Persverklaring van Akademia
Aangepas vir artikelplasing: Annelie van Jaarsveldt
Aansoeke om nauurse afstandsonderrig in Afrikaans verleng tot 12:00 op 12 Maart 2021!
Weens die magdom van navrae wat ingestroom het, het die Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling Akademia aangekondig dat studente wat beoog om nauurs te studeer nou tot 12 Maart kan aansoek doen.
Daar is tans nog agt nauurse kwalifikasies oop vir aansoeke. Dit is die grade:
• Baccalaureus Legum (LLB)
• BCom (Bestuursrekeningkunde)
• BCom (Ekonomie en Regte)
• BCom (Finansiële Beplanning)
• BCom (Ondernemingsbestuur)
• BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
• Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
• Hoër Sertifikaat in Projekbestuur
Volgens Paul Vogel, operasionele hoof by Akademia, word die instelling oorweldig deur navrae vanaf so ver as Dubai, Nieu-Seeland en Nederland. “Daar is ál minder geleentheid vir studente om internasionaal en selfs nasionaal in Afrikaans te kan studeer, en die behoefte na gehalte moedertaalonderrig het toegeneem. Aansoeke is verleng om voornemende studente wat nog onseker oor hulle studiemoontlikhede is, die geleentheid te bied om nog aansoek te doen.”
Nauurse onderrigmodel verseker ononderbroke studies
“Dis ‘n voorreg om in jou moedertaal te kan studeer. Akademia is ’n baanbreker in Suid-Afrika en beslis ook wêreldwyd.”
– Sean Blignaut, ‘n finalejaarstudent in BCom (Bestuursrekeningkunde) wat klasse aanlyn vanuit Nieu-Seeland bywoon.
Covid-19 het reeds vanaf verlede jaar akademiese kalenders ontwrig en doen dit tot ʼn mate steeds. Akademia se nauurse onderrigleermodel, wat met gevorderde tegnologie geïntegreer is, verseker egter ononderbroke studies.
- Studente het ’n keuse tussen regstreekse klasbywoning aanlyn of by een van die twaalf landswye studiesentrums.
- Studente kan ook tussen die twee opsies skuif namate hulle omstandighede verander.
- Regstreekse klasaanbiedings word ook opgeneem en na die tyd beskikbaar gestel om selfs verdere akademiese ondersteuning te bied.
Akademia se onderrigleermodelle bied gehalte onderrig in Afrikaans
Studente kan kies uit twee opsies:
- Voltydse kontakmodel aangebied in Centurion. Ideaal vir skoolverlaters wat voltyds wil studeer en bedags wil klasdraf en deel van ’n aktiewe studentelewe wil wees.
- Nauurse onderrigmodel soos hierbo verduidelik.
Om aansoek te doen:
Akademia se aansoeke vind eksklusief aanlyn plaas. Vir meer inligting besoek www.akademia.ac.za, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ’n WhatsApp aan 0861 222 888.