WEN met NB-Uitgewers en Boervrou Deli

Tuis 5 Lees dit 5 Boeke 5 WEN met NB-Uitgewers en Boervrou Deli

Februarie is die maand van liefde! Daarom het Afrikaans.com met NB-Uitgewers saamgespan om vir jou ons lys van toptienboeke, wat ’n gesonde tikkie romanse bevat, te bring. Valentynsmaand is sinoniem met soetgoed. Ons het hande gevat met Boervrou Deli deur ’n lekkerny wat by elke boek pas, uit die Boervrou Deli-kombuis te kies. Boervrou Deli was die wenner van die 2019-Tinteltong-toekenning vir die lekkerste kos.

WEN Deon Meyer se nuutste roman Donkerdrif en ’n Boervrou Deli-geskenkbewys ter waarde van R400 deur die woord “Liefde” in die kommentaarafdeling op Facebook te plaas.

Die kompetisie sluit 26 Februarie 2021.

1. Donkerdrif deur Deon Meyer
Afrikaanse Boeke

ISBN: 9780798181662
Uitgewer: Human & Rousseau

’n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ’n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.

Koekies Hertzoggies – Nes Deon Meyer, is die heerlike klapper-en-konfyt lekkerny, hertzoggies, ’n ou gunsteling in Afrikaanse huishoudings.
2. Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten
NB Boeke

ISBN: 9780798181167
Uitgewer: Human & Rousseau

Ella Neser is terug van haar Karibiese skeepsvaart, en soort van terug in Lou se arms. Haar nuwe opdrag, as private speurder, is ‘n bisarre een. Donna Maas, eggenoot van die sielkundige Thomas Maas, is oortuig haar man het ‘n skelmpie. En dit is Ella se taak om dit te bewys.

Die roman begin by die einde, waar Ella haar verslag tik. Daar is ‘n moord gepleeg, maar wie is die slagoffer en wie die skurk? ‘n Verbysterende roman deur een van die top- spanningsromanskrywers in Afrikaans.

Koekies Gemmerkoekies – Boervrou Deli se gemmerkoekies sal jou diep in die versoeking lei.
3. Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg
NB Boeke

ISBN: 9780795802324
Uitgewer: Queillerie

Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ’n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ’n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.

Koekies Skurwejantjies – Daar is net een manier om met ’n Skurwe Jan soos Grond Graaffwater af te reken, en dit is met hierdie ou gunstelingkoekie en ’n lekker koppie koffie!
4. Merk deur Rudie van Rensburg
NB Boeke

ISBN: 9780795802140
Uitgewer: Queillerie

Kassie het geglo sy speurderdae is getel ná die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ’n speurder in murg en been.Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ’n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ’n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “’n weerwolf met die sperm van ’n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?

Koekies Sjokoladesplinterkoekies – Hierdie Boervrou Deli-gunsteling sal beslis ’n merk (op jou heupe) maak.
5. Man uit die dode – ‘n Ella Neser-roman deur Chris Karsten
NB Boeke

ISBN: 9780798181631
Uitgewer: Human & Rousseau

Danksy die virus is Ella terug van haar seevaart rondom die Karibiese Eilande, nou sonder werk en platsak. Lou oorreed haar om ’n ondersoek te loods na drie vermiste jong mans op Osspruit, in Mpumalanga. Die drie het oënskynlik besluit om weg te loop . . . Dis net die eksentrieke gastehuis-eienaar Cornelissen wat meer sinistêre gebeure vermoed. Hoe dieper Ella begin krap, hoe meer besef sy daar ís ’n gewetenlose brein wat agteraf konkel.

Koekies Koffiekoekies – Vir hierdie boek gaan jy beslis ’n koffietjie nader moet trek en jouself vir ’n paar dae afsonder.
6. Middernag deur Sidney Gilroy
NB Boeke

ISBN: 9780798180542
Uitgewer: Human & Rousseau

Die oorskot van ’n verminkte vierjarige word in die vroeë oggendure in ’n Frutti Tutti-roomyskarretjie in Harrismith ontdek. Kaptein Brummels besluit oornag om Parkwegstasie se bulhond, Sollie Mtembu, saam te sleep om ’n oudkollega van hom met die ondersoek te help. Sollie lyk dalk na ’n onervare sersant wat dikwels oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie.

Koekies Romany Creams – Hierdie boek sal jou tot middernag wakker hou… en wat beter om jou geselskap te hou as ‘n paar Romany Cream-koekies?
7. Toorbos deur Dalene Matthee
NB Boeke

ISBN: 9780624043669
Uitgewer: Tafelberg

Karoliena Kapp is ’n alleenkind. Haar pa is vroeg-vroeg deur ’n weerligstraal doodgeslaan en sy het die bos aanvaar as haar oermoeder. Nog voordat sy twintig is, trou sy met Johannes en moet sy haar plek as dorpsvrou volstaan. Maar Karoliena gebruik die eerste kans om weg te loop. Die dag ná die troue weet sy: Sy het verkeerd gekies. Sy het van die bos af weggevlug en haar vryheid verruil vir ’n kou. Nou is sy bang, en sy vat die pad terug.

Koekies Soetkoekies – Daar is niks soos ’n outydse soetkoekie om jou te betower nie.
8. Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith
NB Boeke

ISBN: 9780624089988
Uitgewer: Tafelberg

Op die oog af is dié roman ’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman. Want ’n bosluisbyt aan die polisieman, Frans Schuin, lei onverwags tot ’n tydperk van verwarring by die plattelandse dokter Gustav van Aardt. Die leser sien deur Van Aardt se oë. Is dit drogbeelde of werklike visuele waarnemings? En gaan hy mettertyd vrede maak met sy plek op die aarde?

Koekies

Vlakoekies – Anders as die titel van die boek, is hierdie koekie die “grootste sukses denkbaar”.

9. Bruidzilla deur Marion Erskine
NB Boeke

ISBN: 9780795802294
Uitgewer: Queillerie

Tillie se beste vriendin, Milanka, ís high maintenance, maar so ken Tillie haar, en Milanks het al vir haar báie beteken. Haar eksie-perfeksie, #blessed vriendin. Maar sy’t nie verwag Milanka sal aandring sy wat Tillie is, moet sorg dat Milanka en Jacques se troue gereël kom nie … Soos wat Milanka ál meer op Bruidzilla begin trek, kom Tillie agter iets is nie pluis nie. Wat skuil agter Milanka se monster-mondering?

Koekies Brosbrood – Soos gesien kan word in Bruidzilla, is verhoudings ook soms net so broos soos Boervrou Deli-brosbrood.
10. Skepsel deur Willem Anker

ISBN: 9780795802171
Uitgewer: Queillerie

Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa in ’n tegnologies gevorderde slimhuis, ’n huis wat praat in ’n halfbekende stem. Op die horison, ’n olietenkskip. ’n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak kuns oor die wittebroodsreis. En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ’n navorser se minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige spierwit items te ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.

Koekies Gemengde koekies – Met ietsie van alles, is hierdie SKEPPING, nes Willem Anker se boek, iets wat jy nie wil mis nie.

by | Feb 17, 2021 | Boeke, Lees dit

Deel hierdie plasing