Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers, se splinternuwe Tesourus van Afrikaans, is sedert Januarie 2021 op die rakke… en nou kry jy die kans om dalk een te wen! Hierdie woordeboek word beskou as die enigste volwaardige tesourus in die Afrikaanse taal en is vir die eerste keer sedert 1994 deur Leon en Amanda de Stadler bygewerk. Hierdie hersiene uitgawe van die Tesourus van Afrikaans gee ’n uitstekende beeld van die verskeidenheid en kompleksiteit van die Afrikaanse woordeskat en die fyn net van betekenisse wat binne die woordeskat geweef word.
Hierdie nuwe uitgawe bevat meer as 140 000 inskrywings in 855 betekenisvelde waarvan 20 000 nuwe inskrywings is. Van hierdie nuwe inskrywings sluit in slengwoorde, variëïteitswoorde en woorde wat te make het met ontwikkeling in die samelewing of op tegnologiese gebied.
Ontwikkelinge of gebeurtenisse in die leefwêreld van Afrikaanssprekendes speel ’n beduidende rol in die ontwikkeling van ’n nuwe woordeskat. Volgens Leon en Amanda vernuwe taal omdat die wêreld vernuwe. Hulle meen taalgebruikers wil praat oor hierdie vernuwende wêreld, hulle wil dit kan beskryf, bespreek en beargumenteer. Om hierdie rede speel taalgebruikers dus ’n sentrale rol in die skep van nuwe woorde – ’n rol waaraan hulle graag deur hierdie tesourus erkenning gee.
“In die periode van ruim 25 jaar wat betrekking het op die hersiening van die tesourus is daar talle waarvan ons hier maar enkeles noem. Seker die opvallendste een is die ontwikkeling op die gebied van elektroniese inligting en alternatiewe media, soos die wêreldwye web en sosiale media. Dit het besonder baie ‘nuwelinge’ vir die taalskatkis opgelewer. Dink maar aan internetvoorbeelde soos webwerfargitektuur, webjoernaal, podsending, potgooi, toep, kletsdiens, webinaar, en nog talle ander, of ons pandemie-nuwelinge soos ko-morbiditeit, druppelbesmetting, kontakopsporing, kudde-immuniteit, ens.
Die taal bly natuurlik van dag tot dag groei, en daarom is ‘n spiksplinternuwe woordeboek soos die Tesourus al klaar weer agter, want sedert die datum toe die boek drukker toe is, het nog nuwe pandemie-woorde byvoorbeeld hulle verskyning gemaak, woorde soos bioborrel, druppeloordraagbaar, superverspreider, afstandskepping, voetgroet, elmboogkug, en superverspreidergeleentheid.”
Volgens Leon en Amanda word konsepte en woordeskat in die menslike brein nie alfabeties gerangskik nie. Tog het die meeste woordeboeke waarmee mens te doene kry, ’n alfabetiese rangskikking. Sodoende vergemaklik dit die proses om woorde en leksikale items se verklaring in verklarende woordeboeke op te soek.
“Maar eintlik is ons woordeskat konseptueel gerangskik, d.w.s. woorde wat betrekking het op dieselfde konsep staan bymekaar, en dit is ook meer waarskynlik dat dit is hoe die woordeskat in ons breine georganiseer is,” meen Leon en Amanda. “Tesourusse soos die Tesourus van Afrikaans probeer hierdie idee ondervang, d.w.s. hulle organiseer woorde (en ander leksikale items soos idiome) in sg. konseptuele ‘woordfamilies’.
“Met so ‘n organisasie word die woordeskat dus op ‘n totaal ander manier ontsluit as in ander woordeboektipes, dit belig die rykdom en genuanseerdheid van die woordeskat op ‘n manier wat vir ons laat sien op hoeveel verskillende maniere ‘n konsep, ‘n idee, ‘n saak, ens. verwoord kan word.”
Leon en Amanda beskryf dit as ’n “waardevolle instrument wat mens help om die regte woord te vind vir dit wat jy wil uitdruk”.
“Dit is ‘n noodsaaklike instrument vir mense wat kreatief met hulle skryfwerk wil omgaan, wat net daardie tikkie beter wil kommunikeer, wat wil wegkom van ou, geykte segswyses.”
Beide Leon en Amanda se hoop is dat dié tesourus as ’n besondere woordeboektipe waarde sal toevoeg tot die versameling van Afrikaanse woordeboeke en dat dit ’n erkenning sal wees van die lewenskragtigheid van Afrikaans en die Afrikaanse taalgemeenskap. “Dit is in die hande van hierdie taalgemeenskap dat die taal die fenomenale groei getoon het wat ons kon sien met die herbewerking,” sê hulle. “[Ons hoop is] dat dit op ’n besondere manier wys Afrikaans is ’n lewende en veral lewenskragtige taal met ’n steeds groeiende diversiteit van taalkosbaarhede wat dui op die besondere toekoms wat die taal het.”
Verder is hul hoop dat die tesourus vir al die taalgebruikers wat moet skryf, hetsy op skool of universiteit, in die wêreld van kreatiewe skryfwerk of in die werkplek, ’n noodsaaklike hulpmiddel sal wees om daardie nommerpas woord te vind vir die besondere konteks waarin hulle skryf.
Die samestelling van die Tesourus van Afrikaans is ’n projek wat vir beide Leon en Amanda jare geneem het. Hulle beskryf hul gevoel toe hulle die tesourus vir die eerste keer kon vashou, as een van angs.
“Ons wou nie eers die boek optel nie. Ons was letterlik te bang om die boek oop te maak uit vrees dat ons die eerste foute sou ontdek. Maar uiteindelik was dit tog lekker om die boek in die hand te hou. Pharos het ons regtig verras met die mooi ontwerp, iets waarmee ons niks te doene gehad het nie – die boek het regtig vir ons nuut en vars gevoel. Uiteindelik was daar ook ‘n gevoel van dankbaarheid en nederigheid dat ‘n mens die geleentheid gegun word om weer die grootsheid van die Afrikaanse taalskatkis te beleef en daarmee te werk,” sê hulle.
Wie is Leon en Amanda de Stadler?
Leon de Stadler is emeritus hoogleraar en voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum en bestuur tans ’n konsultasie-onderneming wat spesialiseer in dokumentontwerp.
Amanda de Stadler is die voormalige uitvoerende hoof van Vriende van Afrikaans en ’n kinderboekskrywer. Beide is betrokke by ’n verskeidenheid woordeboekprojekte.