Skrywer: Alita Steenkamp
Wanneer Merlyn van der Rheede aan jou vertel dat sy ʼn hele ruk gelede die titel van Susan Jeffers se topverkoperboek, Feel the Fear and Do It Anyway gekies het as die manier waarop sy die lewe aanpak, besef ʼn mens dadelik sy is nie iemand wat sit en wag op geleenthede nie. Merlyn, die Afrikaanse Taalraad se noordelike projekbestuurder, is aan die einde van verlede jaar verkies as addisionele lid van die uitvoerende komitee van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch. Merlyn sien hierdie aanstelling as ʼn gulde kans om soveel as moontlik geleenthede vir Afrikaanssprekende kinders afkomstig van die platteland, te ontsluit. Al lewe ons in ʼn meertalige gemeenskap, mag geen taal ten koste van ʼn kind se moedertaal as verhewe beskou word nie, reken sy.
“Natuurlik is dit wonderlik om soveel as moontlik tale te praat en te verstaan, maar dit mag nooit ten koste van die kind se moedertaal wees nie.
Ons moet kinders die geleentheid gee om in ʼn taal wat hulle verstaan, te studeer.”
“Baie mense huldig die standpunt dat Afrikaans mense uitsluit. Tog is dit ongelukkig so dat Engels ook uitsluit. Hoeveel plattelandse kinders sit in klasse en dan het hulle geen idee wat daar gesê word nie, want hulle verstaan nie Engels nie. Dis ʼn mite dat almal nou Engels magtig móét wees en daarom in Engels móét studeer. Natuurlik is dit wonderlik om soveel as moontlik tale te praat en te verstaan, maar dit mag nooit ten koste van die kind se moedertaal wees nie. Ek glo ons moet kinders wat in Afrikaanse gemeenskappe grootgeword het die geleentheid gee om in ʼn taal wat hulle verstaan, te studeer,” sê sy.
Merlyn en haar man, Christo van der Rheede, het sowat agt jaar gelede uit die Kaap na Pretoria verhuis toe daar ʼn nuwe loopbaangeleentheid vir Christo opgeduik het. Hy is tans die uitvoerende direkteur van Agri SA. Tot en met hulle verhuising na Pretoria was sy in die onderwys en die opleiding van onderwysers werksaam. Sy het nie dadelik in Pretoria begin werk nie, maar gou besef dat sy graag weer in ʼn beroep sal wil staan. Vir ʼn hele paar jaar het sy die bemarking van ʼn ingenieursfirma gedoen, maar toe daar ʼn pos as noordelike projekbestuurder vir die Afrikaanse Taalraad beskikbaar raak, het sy dadelik aansoek gedoen. Sy is in Maart 2019 in hierdie pos aangestel en was verheug oor hierdie nuwe geleentheid op haar pad.
Merlyn vertel dat sy in die Boland grootgeword het en skoolgegaan het op Worcester. Na skool het sy haar onderwysopleiding by die Bellville Kollege ontvang.
Met haar en Christo se verhuising na Pretoria het hulle twee kinders destyds in die Kaap agtergebly, sê sy. Hulle dogter Lucia was nog met haar onderwysstudies op Stellenbosch besig en Ryan, hulle seun, het aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Lucia het in haar ma se voetspore gevolg en is vandag ʼn onderwyser by Rondebosch Boys en Ryan is ʼn voltydse lid van die Kaapstadse Filharmoniese orkes.
“Ons het daardie tyd gespot en gesê ons trek nou maar Noorde toe om plek te maak vir die kinders. Al hou ons baie van Pretoria en sy goeie klimaat, sê ons altyd die Kaap bly maar ons hoofkantoor. Ek en Christo het ʼn vakansieplekkie op Yzerfontein en wanneer ons die geleentheid kry, is ons daar. Ons is albei besonder lief vir die buitelewe en daar is nog geleentheid om vrylik in die natuur rond te kan loop,” sê Merlyn.
Een van Merlyn se besondere kwaliteite, is die feit dat sy haar baie hard beywer vir vroueregte. “Een van die drome wat ek koester is om mense te kry wat as mentors vir jong meisies kan optree om seker te maak hulle gebruik hulle volle potensiaal. Baie jong meisies droom net van die ridder op die wit perd wat haar voete onder haar gaan uitslaan en dan gaan hulle lank en gelukkig saamleef. Daar is niks mee verkeerd nie, maar die boodskap wat ek graag vir jong meisies wil gee, is dat daar soveel meer is in die lewe as om net te trou en kinders te hê. Gaan studeer of kry een of ander vorm van opleiding, vind jou eie nis en sorg dat jy onafhanklik is sodat jy nie vir die res van jou lewe afhanklik van iemand anders moet wees nie. Ek hoop iemand wat baie geld het, en nie weet wat om met die geld te maak nie, kan so ʼn mentorskapprojek vir ons befonds. Sal dit nie wonderlik wees nie?”
’n Hart vir Afrikaans
Afrikaans lê haar besonder na aan die hart. “Afrikaans is deel van my identiteit, dit is wie ek is. Dis my familietaal en ook die taal van my voorouers. Wat Afrikaans so besonders maak, is dat die taal gevorm is deur ʼn diverse groep mense vanuit alle gemeenskappe en rasse. Ons lewe in ʼn meertalige land waar ons mense aanmoedig om meer as een taal baas te raak of aan te leer, maar ek sal nie wil sien dat dit ten koste van ʼn moedertaal gebeur nie. Maak nie saak of jou moedertaal Afrikaans, Xhosa of Zoeloe is nie. Ek glo beide ek en Christo is voorbeelde van mense wat in ons moedertaal studeer het, maar ewe goed by die werk in ʼn Engelse omgewing kon aanpas. Dit juis omdat ons grondslag stewig gelê is in ons moedertaal.”
Wanneer die verlange na die kinders en die Kaap te veel word, gebruik sy en Christo die geleentheid om iewers in die buitelug te wees. Pretoria het ʼn hele paar heerlike staproetes in natuurreservate in hulle onmiddellike omgewing. Sy lag en sê sy was altyd baie lief om in die gimnasium te gaan oefen, maar nou met die pandemie wat oor almal se skouers loer, stap sy maar soggens om die blok. Merlyn en Christo is ook besonder lief vir die klassieke kunste en woon graag simfonie- en balletuitvoerings by. Hopelik sal dit binnekort weer moontlik wees vir ons om sulke geleenthede by te woon, sê sy, maar vir nou ondersteun hulle wel die kunste deur aanlyn vertonings te kyk.

As ʼn mens luister na die suksesvolle projekte waarby sy al by die Taalraad betrokke was, is dit duidelik dat Merlyn van der Rheede nie hou van agteroorsit nie. “As ʼn mens ʼn geleentheid kry, moet jy dit aangryp, selfs al wonder jy hoe jy dit gaan regkry. Baie keer het ek al voor so ʼn situasie te staan gekom wanneer iemand my vra om iets te doen, maar ek het nie ʼn idee hoe ek dit gaan regkry nie. In so ʼn geval herinner ek myself maar altyd aan die woorde: Jy mag bang wees, maar moenie huiwer nie, doen dit in elk geval. Gelukkig was dit nog nooit vir my nodig om oor ʼn geleentheid wat ek op hierdie manier aangegryp het, spyt te wees nie.”