Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Die Klasgids bied vir onderwysers die kans om te groei, te leer en ook om te rus! Ons wil elke onderwyser in die klas help deur materiaal te gee wat hulle kan gebruik – veral vir daardie tye wanneer jy net nie meer kan nie en met stapels nasienwerk sit!”
– Kathie Viljoen, Skolespan, Lapa-Uitgewers
Lapa se Klasgids-reeks wat tot dusver slegs in drukvorm te koop was, is nou aanlyn beskikbaar. Afrikaans.com het met Kathie Viljoen van Lapa se skolespan gesels oor die besluit.
Kathie vertel dat hulle met hul April 2020-uitgawe, wat in die middel van die grendeltyd was, besluit het om die Klasgids elektronies uit te gee, want op daardie stadium was alles toe: hulle kantoor, die drukkers en die poskantoor. “Die reaksie van die intekenare was geweldig positief en ons het toe besluit om vanaf 2021 aanlyn te gaan. Dit skakel dan die wisselvalligheid van die posdienste uit en ons kan onmiddellik in die klaskamer wees. En met dié dat ons nie van posdienste afhanklik is nie, kan ons meer gereeld ook iets uitgee.” Dit is dan ook hoekom hulle besluit het om elke maand ‘n uitgawe saam te stel, “sodat ons meer spesifiek kan fokus op wat die behoefte van die onderwysers is.” Daar sal egter nie in Junie en November ‘n uitgawe wees nie, omdat skole dan met eksamens besig is.
Wat is die Klasgids?
“Die Klasgids is ‘n unieke gids vir onderwysers deur onderwysers. Van regoor die land stuur onderwysers materiaal vir die gidse: toetse, vraestelle, mondeling- en skryfopdragte, notas oor gedigte en letterkunde, ens. Huistaal en eerste addisionele taal. Ek werk deur die materiaal en stel dan die gidse saam. Daar is ook vakadviseurs, dosente en oudonderwysers wat gereeld iets stuur en soms sal ek vir mense vra om iets te skryf.
“Dit is die beste plek waar jy kan sien wat ander onderwysers dink en doen. Jy kry idees vir ‘n taak/toets of jy kry bevestiging dat wat jy doen, reg is. Jy word aangespoor om dalk meer kreatief te wees of sien wat ‘n mens nóg met ‘n teks kan doen of hoe om ‘n vraag op ‘n ander manier te stel. Jy kan hier leer deur na ander grade se take/toetse/vraestelle te kyk.”
Wie is betrokke by die skolespan?
“Ons is vyf in die skolespan (Klaskameraad) en ons werk met skole en biblioteke regoor die land. Marieta Nel staan aan die hoof van die span (nasionale verkoopsbestuurder). Ek en Hannes Barnard werk elk met vyf provinsies, agente en skoleboekhandelaars. Nadine Petrick en Ena Stegman is ons digitale span wat alles agter die aanlyn skerms laat mooi lyk en laat werk. Die onderwys het op een of ander manier al vyf van ons se pad gekruis. Beide ek en Marieta was Afrikaansonderwysers, Ena se ma is ‘n onderwyser, Hannes se vrou is onderhoof en Nadine het lank as bemarker vir twee topskole gewerk. “
Die verskillende pakkette
Daar is twee pakkette vir die hoërskool en laerskool: Silwer en Goud.
- Die silwer-pakket (HS & LS): ‘n Basiese pakket met ‘n artikel vir elke fase.
- Die goue pakket (HS & LS): Hier word die silwer-pakket se artikels uitgebrei, met bykomende artikels, soos ‘n luistertoets, visuele teks, aanbieding oor ‘n taalaspek, ‘n webinaar en ‘n 5-minute lange wenke-video wat deur ‘n vakadviseur aangebied word.
Wat wel verskil, is dat daar by die goue hoërskoolpakket ook ‘n skryfmodule en artikels vir die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) ingesluit word.
Kry so toegang tot die Klasgids:
Gaan kyk op klaskameraad.co.za onder die afdeling Aanlyn Klasgids. Daar klik jy op die pakket van jou keuse, voltooi die inskrywing en doen jou betaling. Sodra jou betaling aanvaar is, ontvang jy ‘n e-pos met jou wagwoord (of kodewoord). Gaan dan terug na die webblad toe, tik jou wagwoord in en kry so toegang tot jou spesifieke gids. Daarna kan jy elke maand (vanaf die 1ste) net jou wagwoord intik om toegang tot jou nuwe gids te verkry.
Loer ook gerus na die ander aanbiedinge op die webblad.
Gratis materiaal
Afrikaans.com huisves gratis materiaal vir laerskole en hoërskole soos verskaf deur Lapa se Skolespan. Klik hier, klik op Lapa vir Laerskool of Lapa vir Hoërskool om toegang tot studiegidse, klasgidsartikels, luistertoetse en PowerPoint-aanbiedings te kry.
Klaskameraad se webtuiste: Klik hier.