Skrywer: Lara Erasmus
Dit is geen geheim dat Covid-19 ’n oorweldigende effek gehad het nie … op persoonlike vlak het dit ’n mens ontneem van talle ervaringe, planne, en moontlikhede. Op professionele vlak, in alle industrieë, het duisende mense hul werke verloor en is die wêreldekonomie vir altyd verander. Een van die professies wat swaar getref is, is natuurlik die kunste. Deure is gesluit, gehore is beperk, en vir talle het dit soos die einde gelyk.
Maar, met die afsluiting van ’n hoofstuk, begin die skryf van ’n nuwe een.
Woensdag, 3 Maart 2021. So week of wat vantevore stuur Afriforum vir ons ’n kriptiese uitnodiging na ’n ongenoemde bekendstelling. Slegs die adres en tyd word gegee. Vanoggend, op aankoms, is die voormalige Brooklyn Teater in ’n nuwe baadjie geklee en sal dit voortaan bekend staan as die Afriforum Teater. ’n Teater wat daagliks sal strewe om ’n saamkomplek te wees en te word vir Afrikaanse kuns in alle vorme en op alle vlakke.


‘’Die beste manier om agteruitgang te beveg, is om te bou aan vooruitgang. Hierdie teater is ’n testament daarvan.’’
– Kallie Kriel, Uitvoerende Hoof, Afriforum.
Carien Bloem, bestuurder van die teater, verduidelik dat hul prioriteit ewekansig die publiek sowel as die kunstenaar is. ‘’Ons is opgestel om ’n teaterervaring weer werklik toeganklik te maak tot liefhebbers van die kunste, terselfdertyd hou ons ook die kunstenaars in gedagte en wil ons graag bydra tot hul brood en botter,’’ sê sy. Rakende die besigheidsmodel, word daar verder verduidelik dat die sukses en volhouding van die teater daarin lê dat die spasie nie beperk word tot slegs dit wat op ‘n verhoog kan gebeur nie. Die voorportaal huisves byvoorbeeld die Prag & Pronk Kunskraal, ’n galeryspasie met ’n verskeidenheid uitstallingsmoontlikhede vir beeldhou- en skilderwerk. Nog ’n paar tree verder is Pronk-kafee, ’n restaurant wat daagliks tussen 08:00 en 18:00 oop is. Daar is ook reeds byvoorbeeld ’n muskiekskool, met ander opwindende moontlikhede soos ’n dramaskool, in die pyplyn. Die uitleg van die teater laat verder toe vir korporatiewe geleenthede, skoolfunksies, en vele meer.
Namate die formaliteite afgehandel is, is die gehoor verras en bederf met ’n eenmanvertoning deur die legendariese Frank Opperman. Die eerste amptelike produksie by die teater word egter komende naweek (6 en 7 Maart) op die planke gebring met die gewilde vertoning Die storie van Afrikaanse musiek deur Pieter Smit en Nagliedjies deur die komponis-pianis Franco Prinsloo. Kaartjies is nou op www.afriforumteater.co.za beskikbaar. Streng navolging van die Covid-19-maatreëls word toegepas.