Skrywer: René Arendse
“Wanneer jy deur Valsbaai Primêr se hekke stap, ervaar jy onmiddellik ‘n energie van passie, hoop en ‘n gevoel van tuis wees. ’n Energie wat nou aangevul word deur die kleurvolle Afrikaans.com-muurkuns wat die boodskap van inspirasie nog verder versterk. Hier is dit duidelik dat hierdie gemeenskap ondanks hulle omstandighede uitstyg … deur hulle moedertaal Afrikaans.” – René Arendse, Gemeenskapskoördineerder van Afrikaans.com
Hierdie dag, 20 Oktober 2020, sal nog baie lank in die geheue van die leerders, onderwysers en die gemeenskap van Macassar bly. Die Afrikaans.com-muuronthullingsprogram was ’n platform vir die leerders wat vertel het oor hulle drome. Valsbaai Primêr se eie digter, juffrou Carol Overberg, haar koor en ook ons gaskunstenaar, Frazer Barry, het verder bygedra tot die sukses van die dag. Die musikant, Frazer Barry, het nie net die gehoor betower met sy musiek nie, maar ook met sy lewensverhaal. Hy vertel van die seun wat sonder ouers moes grootword, op die straat beland het en deur goeie keuses te maak uiteindelik bo sy omstandighede kon uitstyg. Deur sy drome te volg en hard daaraan te werk, kon hy die hoogste sport bereik. Vandag vermaak en vertel hy sy storie deur sy kuns op nasionale en internasionale verhoë en is hy self ook vandag ‘n trotse pa en familieman.
Die skool word gelei deur die dinamiese skoolhoof, mnr. Engelbrecht, wat sonder versuim vertel dat sy voorliefde vir Afrikaans nog sterk deur sy are vloei. Afrikaans is die taal waarin hy grootgeword het, sy emosies ervaar en homself die lekkerste kan uitdruk. Dat skole moet aanpas om ook Engels Eerste taal in te faseer is ‘n realiteit, maar mnr. Engelbrecht is dit eens dat moedertaalonderrig vir alle kinders die grootste voordeel inhou. “Afrikaans staan nog baie sterk by ons skool. Met ons sterk Afrikaans-departement en -onderwysers geniet selfs die tweedetaalsprekers die taal terdeë,” vertel hy trots.
Mnr. Desmond Engelbrecht, prinsipaal by Valsbaai Primêr staan trots voor hulle muurkuns.
Die graad 3A4-klas sing ‘n liedjie getiteld – Ons mooiste land. O.l.v. juffrou Carol Overberg.
Die leerders van Valsbaai Primêr geniet die onthullingsprogram.
Frazer Barry deel sy inspirasie en drome deur sy musiek.
René Arendse vertel die leerders meer oor Afrikaans.com
Juffrou Carol Overberg dra haar eie gedig voor – My erfenis.
Van links – Frazer Barry, Mnr. Desmond Engelbrecht en René Arendse.
Die leerders van Valsbaai Primêr geniet die musiekitems van Frazer Barry.
Valsbaai Primêr spog met ‘n muur van inspirasie.
My Erfenis
My geloof , taal en kultuur –
Dis kosbare edelstene van my erfenis.
Die meetsnoere het op goeie plekke geval.
Ek is trots Afrikaans .
Is lief vir my taal.
Ek leef, droom en staan op in my taal.
My hele skoolloopbaan het ek in Afrikaans gedoen.
My honneursgraad in kurrikulumstudie het ek in Afrikaans voltooi.
My moedertaal, Afrikaans,
My trots,
Ek salueer jou.
Ek vier my taal Afrikaans.
Hoera! Vir ewig leef jy voort.
– geskryf deur Carol Overberg