxsa.co.za/kinders-en-tv-kyk-skadelik-skadeloos/
https://www.childtherapist.co.za/afrikaans/artikelkategorie/terapieartikel54.html
https://maroelamedia.co.za/leefstyl/tegnologie/digitale-demensie-sosiale-diskonneksie-oor-tegnologie/