Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Dit is weer daardie tyd van die jaar waar Suid-Afrikaners vasgenael op die punte van hul rusbanke sit om van ons land se mees hubare boere se soeke na liefde te volg. Die immergewilde reeks Boer Soek ’n Vrou skop op 21 Januarie 2021 af en beloof weereens om kykgenot uit die boonste rakke te verskaf. Vanjaar verwelkom die reeks nie net tien nuwe boere nie, maar ook ’n splinternuwe aanbieder – die internasionale model, aktrise en motiveringspreker, Marciel Hopkins.
Alhoewel Marciel reeds diep spore in die modelindustrie getrap het, is dit haar eerste keer voor die kamera in die rol as aanbieder. “Boer Soek ‘n Vrou was ‘n wonderlike uitdaging vir my as ‘n first-timer as dit kom by TV-aanbieding. Ek het nog nie vantevore aanbiedingswerk gedoen nie, so ek het by die diep kant ingespring en moes vinnig leer swem. Die ervaring was verrykend en het my wêreld verbreed. Die grootste ding wat ek in die proses geleer het, was om my eie stem as Boer Soek ‘n Vrou-aanbieder te vind en om selfversekerd daarin te wees,” sê Marciel.
Marciel meen hoewel daar baie uitdagings rakende die covid-19-beperkinge was, het die boere en deelnemers steeds alles ingesit om liefde te vind. “Baie uitdagings is oorkom met die dra van maskers as die kameras nie rol nie en om sover as moontlik ’n sosiale afstand te handhaaf. Die persone wat agter die skerms werk, het te alle tye maskers gedra. As jy ernstig is oor die liefde, oorkom jy enige uitdagings om iemand werklik te leer ken. So, ek glo die boere én dames het steeds alles ingesit om die liefde ‘n regverdige kans te gee, ongeag die streng maatreëls waaronder ons geskiet het. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!”



Marciel self is nie ’n vreemdeling vir die plaaslewe nie. Sy het haar “sorgvrye, kaalvoet”-kinderjare op ’n plaas buite Franschhoek deurgebring waar haar pa as wynmaker gewerk het. Na skool het die verhoog geroep en het Marciel by die dramadepartement van die Universiteit Stellenbosch aangesluit waar sy in 2014 haar graad verwerf het. “Daarna het ek my honneursgraad in sielkunde in 2015 voltooi terwyl ek primaria van my dameskoshuis Huis ten Bosch was.”
Vir Marciel was modelwerk en toneelspel reeds van kleins af ’n integrale deel van haar lewe. “Ek het altyd gedroom om ’n model of aktrise te wees, maar het ook geglo ek sal nie mooi en maer genoeg wees nie. Toe ek in 2016 as Mej. Suid-Afrika-finalis gekies is (nadat ek 14 kg in vier maande verloor het), het alles vir my verander in terme van my selfvertroue en deursettingsvermoë om my drome te laat waar word.”
Haar Mej. Suid-Afrika-reis was nie alleenlik ’n keerpunt in haar loopbaan nie, maar het haar ook geïnspireer om liggaamspositiwiteit by ander te kweek en die boodskap van selfliefde uit te dra. Dit is ook hierdie boodskap wat haar ’n inspirasie vir ander jongmense maak wat op die drumpel staan om die sogenaamde “regte wêreld” te betree.
“Wees aan die stuur van jou loopbaan en neem ten alle tye beheer van dit wat jy wil laat gebeur. Maak bold besluite en hou daarby. Droom groot en wees pro-aktief daarin om dinge te laat gebeur. Hê baie deursettingsvermoë en weet nou al daar gaan baie teleurstellings op die pad na sukses wees. Dit is nodig, so leer daaruit en stap sterker aan die ander kant uit.”
Marciel is optimisties oor die blink toekoms wat op haar wag. “[Ek sal graag] nóg meer toneel wil speel en rolle wil vertolk wat inspireer en my as aktrise uitdaag.”
Hoewel Boer Soek ’n Vrou ander persone se soeke na liefde volg, is die groot vraag op almal se lippe: Het Marciel reeds liefde gevind?
Ja! Marciel het haar tweede helfte in Handré Lourens gevind aan wie sy ook verlede jaar verloof geraak het. Haar ander groot liefdes sluit ook haar werk en natuurlik haar twee aangenome katte, Korsie en Krummels, in.
Skakel in op kykNET, kanaal 144 op Donderdag, 21 Januarie 2021 om 20:00 vir die eerste episode van Boer Soek ’n Vrou.
Afrikaans.com het ook by Lisa met die rooi hare gaan inloer om uit te vind wat sy van ons die top-10-boere maak. Kyk hier.