Nou kyk, as daar iets is waarvoor Afrikaanssprekendes nie ‘n uitnodiging nodig het nie, is dit om fees te vier en gesellig te wees. Dit is dan ook hoekom Nasionale Melktertdag wat jaarliks op 27 Februarie gevier word, reeds vir ‘n klompie jare lank gewildheid geniet. Hetsy dit nou saam met ‘n koppie tee en ‘n beste vriendin is, by die jaarlikse kerkbasaar, of sommer net vir sommer … melktert is altyd ‘n goeie idee.
Waar presies dié dag sy oorsprong gekry het, en wie presies verantwoordelik was vir die blink idee, is onduidelik. Wat wel seker is, is die eenvoud en pret om daaraan deel te neem – koop, bak, of bestel ‘n melktert en vier saam aan die lekker van ons taal!
Melktert.
(maak 36 kolwyntjiegrootte melktertjies of 2 groot melkterte)
Bestanddele:
Soet broskors:
- 125 ml suiker
- 500 ml meel, gesif
- 5 ml bakpoeier
- 1 eier, liggies geklits
- 1 ml sout
- 125 g botter
Melktertvulsel:
- 1liter melk
- 45 ml botter / margarine
- 3 eiers
- 100 ml suiker
- 25 ml mielieblom
- 45 ml vlapoeier
- 45 ml meel
- 5 ml vanielje
- kaneel om te besprinkel

Metode:
Soet broskors:
Klits suiker en botter bymekaar tot mengsel romerig en lig is.
Voeg dan eier by, en roer al die droë bestanddele by.
Plaas die mengsel in ‘n plastiekhouer en seël. Plaas in yskas vir ongeveer 20 minute om die deeg te verkoel. Dit voorkom dat die deeg inkrimp.
Rol verkoelde deeg uit en voer 36 kolwyntjiepanholtes of 2 tertborde daarmee uit.
Prik bodems met ‘n vurk en bak blind by 200° C vir 10-20 minute.
Hoe om blind te bak: Plaas opgefrommelde waspapier bo-op die deegdoppe en vul met droë bone. Bak vir 10 minute, haal papier en bone uit, bak vir ’n verdere 5-10 minute totdat deegkorse goudbruin is. Hierdie metode verseker dat die deeg sy vorm behou.
Vulsel:
Voeg melk en botter in ‘n pot. Bring die mengsel tot by kookpunt en verwyder van hitte. Voeg eiers, mielieblom, suiker, vlapoeier, meel en vanielje bymekaar en klits goed.
Gooi ‘n bietjie van die warm melkmengsel by die eier-en-meelmengsel en meng goed.
Voeg dan die mengsel by die warm melk en klits goed.
Plaas oor matige hitte en kook stadig tot mengsel verdik. Roer aanhoudend.
Giet melktertvulsel in gebakte tertdoppe, strooi kaneel oor, en geniet!