Skrywers: Annelie van Jaarsveldt, Tertia de Klerk (M. Soc.Sc – kliniese sielkunde) en Christien Neser (spraakterapeut)
Vir die volle artikel, laai die pdf-boekie onderaan die artikel af.
In ons gejaagde lewe, is angstigheid by kinders nie ongewoon nie en kan hulle op verskillende ouderdomme oor verskillende dinge angstig voel. Baie van hierdie bekommernisse is daarom te wagte en deel van die grootwordproses. Maar, wat maak ‘n mens as jou kind se angstigheid sy lewe en geestesgesondheid negatief beïnvloed? Wat is van die vernaamste oorsake wat oormatige angs by kinders aanwakker? Waarna moet jy oplet? Hoe moet jy dit hanteer? Afrikaans.com het meer gaan uitvind en onder andere met Tertia de Klerk, ‘n kliniese sielkundige van Johannesburg en die spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, oor die kwessie gesels. Ons deel hul antwoorde hier.
Wat is van die vernaamste oorsake wat oormatige angs by kinders aanwakker?
Volgens Tertia dra die tye waarin ons leef daartoe by dat kinders se basislyn-angs reeds hoog is. Die strewe na prestasie, ons misdaadsituasie en blootstelling op sosiale media maak deel hiervan uit en dit is ‘n feit dat ons kinders beslis aan meer druk as vroeër blootgestel word. Binne hierdie raamwerk is van die vernaamste oorsake van angs die volgende:
- Verhoudings: Die gebrek aan maats, blootstelling aan boeliegedrag, spanning in huislike omstandighede en gebrekkige vaardighede om verhoudings op sosiale media te hanteer is maar ‘n paar van die oorsake.
- Verandering en onsekerheid oor verandering: Vir die ouer kind kan dit die begin van hoërskool wees, vir die jonger kind kan dit die wissel van klasse wees of die skuif na ‘n ander kamer. Dit is veral tydens die covid-19-pandemie baie relevant, waar ons kinders aan geweldig baie verandering en onsekerheid blootgestel is.
- Te druk program en te min tyd vir vrye tyd, bekommernis oor prestasie en die gevoel van onbekwaamheid.
- Oorbetrokkenheid en oorbeskerming deur ouers of gebrekkige ouerteenwoordigheid en afwesigheid van ouers is dikwels ’n oorsaak van angs.
- Enige vorm van trauma: Onthou vir die jonger kind kan selfs die dood van ‘n troeteldier trauma veroorsaak. Weereens veroorsaak iets soos die pandemie ook trauma of verlies, hetsy deur dood, of afsondering en die gebrek aan sosiale interaksie.
- Bestaande diagnoses: Aandaggebrek- en hiperaktiwiteitsindroom (AGHS), leerprobleme, sensoriese integrasieprobleme, diabetes, ens.
Wat is die belangrike tekens om na op te let?
- Kinders wat gedurig kla oor moegheid en lusteloos voorkom.
- Slaapsteurnisse: As kinders sukkel om aan die slaap te raak, gereeld wakker word deur die nag en moeg opstaan vir ‘n aaneenlopende periode of nagmerries kry.
- Regressie in hul gedrag – die ouer kind tree skielik soos ‘n jonger kind op.
- Soek aandag.
- Is opstandig en gooi meer vloermoere as gewoonlik, met gedurige konflik tussen die ouer en kind.
- Wil nie alleen speel nie en raak oormatig klouerig of klaerig.
- Geïrriteerdheid en huilerigheid en emosionele uitbarstings.
- Probleme met konsentrasie en vergeetagtigheid.
- Allerande fisiese klagtes soos hoofpyn, spierpyn en veral maagpyn.
- Skielike onsekerheid oor take wat lankal bemeester is en oordrewe vrees vir verleentheid.
- Vermyding van sosiale situasies en onttrekking van aktiwiteite wat voorheen geniet is.
