Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Ondanks die uitdagings wat die jaar 2020 ingehou het, het Chanté Visser, eienaar van kosmos.projek nie op haar louere gerus nie. Vandag is kosmos.projek ’n aanlyn klere- en bykomstighede-winkel wat selfs produkte vir die bekende To Be Gift Boxes lewer. Afrikaans.com het met Chanté gesels om uit te vind waar die idee vir haar besigheid begin het en wat die toekoms vir hierdie projek inhou.
Afrikaans.com en kosmos.projek het ook hande geneem om een gelukkige leser die kans te gee om met ’n R500-geskenkbewys weg te stap.
Waar kom die idee vir die kosmos.projek vandaan?
Tydens daardie eerste 21 dae van die inperking het my vingers erg gejeuk… niks waarmee ek myself kon besig hou was beskou as essensieel nie (verf, lees, hekel, naaldwerk) en ek kon niks koop om myself mee besig te hou nie. Later kon mens lap koop, mits jy dit gebruik om essensiële produkte te maak, byvoorbeeld maskers.
Ek wou nog altyd my eie besigheid begin, maar dit sou eers later ’n realiteit geword het nadat ek my voete gevind het, wortel geskiet het en al die “grootmensdinge” gedoen het. Maar toe gebeur dit dat my vakansie effens lank raak, te danke aan ons huidige omstandighede, en ek sukkel om stil te sit. Dis toe dat ek maskers begin maak het en my aanlyn winkel kosmos.projek geskep het. In ’n neutedop is kosmos.projek dus ’n koronababa, en tans my day-job.
Vertel my bietjie meer oor die naam kosmos.projek?
kosmos.projek is ’n tweeledige naam. Vandat ek kan onthou, is ek versot op veldblomme, spesifiek die kosmosse wat so langs die pad blom. Hierdie blomme groei jaar na jaar daar, sonder dat iemand hulle kweek of na hulle omsien. Dis seker waar die sêding, “blom waar jy geplant is”, vandaan kom.
Vertel my bietjie meer van die verskeidenheid produkte wat die kosmos.projek bied.
kosmos.projek het begin met die maak van maskers en dit is steeds iets wat ons so af en toe vervaardig. Verder maak ons haarbykomstighede en allerlei klein sakkies – jy weet, vir al daai duisende goedjies wat ons alewig saam karwei. Dit wat die meeste aandag verg, is egter die klerereeks. Alles word deur my en my intern gedoen – die ontwerp, die patroon en die uiteindelike kledingstuk.
Ek kry ook gereeld spesiale bestellings – alles van kousbande, bruidsmeisierokke, tennisrompies en kimono’s. Elke projek is vir my ’n kunswerk en ek geniet dit om ander se idees lewe te gee!




Wat is jou gunstelingproduk?
Om ’n gunstelingproduk te kies, sal wees soos ’n ma wat ’n gunstelingkind kies. Ek kan wel sê dat my gunstelingdeel is om die voltooide produk te sien.
Jou sakkies kan ook nou as deel van Leandie du Randt se geskenkbokse gekies word… vertel my meer van hierdie samewerking.
Ek sukkel self nog om tot verhaal te kom oor hierdie fantastiese geleentheid. Ek was met vakansie toe ek op Instagram ’n boodskap kry dat To Be Gift Boxes belangstel in my produkte. Ek onthou ek het hardop begin giggel en sommer om die bank gehardloop van opwinding. 2021 het toe sommer op ’n hoogtepunt begin en ek het opnuut inspirasie gekry vir die jaar.
Waarom dink jy is dit in hierdie tyd so belangrik om kleiner besighede te ondersteun?
Soveel mense is hulle werk kwyt. Dit is hartverskeurend maar ongelukkig vandag se realitiet. Van ons het ons nuutgevonde vryheid gebruik om ’n ou ietsie te doen om die spreekwoordelike brood op die tafel te sit. Met goeie en volgehoue ondersteuning kan die eenmansaak dalk net bekostig om nog ’n werknemer aan te stel… so help ons nie net die besigheidseienaar nie, maar die gemeenskap as ’n geheel om in een stuk aan die ander kant van hierdie pandemie uit te kom.
Wat hou die toekoms vir kosmos.projek in?
My hoop vir kosmos.projek se toekoms is dat dit sal groei en ontwikkel soos wat ek doen en dat daar altyd ’n plekkie daarvoor in my lewe sal wees. Ek sal nie kla as kosmos.projek uit haar nate bars en ek ’n voltydse werknemer moet aanstel nie. Die droom is dat kosmos.projek ’n volhoubare besigheid moet word, met ’n regte egte winkel en werkswinkel (dan kan my ma haar spaarkamer weer terugkry!).
Volg kosmos.projek op Instagram by kosmos.projek of op Facebook by @kosmos.projek.


JY KAN WEN!
Afrikaans.com bied een gelukkige persoon die kans om weg te stap met ’n R500-Kosmosgeskenkbewys. Hoe skryf jy in? Tik die woord “Kosmos” in die kommentaarafdeling van hierdie plasing op ons Facebookblad en staan die kans om die gelukkige wenner van ’n R500-Kosmosgeskenkbewys te wees.