Persverklaring van die Taalmonument
Aangepas vir artikelplasing: Annelie van Jaarsveldt
Top-12 se unieke werke in Groen Galery en aanlyn te sien
Ter ere van Arabies-Afrikaans se bydrae tot die wording van Afrikaans, en as deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se 45ste verjaardag in 2020, het die ATM ʼn kompetisie geloods waardeur Afrikaanse tekste in Arabiese of Jawiese (Arabies soos aangepas om spesifieke Afrikaanse klanke weer te gee) skrif getranslitereer kon word. Hierdie werke word tans in die Groen Galery uitgestal.
Naas dié van die wenner, Gasan Kriel, asook die twee naaswenners, Mogamat Alexander en Tasneem Chilwan, is die inskrywings van Albrecht Beer, Faheem Rhoda Jackson, Fuad Peters, Luqmaan Mohamed, MF Gamieldien, Mogamat Armien Slamang, Naeema Fredericks, Stefan Abdoer-Ragmaan Lombard en Uzair Ben Ebrahim uit meer as 40 tekste gekies om in die Groen Galery uitgestal word waar die Romeinse en Arabiese tekste langs mekaar verskyn.
Die positiewe reaksie en talle inskrywings – van religieuse tekste, oorspronklike werke oor Afrikaans en kwessies soos ubuntu tot die lirieke van Spoegwolf en Refentse – bewys dat daar steeds ʼn groot belangstelling in Arabies-Afrikaans is. Boonop is daar inskrywings vanuit lande soos Duitsland, Oostenryk en Saoedi-Arabië ontvang, wat werklik ʼn pluimpie vir die ATM se internasionale aanlyn teenwoordigheid is.
In Desember 2020 is die top-drie nuwe Arabies-Afrikaanse werke deur die Historium Trust met R10 000 beloon vir hul uitstaande bydrae tot hierdie unieke skryftradisie. Ter ere van Versoeningsmaand en die afskaffing van slawerny is ʼn geselligheid in die Paarl gehou waar die drie skrywers pryse ontvang het en prof Hein Willemse, redakteur van ‘Die Afrikaans van die Kaapse Moslems’, ʼn kort lesing lewer het.
Die Arabies-Afrikaanse werke wat tans in die Groen Galery uitgestal word.
Die eerste geskrewe vorm van Afrikaans
Arabies-Afrikaans word algemeen aanvaar as die eerste geskrewe vorm van Afrikaans. Talle geskrifte – soos studentenotaboeke, verkiesingsplakkate, publikasies en manuskripte – het behoue gebly; tot dusver is 74 van dié werke wat tussen 1845 en 1957 geskryf is, deur kundiges ontdek en geïdentifiseer. Hieronder tel voorbeelde van die vroegste Afrikaanse literatuur, en daar word vermoed dat heelwat onopgetekende Arabies-Afrikaanse geskrifte in privaatbesit is.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van die instelling om onder meer die versweë geskiedenisse van Afrikaans te belig en die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook die taal se moderne gedaantes te vier. “Daarom moedig ons mense aan om ook op hierdie manier hul deelname aan die taal te herbevestig,” sê hy. “In die Taalmuseum in die Paarl gee ons heelwat erkenning aan Abu Bakr Effendi wat in die 1800’s ʼn groot rol in die ontwikkeling van Arabies-Afrikaans en derhalwe ook Afrikaans in die Bo-Kaap gespeel het. Ons wil graag sien dat die Afrikaanse gemeenskap hierop voortbou.”
Die beoordelaar, dr. Shamiega Chaudhari, kenner van Arabies en hoof van die Departement van Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare, sê dit was ʼn groot eer om hierdie kompetisie te kon beoordeel. “Dit het my hartsnare geroer dat mense, selfs van heinde en verre, wel daarin belangstel. Ek wil graag ook net vir almal wat ingeskryf het gelukwens. Hoewel hulle nie almal in die wennerskategorie kon wees nie, is hulle wenners in my oë. Dit was werklik baie naelskraap.”
Volgens Kriel is hy, as ‘n student van Arabies, bly om te sien dat daar erkenning vir die skryftradisie se bydrae tot Afrikaans is. “Arabies-Afrikaans is deel van ons erfenis wat bewaar moet word,” sê hy. Chilwan reken die herlewing van Arabies-Afrikaans is opwindend en baie belangrik. “Persoonlik vind ek Arabies-Afrikaans baie interessant, want dit is deel van my familie se herkoms.” Alexander sê hy het altyd Arabies-Afrikaanse tekste gelees wat geskryf was voor die bestaan van Afrikaanse spelreëls en grammatika, en voordat Afrikaans as ʼn amptelike taal aanvaar is. “Vir my is dit belangrik dat die skryftradisie behoue bly; dis deel van ons erfenis.”
Die uitstalling in die Taalmonument se tuin duur tot Mei 2021, maar kan aanlyn by www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word, waar vorige uitstallings ook beskikbaar is.
Naaswenner Tasneem Chilwan se inskrywing.
Naaswenner Mogamat Alexander se inskrywing.
’n Uittreksel uit die vertalings van die wenner, Gasan Kriel.