Swierig geveer, gedos, gepof en getooi het Koer, die eerste Afrikaanse vlerksleeptoepassing wat in Junie 2020 geloods is, homself reeds by talle Afrikaanssprekendes wêreldwyd gevestig as die middel van keuse vir liefde soek, vriendskappe vind, en geselsies aanknoop. Soveel so dat Koer sedert sy bekendstelling reeds in Desember die 10 000 gebruikerstal (nou 12 000!) verbygesteek het. Dit blyk dus duidelik dat die gesegde op almal se lippe in plaas van Karin en Francois se ‘’Toe vind ek jou’’ eerder ‘’toep vind ek jou’’ moet wees – soos op Koer se bemarkingsmateriaal aangedui word.
Maar, wat beteken 12 000 gebruikers prakties? En hoeveel van daardie gebruikers het reeds hul pot se deksels te danke aan die toepassing gevind? Die kernspan getuig van honderde boodskappe en e-posse van verhoudings wat danksy Koer ontstaan het. Ons het by twee van dié paartjies gaan inloer, en ook met medestigter van die onderneming, Armand Aucamp, gesels.
Ontmoet die paartjies …
en leer uit hul uiteenlopende benaderings tot aanlyn (piet my) vrou (en man) soek …
Rentia en Wim – ‘’Ontmoet mekaar so gou moontlik!’’
Ons eerste draai is by Wim en Rentia wat mekaar vroeg Desember op die toepassing raakgekoer het. Wim deel dat hy vroeër in sy lewe deur ’n egskeiding is en begin aanvaar het dat sy lot alleenheid sou wees. Aangemoedig deur sy seun het hy egter besluit om die liefde ’n laaste kans te gee. Daar voeg hy by dat mense ook nie sommer met die eerste gebruik of eerste gesels moet moed opgee nie … Rentia se profiel sou eers later oor sy skerm kom. ‘’Uit nuuskierigheid het ek besluit om te kyk wat is daar buite!’’ lag Rentia. Sy voeg dan by dat Wim se profiel dadelik vir haar aanloklik was. Aangesien hul boonop ’n gemeenskaplike vriendin deel, het die twee besluit om vroeër eerder as later te ontmoet. ‘’Dit is maklik om anders per teksboodskap voor te kom as in die werklike lewe. Daarom moedig ons mense aan om sommer vinnig daardie koffie te reël,’’ verduidelik Wim. Hy voeg by dat dit natuurlik in ’n veilige en openbare plek moet geskied en dat ’n vriend of familielid ingelig moet word oor waarheen jy gaan en saam met wie. Op die vraag oor wat die toekoms inhou, glimlag die twee breed. Ons vat dit dag vir dag, maar het net nou-nou vir mekaar gesê dat ons nie langer ’n lewe sonder die ander een kan indink nie.’’
Mike en Marelize – ‘’Kyk die kat eers goed uit die boom!’’
Een van ons gunstelingfunksies op die toep is die feit dat dit wêreldwyd afgelaai kan word … Ons volgende besoek neem ons dus na Centurion … en Argentinië! Mike en Marelize, beide geoktrooieerde rekenmeesters, het mekaar sedert Augustus telefonies leer ken, terwyl Marelize te midde van die covid-19-pandemie vir ’n terugkeervlug uit Suid-Amerika gewag het. ‘’Ek was aanvanklik goed skepties oor Mike!’’ spot sy. ‘’Hy is een van daardie mense wat nie ’n foto van homself op sy whatsapp-profiel het nie – altyd eerder ’n landskap of so. Maar ons het so lekker gepraat.’’ Toe hul uiteindelik in Oktober met Marelize se terugkoms ontmoet, was dit vinnig duidelik dat dié twee land en sand kan gesels, hetsy oor ’n skerm of oor ’n koppie koffie. Die res, soos Mike sê, is geskiedenis. En oor die toekoms? Hulle kan nie wag om ook saam te gaan reis nie … en natuurlik is Argentinië heelbo aan die lys!
Wat die toepassing betref, sien Armand en sy span uit om voort te gaan met die uitbreiding van die Koerwoud. ‘’20 000 en 100 000 mense, hier kom ons!’’ Noudat die toep bykans 12 000 gebruikers het, is die keur van persone in alle dorpe en stede landswyd ook voortdurend aan die toeneem. Aangesien elke gebruiker sy voorkeure in terme van kilometer-radiusse en so meer kan kies, besluit elkeen self hoe wyd hulle hul net wil gooi. Die verbruikersprofiele op Koer is ook van so ’n aard dat daar iemand vir elke smaak en ouderdom is. Die toepassing is nou wêreldwyd en gratis aflaaibaar … vat ’n kans op die liefde en kom koer saam!
Laai die toep af, klik hier!
Het jy geweet Koer bied opwindende bemarkingsgeleenthede? Stuur ’n e-pos aan info@koer.co.za vir meer inligting.