Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Nou ja, graad 12 soos waaraan ons tot voor 2020 gewoond was, is skynbaar steeds nie vanjaar ons matriekleerders beskore nie. Nie net is dit jou kind se laaste skooljaar voordat hy/sy die grootmenswêreld moet aanpak nie, dit is ook emosioneel uitdagend. Agter daardie “ek is mos mooi groot”-houding, skuil daar steeds ’n onseker jongmens wat baie vrae het oor die toekoms. Ouers se rol is nou nog meer empaties en ondersteunend. Kry dus jou A-span bymekaar om jou kind deur die jaar te kry.
So ook is depressie en angs onder ons kinders ’n werklikheid en is dit iets wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Wees bedag op jou kind se gedrag en tree daadwerklik op as jy onraad vermoed. Neem jou kind dokter toe en/of maak ’n afspraak by ’n sielkundige.
Hoe weet ek my kind is depressief?
Die meeste tieners wat aan depressie ly, openbaar sekere veranderinge in gedrag. Hier is ’n paar riglyne, maar dit verskil natuurlik van mens tot mens.
- Jou kind is skielik meer emosioneel as gewoonlik. Dit sluit woedebuie, irritasie, hartseer en moedeloosheid in.
- Slaappatrone verander. Skielik slaap jou kind sleg of aanmekaar.
- Eetlus neem af en jou kind verloor gewig, of indien hy/sy ’n emosionele eter is, tel hy/sy gewig op.
- Niks is meer lekker nie en jou kind verloor dikwels belangstelling in sport of aktiwiteite waaroor hy/sy vroeër gaande was.
- Sosiale onttrekking. Hy/sy het nie lus vir gesels of kuier nie en is traag om iets te doen.
- Tieners is gewoonlik baie gesteld op hulle voorkoms, maar jou depressiewe kind gee nie meer regtig om hoe hy/sy lyk nie en stel ook nie belang in kleredrag nie.
- Jou kind raak angstig en gespanne en kry self soms paniekaanvalle.
- Negatiewe gedagtes neem oor en hy/sy wil nie na raad luister nie.
- Swak konsentrasie. Dit kan skoolwerk beïnvloed.
- Jou kind voel nikswerd en ’n mislukking.
- Selfdoodgedagtes en selfbesering (sny hulself).
Wat kan lei tot depressie?
Die presiese oorsaak van depressie is nie duidelik nie. Stres, groepsdruk, boeliery, onsekerheid oor die toekoms, huislike omstandighede, mishandeling, of as ouers te veel druk op hulle kind plaas om te presteer, kan alles ’n bydrae lewer.
Depressie kan ook oorerflik wees wat dan ’n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak. Voeg hierby hormone, sekere siektetoestande en moontlike dwelmmisbruik en jy het die ideale omstandighede vir depressie.
Matige depressie kan gewoonlik behandel word deur berading en soms ook medikasie. Indien jou kind wel op medikasie is, is dit belangrik om hom/haar te monitor en as jy onseker is of die pille werk, gaan terug dokter toe. Dit neem soms ’n rukkie om die regte medikasie en/of dosis te bepaal.
Wat kan help?
Natuurlik is die inwin van professionele hulp die belangrikste, en om die behandeling wat voorgeskryf word, streng te volg, maar let ook op na die volgende:
- ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Daarom is gesonder kos, genoeg slaap en gereelde oefening noodsaaklik.
- Moedig jou kind aan om oor sy/haar gevoelens en vrese te praat – dalk nie met jou nie, maar met iemand wat hy/sy vertrou.
- Moedig jou kind aan om ’n dagboek te hou en sy gedagtes neer te skryf.
- Die heel belangrikste: Gee jou kind nou meer as ooit liefde en aanvaarding. Jou kind wil nie voel of hy/sy veroordeel word nie.
Sterkte met jou ontluikende grootmens. Dit is hoekom daar haarkleursel is – want grys voor jou tyd gaan hulle jou maak – dis vir seker!