- Maak jou moeg met al die “Wat as… “-vrae. Wat as ek die toets dop? Wat as ma my vergeet by die skool, wat as daar oorstroming kom…
- Te veel eet of geen eetlus, oormatige naels kou of hare uittrek.
’n Paar nuttige wenke vir ons ouers oor hoe om hierdie angstigheid te besweer.
Dit is belangrik om ‘n gunstige omgewing vir jou kind te skep; waarin hulle kan floreer. Daarom is dit belangrik dat jou kind op jou moet kan reken. Let op die volgende:
- Genoeg slaap is ‘n moet, maar slaaptyd moet ouderdomstoepaslik wees.
- Goeie roetine wat ouderdomstoepaslik is, is Roetine bring ‘n voorspelbaarheid wat kinders baie veilig laat voel.
- Skep gesinsrituele. Dit is rituele met ‘n groot pretelement, bv. Vrydagaande kan pizza/bordspeletjie-aande word, Saterdagoggendontbyt iewers, ens. Rituele gee kinders iets om na uit te sien en versterk die gesin se band en kommunikasie.
- ‘n Ritueel met ‘n individuele kind, soos dat jy en jou tiener na ‘n paar video’s kyk op Vrydae as sy van die skool af kom, of julle naels laat doen, storie lees vir kleiner kinders met slaaptyd, gee hulle tyd met jou as ouer. Dit laat hulle gevoel van selfwaarde styg en gee hulle kans om dinge waaroor hulle wil praat, na die oppervlakte te bring.
- Moenie die konstante “wat is fout” holrug ry nie. Wees beskrywend in jou kommunikasie: “Ek kan sien jy het baie werk, ek sien al die kommunikasie van die skool, hou jy kop bo water? Kan ek help met iets?” is beter opsies.
- Genoeg vrye tyd kan nie genoeg onderstreep word nie. Gee tyd in julle roetine waar die kind tyd het om self sy eie aktiwiteit te kies al is dit niks doen of televisie kyk. Gee jou kind vryheid van keuse.
- Jou kind is die ekspert op homself al is hulle ook soms nog klein. Hulle het natuurlike stresontladingsmeganismes wat nie noodwendig binne ons raamwerk pas nie. Neem waar waarvan hulle hou en nie hou nie. Gee hom geleentheid om dit te doen binne die struktuur van die gesin.
- Skep grense. Dit klink dalk nou teenstrydig met die vorige twee punte, maar kinders moet grense hê. Hulle moet duidelik weet wat van hulle verwag word en wat die gevolge gaan wees indien dit nie gebeur nie. Dit gee hulle gemoedsrus as hulle weet wat verwag word.
- Tree toe tot jou kind se leefwêreld. So bly jy in voeling met hulle angsvlakke en kan vroegtydig ingryp.
Hoe benader ’n mens die situasie as jy bepaal het dat dit wel angs is en terapie vereis?
En watter soort terapie word aanbeveel en wie moet jy nader?
Wat is die impak van jou stres op jou kind?
Hoe hanteer jy jou kind se angs t.o.v. die covid-19-pandemie?
Lees gerus verder. Klik hier.
Vir meer inligting en raad oor ANGS by kinders, lees gerus hoofstuk 15 van Help! My kind is anders. Christien Neser. LAPA. 2020.
’n Oulike boekie wat gratis as e-boek afgelaai kan word, is Koronavirus – ’n boek vir kinders, vertaal deur Jaco Jacobs vir LAPA Uitgewers. Klik hier.
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsvereniging (SADAG). Klik hier.
Lees ook:
Interessante angs- en covid-19-verwante artikels deur Megan Clerk, opvoedkundige sielkundige. Klik hier.
My angstige kind – ‘n Artikel uit Keur, 2012 – met insette deur spelterapeut, Wietske Boon. Klik hier.
Gozen-angsverligtingsprogram: Klik hier.
Moets en moenies as jou kind angstig is. Klik hier.