“Afrikaans is ons almal se taal!” sê Beverley Park Primêr in Eersterivier.

Tuis 5 Projekte 5 Muurprojek 5 “Afrikaans is ons almal se taal!” sê Beverley Park Primêr in Eersterivier.
Beverley Primer muurkuns

Skrywer: René Arendse

Die kleurvolle Afrikaans.com-muurkuns verwelkom nie net elke leerder, onderwyser en besoeker by Beverley Park Primêr nie, maar elkeen binne die gemeenskap wat verbyloop word gegroet deur die muur van hoop en inspirasie. Die boodskap is baie duidelik… dat ons elkeen enigiets kan bereik deur Afrikaans.

Beverley Primer muurkuns

“Waar anders kry jy so ‘n lekker taal met woorde soos kwagga, aitsa, piesang en blatjang? Hierdie muur moet julle elke dag herinner hoe kosbaar julle moedertaal is en dat julle al ons kultuurstories aan julle kinders ook moet oordra sodat ons taal nooit sal uitsterf nie.” – René Arendse, gemeenskapskoördineerder by Afrikaans.com.

In ‘n jaar met soveel uitdagings en vrese, was die onthullingsprogram by Beverley Park Primêr ‘n oomblik van vreugde en drome vir die graad 7-leerders wat hierdie spesiale program kon bywoon. Dié senior leerders glo vas dat as hulle groot droom en hard werk, hulle enigiets kan bereik deur hulle moedertaal Afrikaans.

“Afrikaans is koeksisters en kondensmelk. Afrikaans is nie ‘n velkleur nie. Dit is ‘n emosie, ‘n gevoel, ‘n leefwyse. Dít is ons almal se taal,” dra Chamealle October, ‘n graad 7-leerder, tydens die onthullingsprogram voor.

Mev. Hartley, die prinsipaal by Beverley Park Primêr, is in haar noppies met die pragtige muurkuns en dat haar leerders en die hele skoolgemeenskap inspirasie en hoop daarin sien. Dat die maatskaplike omstandighede ‘n groot uitdaging is, is daar geen twyfel aan nie, noem mev. Hartley. Wat sy wel weet is dat wanneer die leerders die skool betree, hulle in ‘n veilige hawe van opvoeding en omgee is en dat die skool geseënd is met die wonderlikste personeel en ondersteuning vanuit die gemeenskap.

Beverley Primer muurkuns

Die graad 7-leerders is trots op hulle muurkuns en hulle moedertaal.

Beverley Primer muurkuns

Celine van Nieting,’n graad 7-leerder, doen ‘n voordrag tydens die program.

Beverley Primer muurkuns

Die prinsipaal, mev. Hartley, verwelkom die gehoor by die onthullingsprogram.

Beverley Primer muurkuns

Die musikant en skrywer Frazer Barry inspireer en vermaak die leerders.

Beverley Primer muurkuns

Juffrou Welda Snell spreek die leerders toe tydens die onthullingsprogram.

Beverley Primer muurkuns

Frazer Barry saam met Chamealle October tydens haar voordrag.

Beverley Primer muurkuns

René Arendse herinner leerders daaraan om groot te droom en hard te werk.

Beverley Primer muurkuns

Links na regs – Mev. Hartley, Frazer Barry en René Arendse.

Beverley Primer muurkuns

Mev. Hartley, prinsipaal by Beverley Park Primêr, staan trots voor die vlerke van hul muurkuns.

by | Feb 12, 2021 | Muurprojek, Projekte

Deel hierdie plasing